Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gevaar en swaarkry met inperking laat gesin van Bfn-hoewe vlug

’n Gesin moes te voet van hul kleinhoewe buite Bloemfontein na ’n veiliger woonplek in Heidedal vlug nadat die inperkingstyd vir hulle lewensgevaarlik geword het.

Benewens geldelike ellende is twee van hul bure vermoor, terwyl hulle self twee keer aangeval is.

Die Smith-gesin se lang tog Maandag na Heidedal is met moeite en op honger mae aangepak terwyl die ysreën en wind deur hul klere sny.

Hulle het uit Khayelitsha in Bloemspruit gevlug, want as dit nie aanvallers in die nag is wat jou keel vir jou karige besittings wil afsny nie, is dit die honger wat in die inperkingstyd knaag, vertel hulle.

“Die lockdown het ons almal down,” sê Tienie Smith (62), die ma van die gesin. By haar is André (66), haar man, met ’n seer heup en oë vol swaarkry wat bo sy masker uitsteek. Hy is vir dood agtergelaat die laaste keer toe hulle by hul huis in Khayelitsha aangeval is. Hul seun wil anoniem bly en drentel doelloos saam.

“Ons vriend wat langs ons gebly het, ’n swart dokter, is doodgesteek. En die buurman agter ons is geskiet.”

Die buurman was die 55-jarige Stephen Mogoasi, ’n stafverpleegkundige van die Mediclinic Bloemfontein, wat buite sy huis doodgeskiet is toe hy van die werk af gekom het.

“Die ‘lockdown’ het ons almal ‘down’,” sê Tienie Smith (links) oor die gesin se situasie en swaarkry, wat soos dié van miljoene ander sedert die inperking vererger het. Foto: Mlungisi Louw
Buite die Bloemspruit-kliniek drom mense om ’n vuur saam om warm te bly. Hier moet hulle ure wag om gehelp te word omdat die kliniek weens die inperkingsregulasies net 15 mense op ’n slag binne die gebou kan toelaat. Foto: Mlungisi Louw

Die Smith-gesin woon nou by mense in Heidedal waar hulle in ’n klein vertrek vasgekluister is.

Weens die inperking kan hulle nie meer op los werkies staatmaak nie.

Maar die gesin se hoop het nog nie opgedroog nie.

“Ons is vol hoop. As ons gesondheid dit net gaan hou. En ons bid maar elke dag dat ons ’n HOP-huisie kry sodat ons op ons eie bene kan staan.”

Ook vir ander inwoners van Bloemspruit is die lewe swaar, veral in die inperkingstyd in dié koue winter.

Buite die Bloemspruit-kliniek het groot groepe mense reeds van vroegoggend af saamgedrom om gehelp te word.

Tlowiso Khetang van die Bergman-nedersetting is ses maande swanger en het ure in die ysreën op hulp gewag.

Anna Motswari sê sy het nog niks van die R350 gesien wat pres. Cyril Ramaphosa in ’n vroeëre toespraak belowe het nie. Foto: Mlungisi Louw

“Ek is moeg en honger. My baba veg in my maag omdat sy honger is.”

Sy sê sy word weggewys by die kliniek omdat slegs 15 mense binne toegelaat kan word.

Een van die kliniekverpleegsters wat anoniem wil bly, sê daar is eenvoudig te veel mense om te bedien en nie genoeg hulpbronne nie.

Lebogang Motati (55) koes teen die ysreën en sê hy voel baie sleg. Hy ly aan asma en is MIV-positief.

“Ek is bang oor alles wat aan die gang is. My hoop is dat ek medisyne kan kry, maar ek is nog nie gehelp nie.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Inperking  |  Hoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.