Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gesin wag op jong vrou onwetend van ongeluk

Die oud-Bloemfonteiner Jomaré Piek (22) se gesin het Saterdag reeds in Parys vir ’n gesinsdag op haar gewag, toe sy naby die dorp verongeluk het.

Piek, oudleerling van die Hoërskool Jim Fouché en alumna van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se hotelskool, sou die dag saam met haar gesin in Parys deurbring en dan saam met hulle na die Rosestad terugkeer, waar sy haar van die Laeveld sou hervestig.

Ronel Piek, haar ma, sê sy het Saterdag omstreeks 11:40 ’n oproep ontvang dat haar dogter haar motor op die N1 sowat 40 km buite Parys gerol het. Die familie is nog onseker hoe die ongeluk op dié reguit stuk pad gebeur het.

“Dis vir ons bitter moeilik, want ons weet nie hoekom die kar gerol het nie.”

Piek het Vrydag haar laaste dag as ontvangsdame by die Sabi Sabi Bush Lodge gewerk waar sy die afgelope jaar in diens was en sou weer in Bloemfontein kom woon.

Jomaré Piek (22) Foto: Facebook/Jomaré Piek
Jomaré Piek het Saterdag in die Parys-omgewing verongeluk. Foto: Facebook/Jomaré Piek

“Ons sou toe nou net ’n bietjie deur die winkeltjies loop en die jaar goed begin,” vertel Ronel oor hul beplande dag in Parys.

Haar dogter was ’n borrelende sonskynkind wat voluit geleef het en niemand op haar laat trap het nie. Sy was georganiseerd, liefdevol en het nie ’n moordkuil van haar hart gemaak nie.

Sy het altyd vir ander opgestaan, veral haar jonger broer, Dihan (20), wat op die outismespektrum is, sê Ronel.

“Sy was verskriklik lief vir diere en het natuurlik met die gasvryheidsbestuur die lekkerste kos gemaak.”

Ma en dogter was baie na aan mekaar en het daagliks, soveel as vier keer telefonies gepraat. Piek laat ook haar pa, Deon, agter.

Meegevoel aan haar familie is onder meer op die hotelskool se Facebook-blad vir alumni en die Facebook-groep Sabi Crew betuig.

Reëlings vir ’n gedenkdiens is nog nie bevestig nie.

Meer oor:  Hoërskool Jim Fouché  |  Parys  |  Botsing  |  Sterf  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.