Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geslagsgeweld: ‘Geld moet organisasies op voetsoolvlak bereik’

As die geld wat ingesamel word vir ’n fonds nie die aktiviste op voetsoolvlak bereik wat daagliks met die slagoffers van geslagsgeweld en moorde op vroue en kinders te doen het nie, beteken dit niks.

Daarom moet daar ontslae geraak word van die burokrasie wat dit uiters moeilik vir sulke organisasies maak om enige regeringsfondse wat daarvoor beskikbaar is, te bekom, sê Mbuyiselo Botha, bekende genderaktivis en kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid.

Botha het Vrydag so gereageer nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in sy staatsrede gesê het dat die regering verlede week ’n reaksiefonds, wat deur die privaat sektor gelei word, vir geslagsgeweld en moorde op vroue en kinders op die been gebring het.

Plaaslike maatskappye en internasionale filantrope het glo reeds R128 miljoen daarvoor belowe.

Ramaphosa het bygevoeg dat die regering oor die volgende drie jaar ook R12 miljard sal toeken om die verskeie komponente van die nasionale strategiese plan teen geslagsgeweld en moorde op vroue en kinders te implementeer.

“Geslagsgeweld sal net eindig as elkeen verantwoordelikheid neem vir dit wat in hul huise, gemeenskappe, werksplekke, plekke van aanbidding en skole gebeur,” het Ramaphosa gesê.

Mbuyiselo Botha

Volgens Botha verwelkom hy die aankondiging oor die fonds wat gestig is, “maar die belofte moet verder as dit strek en die geld moet die organisasies op grondvlak bereik wat dit benodig om hul programme teen geslagsgeweld te kan uitvoer”.

“Hierdie aktiviste doen werk waarby die regering nie uitkom nie omdat hulle op grondvlak is en presies weet wat die slagoffers se ervarings is.

“Dit is daarom belangrik dat alle hindernisse wat hulle verhoed om regeringsfondse te bekom, uit die weg geruim word. Talle organisasies moes reeds hul deure sluit weens ’n gebrek aan fondse omdat die geld wat die regering vir hulle geoormerk het, hulle nie bereik nie.”

Botha sê die privaat sektor moet ook baie meer doen as om net skenkings te gee. Hulle moet ook hul werknemers bewus maak om deur die hele jaar by die stryd teen geslagsgeweld betrokke te wees.

Intussen het Mandisa Khanyile, direkteur van die organisasie Rise Up Against Gender-Based Violence en woordvoerder van die Call to Action Collective, wat sowat 75 organisasies teen geslagsgeweld landwyd verteenwoordig, Vrydag ook die fonds verwelkom.

“Ons is net ongemaklik daaroor dat ’n tussentydse direksie vir die fonds reeds aangestel is met net verteenwoordigers van die private sektor wat daarin dien.

“Hulle beweer dat hulle binne die volgende paar weke met ons as verteenwoordigers van die burgerlike samelewing daaroor sal konsulteer.

“Ons as die Call to Action Collective wil egter iets soortgelyk as die geslagsgeweldberaad wat vroeër gehou is, in elke provinsie hou om daar te bepaal hoe die fonds daarna moet uitsien en hoe dit bestuur moet word.”

Volgens Khanyile is dit weens die druk en optogte van burgerlike organisasies landwyd dat daar nou so ’n groot fokus deur die regering en private sektor op geslagsgeweld geplaas word. “Ons is bly oor die fonds en wil met almal saamwerk, maar wil ook deel wees van die besluitnemingsprosesse.”

Meer oor:  Moord  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.