Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gesin verwerp boer nie omdat hy gay is, sê dogter
Elouise van der Linden.Foto: Facebook

Frans van der Linden se familie het nié hul bande met hom verbreek omdat hy gay is en verhoudings oor rasgrense heen het nie, maar omdat hy sy familie “vernietig en hulle baie pyn besorg het”.

So skryf Elouise van der Linden (21), sy dogter, op haar Facebook-muur. Sy het gereageer op ’n berig Woensdag waarin haar pa vertel het sy familie het hom verwerp nadat hy uit die kas geklim het. Hy het in die Biesiesvlei-omgewing in Noordwes geboer. Hy werk nou as aandelemakelaar en woon in Mahikeng.

Van der Linden sê hy het oop kaarte met sy familie gespeel nadat Mpho Gift Noko, ’n vriend by wie hy seksueel betrokke was, hom in April 2016 in die arm en been geskiet het. Noko is verlede week tot ses jaar tronkstraf gevonnis weens poging tot moord.

Elouise vra op haar Facebook-blad dat mense nie oordeel nie. “Ons het ’n man, pa, ons huis, sekuriteit en geloof in hom verloor omdat hy nooit daar vir ons was wanneer ons hom nodig gehad het nie. Ons kon nie toekyk hoe ons superhero-pa verander in ’n onbetroubare pa wat sê hy is al een wat seerkry nie. Hy het gesê ons is nie daar vir hom nie. Ons het besluit dis beter om nie kontak met hom te hê nie, want alles is altyd iemand anders se skuld.”

Elouise skryf sy was in haar kinderjare baie geheg aan haar pa en dat sy tot middernag gewag het dat hy huis toe kom om saam met hom koekies en kondensmelk te eet. Die gesin het toe nog in Pretoria gewoon. “Hy het altyd hard gewerk om aan ons te voorsien en ek is dankbaar daarvoor. Hy het by die kerk gepreek en was daar in die orkes.”

Elouise skryf sy het later begin sien haar ma lyk hartseer, dat haar pa saans gereelder laat tuis kom en vreemd ruik. “My pa het gereeld uitgegaan om vir mense te bid. Toe ons op die familieplaas in Biesiesvlei gaan woon het, het my pa ook gereeld saam met die plaaswerkers gaan bid.”

Frans van der Linden.Foto: Verskaf

Elouise skryf haar pa het verskeie kere vergeet om haar by die skool te gaan oplaai. “Ek was so skaam daaroor dat ek onder die bus se sitplek weggekruip, later by die agterste venster uitgeklim het en na die naaste plaashuis is. Daar het ’n ou tannie my pa gebel om my te kom haal.”

Elouise sê haar ma het eendag emosioneel geknak en haar vertel haar pa sien ander mans. “Sy het gesê hy kan haar nie eens snags vashou nie omdat dit ‘nie reg voel nie’.”

Frans en sy vrou is in 2014 geskei. “My pa het my ma die skuld vir die egskeiding gegee.”

Elouise skryf toe haar pa homself kort voor die skietvoorval in 2016 om die lewe probeer bring het met ’n oordosis medisyne, het sy afgekom op ’n selfdoodbrief wat hy vir ’n plaaswerker geskryf het. “Hy het geskryf hy is lief vir hom en kan nie sonder hom leef nie. Die plaaswerker het my daarna vertel my pa wou orale seks met hom hê en dat hy bang was hy sou sy werk verloor indien hy dit nie doen nie. Volgens hom het hy kort voor die selfdoodpoging vir my pa gesê hy kan nie meer orale seks met hom hê nie.”

Elouise beweer ook haar pa het nadat hy (in 2014) van haar ma geskei is, nie die egskeidingsooreenkoms nagekom nie en geld op vakansies, alkohol en partytjies verkwis.

Lees Elouise se volledige brief hier

Frans reageer

* “Die suggestie dat ek by mans was toe ek gaan bid het en Elouise nie by die skool gaan haal het nie, is onwaar. Ek kan nie onthou dat ek dalk by geleentheid laat was of vergeet het om haar te gaan haal nie, maar Elouise het ’n selfoon gehad. Sy kon net gebel het.”

* “Ek en die plaaswerker was wedersyds vrywillig in ’n verhouding en het dit lank voor die selfdoodpoging stopgesit. Hy is nooit gedreig dat hy sy werk sou verloor nie. Dis jammer Elouise skryf niks oor die mooi selfdoodbriewe wat ek vir haar en my seun geskryf het nie.”

* “Dis nie waar dat ek ander die skuld gee nie. Ek het verskeie selfdoodpogings aangewend omdat ek ontsettend skuldig gevoel het en depressief was omdat my familie so seergekry het. My eksvrou is ’n wonderlike mens; sy was 25 jaar lank my beste vriendin. Dit het my gebreek om haar te verloor. Ek het hulle om vergifnis gevra en vergeefs versoeningsgesprekke, selfs met die hulp van ’n sielkundige, probeer bewerkstellig.”

* “Ek betaal elke maand ’n enorme bedrag onderhoud aan my eksvrou; dis nie waar dat ek nie die egskeidingsooreenkoms nakom nie en geld op partytjies verkwis. Ek leef ’n eenvoudige lewe in ’n laeklaswoonbuurt in Mahikeng.”

* “Ek het grondige redes om te glo homofobie en rassisme speel ’n groot rol in my familie se verwerping, maar ek gaan nie meer daaroor sê nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.