Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geskeide paartjie in ware katgeveg

Watwou “roerende bate”!

Persianna Delphine, oftewel Buffy, is “die liefde van sy lewe” oor wie se welsyn ’n Durbanse prokureur tot in die hof baklei.

Buffy die langhaarkat oor wie se welsyn in die hof baklei word.

“Ek het ’n geboortedefek wat meebring dat ek nie kinders kan hê nie,” het Mark Leathers aan Rapport gesê.

Daarom is Buffy, ’n 13 jaar oue binnenshuise Chinchilla-Persiese kat, die “naaste aan ’n menslike kind” vir hom.

Selfs sy vliegtuig is na die kat “vernoem” met die registrasienaam ZU-BUF.

“Ek gaan ’n geding instel (in die hof) om my egskeidingsooreenkoms te laat wysig om voorsiening te maak vir Buffy se versorging in die toekoms,” het Leath­ers gesê.

Buffy woon by Leathers se eks, Lisa Vissers-Leathers, wat in die lugvaartbedryf werk.

Hy gaan die hooggeregshof in Durban vra dat hy na die kat mag kyk wanneer Lisa nie kan nie. “Dit sal die eerste prys wees.”

Die alternatief is dat Lisa se suster in haar afwesigheid na die kat omsien.

Mark Leathers Foto: maclaw.co.za
Lisa Vissers-Leathers Foto: LinkedIn

Leathers wou in April ’n dringende hofbevel bekom om Lisa te verbied om Buffy vir drie dae in ’n kathotel te laat bly.

Die hooggeregshof het sy aansoek van die rol geskrap omdat dit nie aan die vereistes vir dringendheid voldoen het nie.

Leathers het ná sy hofnederlaag op Facebook gesê Buffy “is die liefde van my lewe”.

Volgens hom het hy “met ’n bietjie speurwerk” vasgestel watter hotel dit is. Die kat sou verlede Saterdag daarheen gaan.

Hy het die hotel gebel en gesê as daar enige probleme sou wees, “ek woon naby”.

Die hotel het hom toe laat weet Buffy kom nie meer soontoe nie. Lisa se suster het na haar gaan omsien.

Leathers het in sy hofaansoek gesê hy gaan kuier by Buffy sedert hy en Lisa laas jaar uitmekaar is.

Toe hulle nog getroud was, het hulle besluit om die babakat te kry. “Ek is die een wat na elk van haar giere omgesien het, gesorg het dat sy ontbyt gekry het wanneer sy dit om 04:00 elke dag wou hê . . .”

Hy het met die kat gesit en speel en “konstant nuwe speelgoed uitgesoek”.

Volgens hom was hy die kat se primêre versorger totdat hy uit die huis getrek het.

Hy wou nie hê dat Lisa die bejaarde kat in ’n vreemde omgewing sit “met vreemde mense wat nie haar roetine ken nie . . .”

Hy vrees sy kan uit ’n kathotel ontsnap, ’n ander kat sal haar aanval of sy sal siek word in ’n vreemde omgewing of naby ander diere.

Buffy hou byvoorbeeld daarvan om uit die kombuiskraan water te drink. ’n Hotel sal stres en angs veroorsaak, “wat heeltemal onnodig is wanneer ek beskikbaar en gewillig is om na my ‘kind’ te kyk”.

Hy bied aan om óf by sy eie huis óf by Lisa s’n na Buffy om te sien.

Lisa het egter in haar hofstukke gesê dis sý wat besluit het om die kat te kry.

Sy het ’n bewys by die hof ingedien dat sy die kat gekoop en vir haar betaal het.

“Dit was inderdaad my idee om die vliegtuig na Buffy te vernoem.”

Hoewel die kat se geregistreerde naam by die Katfederasie van Suider-Afrika Persianna Delphine is, het hulle saam besluit om haar Buffy te noem.

“Buffy is my kat en hoewel sy geheg kon raak aan (Leathers), was daar nooit enige twyfel dat sy my kat sou bly nie.”

Omdat sy en Leathers in Februarie laas jaar uitmekaar is, is “enige gehegtheid wat oorgebly het, oppervlakkig”. “Katte is lewenskragtig (resilient) en kan goed aanpas solank die primêre figuur vir haar permanent teenwoordig is.”

Die band tussen haar en die kat het die afgelope jaar “sterker as ooit tevore geword, met ’n roetine en huislewe waaraan ons albei gewoond geraak het”.

Sy sê Leathers woon in ’n kompleks wat nie diere toelaat nie. Dis nie “realisties” dat hy vir die kat wil sorg nie.

Sy is nie verplig om hom van haar vakansies of reise in kennis te stel nie. Sy hoef nie vir hom te sê na watter hotel sy die kat neem nie.

Sy moet ’n alternatiewe plan hê vir wanneer sy vir ’n paar dae nie tuis is nie. “Ek kan nie op (Leathers) steun om altyd beskikbaar te wees nie. Hy reis konstant oorsee na sy eiendomme in Portugal, Frankryk, Thailand, die Verenigde Koninkryk en Dubai.”

Lisa het aangevoer Leathers het haar op 28 Maart met die hof­aansoek gedreig, maar hy het die aansoek eers op 19 April ingestel.

Dus is dit duidelik die saak is nie dringend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.