Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Gesonde, gelukkige kind’ glo deur kragkabel doodgeskok

Toe ’n agtjarige seun die naweek sy huis in ’n informele nedersetting in Despatch verlaat, was hy “gesond en gelukkig”.

’n Paar uur later is sy lyk uit die bosse gedra, waar hy glo doodgeskok is.

’n Oop kragkabel wat weens ’n onwettige kragverbinding in die Winnie- informele nedersetting in Oroveni-straat aangelê is, het na bewering tot Chuma Mdayi (8) se dood gelei.

“Dit is die eerste keer dat hy so ver weg van die huis af gaan speel het. Al wat ek weet, is hy het die huis sterk, gesond en gelukkig verlaat. Net ’n paar uur later is hy dood,” het Liziwe Sibani, Chuma se ouma, in hul huis in die Kingstown- informele nedersetting net duskant Winnie gesê.

Netwerk24 het vroeër berig die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat die seun Saterdag omstreeks 16:00 dood is. Luidens ’n polisieverklaring het gemeenskapslede in die gebied ’n gil gehoor en gesien hoe ’n kind uit die bosse hardloop. Volgens dié kind is Chuma geskok deur ’n oop draad wat op die grond gelê het.

Die oorlede Chuma Mdayi (8). Foto: Verskaf

Gemeenskapslede het die seun inderhaas na ’n plaaslike hospitaal geneem, maar hy is met sy aankoms dood verklaar.

Onwettige verbindings

Tydens Netwerk24 se besoek aan die gebied is drade vir onwettige kragverbindings oor bykans elke tweede straat in Winnie gesien. Waar laste in die kragkabels aangebring is, is die draad op ’n klip gesit met ’n plastieksak om die las gebind.

Volgens Sibani het verskeie beeste en varke al gevrek wanneer hulle op ’n oop kragkabel in die pad trap.

“Die mense het lankal gesê die verbindings gaan meer as diere seermaak, en nou het dit, want niemand wou iets aan die situasie doen nie,” het Sibani gesê.

Van die onwettige kragverbindings wat in die Winnie- informele nedersetting by Despatch gesien is, skaars 50 m van waar Chuma Mdayi die naweek blykbaar deur ’n oop kragdraad doodgeskok is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die rioolstelsel en geteerde paaie in die Winnie-gebied dui daarop dat die gebied reeds geoormerk is vir behuisingsprojekte. Plakkershutte met onwettige kragverbindings word fluks langs die geteerde paaie aangebou.

’n Man wat na bewering die onwettige kragverbinding aangelê het waaraan Chuma gevat het, het aan Netwerk24 erken hy maak die onwettige verbindings uit sy kragboks in Kingstown na omliggende huise.

Vir “nuwe” verbindings vra hy R200 en daarna R50 per maand vir die kragverbruik. Hy het tans agt huise aan wie hy krag verskaf.

Die gemeenskap het teen Dinsdag glo reeds sy plakkershut afgebreek en geëis dat hy vir die kos, bus en kruis tydens Chuma se begrafnis Saterdag moet betaal.

“Ek het die mense wat sukkel probeer help met krag. Maar nou weet ek nie meer nie. Ek weet ook nie of ek genoeg geld gaan hê om vir die begrafnis te betaal nie,” het die man gesê.

Munisipaliteit se hulp gevra

Past. Isaac Afrika, ook ’n inwoner van Kingstown, sê hy het sedert Februarie verskeie kere die munisipaliteit se hulp gevra met die onwettige kragverbindings en mense wat aan kragbokse peuter.

Afrika sê hy moet maandeliks R800 se elektrisiteit aankoop, terwyl hy nie ’n geiser of elektriese stoof besit nie. Hy vermoed die onwettige verbindings in die gebied stoot sy kragverbruik op.

“Dit is ’n hartseer situasie. Ek kan verstaan die mense wil elektrisiteit hê, maar ek kan ook nie die optrede goedpraat nie. Die munisipaliteit moet sy kant bring en nie eers luister nadat iemand dood is nie.”

Frans Swanepoel, ’n plaaslike DA-raadslid, wys waar Chuma Mdayi die afgelope naweek glo aan ’n oop kragkabel geraak het. Die kragkabel is intussen verwyder. Foto: Cara-Lee Dorfling

Frans Swanepoel, ’n DA-raadslid in die gebied, het tydens sy besoek aan Chuma se familie ook gesê die munisipaliteit sal daadwerklik moet optree om die onwettige kragverbindings te verwyder deur die behuisingsprojekte te bespoedig.

“Die voorbereidingswerk vir die bou van huise is gedoen. Die behuisingsprojekte moet nou net aan die gang kom, want dit sal verseker die onwettige kragverbindings word verwyder terwyl die infrastruktuur en huise aangebring word.”

Benewens die lewensgevaarlike situasie wat onwettige verbindings inhou, bestaan die risiko vir ’n ontploffing by ’n substasie wanneer dit met kragverbindings oorlaai word, het Swanepoel bygevoeg.

Sibani het ook gesê die munisipaliteit moet al die onwettige kragverbindings in die gebied verwyder, “sodat ander families dié hartseer gespaar word”.

Volgens Mamela Ndamase, woordvoerder van die Nelson Mandelabaai-metro, is die metro bewus van Chuma se dood en sal die voorval ondersoek word.

“Pogings is aangewend om die onwettige verbindings te ontkoppel. Maar wanneer die (metro) die verbindings verwyder, word die onwettige verbindings weer gekoppel sodra die (metro) die gebied verlaat.”

Sy waarsku dat enigeen wat onwettige kragverbindings aanlê, verskeie wette en munisipale verordeninge oortree, wat hulle aanspreeklik maak vir vervolging. Enigeen wat elektrisiteit aan ’n derde party verkoop sonder magtiging of ’n lisensie, kan ook vervolg word.

Intussen doen die metro verskeie opvoedingsprogramme waardeur inwoners oor die gevare van onwettige kragverbindings ingelig word.

Pogings is aangewend om die onwettige verbindings te ontkoppel. Maar wanneer die (metro) die verbindings verwyder, word die onwettige verbindings weer gekoppel sodra die (metro) die gebied verlaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.