Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gevangenes kan dalk intrek in Bloem-buurt

Inwoners van Universitas in Bloemfontein oorweeg dit om ’n interdik te kry om die inrig van ’n halfweghuis vir gevangenes in dié woonbuurt te keer.

Meer as 300 inwoners van Universitas het Woensdagaand by die huis wat hiervoor geïdentifiseer is, byeengekom vir ’n vergadering waarheen hulle en ander rolspelers op kort kennisgewing genooi is.

Sowat 300 inwoners het Woensdag by die beplande halfweghuis vir voormalige gevangenes ’n vergadering bygewoon waar hulle moes hoor ingevolge ’n kontrak kan gevangenes wat parool ontvang het, Maandag reeds intrek. Foto: Verskaf

’n Kontrak is reeds met die departement van korrektiewe dienste (DKD) geteken waarvolgens 12 mans, wat geskeduleer is vir parool, Maandag by Scholtzstraat 17B gaan intrek.

Die huis behoort aan Busisiwe Ntsele van Ruby Red Busi Holdings. Dié maatskappy besit ook talle ander eiendom in die gebied. Daar word bespiegel dat Ntsele ANC-bande het.

Tjaart van der Walt, ’n DA-raadslid, sê daar was geen raadpleging met die gemeenskap nie.

“Die munisipaliteit het ook nog nie sy toestemming gegee nie.”

Die hoof van stadsbeplanning gaan nou ’n dringende versoek aan die DKD rig vir ’n vergadering om seker te maak die regte prosesse word gevolg voordat die huis oopgemaak word. Munisipale grondgebruik-aansoeke moet eers afgehandel wees, sê hy.

Op ’n aanlyn peiling het 616 mense reeds reageer, van wie 612 aangedui het hulle is teen die besluit gekant.

“Uit die besprekings is dit egter duidelik die DKD het in die verlede voortgestoom met ’n besluit, en sal dit moontlik dié keer weer doen,” sê Van der Walt.

Ntsele het by navraag gesê sy is baie geskok in die inwoners van Universitas se reaksie op die voorgenome sentrum.

“Hoekom is hulle so bekommerd? Die mense moet geïntegreer word in die gemeenskap. Niemand se lewe word bedreig nie. Hulle is nie geharde misdadigers nie. Hulle is gerehabiliteer en moet geïntegreer word om weer met hul gesinne herenig te word.”

Sy sê die mense sal slegs sowat ’n week of twee in die sentrum wees.

Op ’n vraag hoekom die sentrum in die middel van ’n woonbuurt gevestig word, was haar antwoord: “Hoekom nie? Waar anders moet hulle wees? Hulle moet in die gemeenskap hervestig word. Dit is hoekom hulle in die woonbuurt moet wees.”

Inwoners het wel nog die geleentheid om beswaar aan te teken met ’n openbare vergadering op 29 Mei om 18:00 by die Dr. Bohmer-skool.

Kenneth Mthombeni, adjunkstreekskommissaris van die DKD in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê hy is geskok oor die hewige teenkanting.

“Daar moet iewers ’n groot misverstand wees, want om die goedkeuring van die gemeenskap te hê is een van die hoofvereistes.

“Dit wil voorkom of die diensverskaffer (Ruby Red) nie die regte proses gevolg het nie.”

Hy sê die doel van die halfweghuis is om gerehabiliteerde gevangenes wat geskeduleer is vir parool, te help om weer op die been te kom en in die gemeenskap en kerke in te skakel.

“Die doel is nooit om die gemeenskap omver te gooi nie, want dit is waar die gevangenes hul ondersteuning moet kry.”

Die DKD en al die rolspelers vergader Vrydag om 09:00.

Mthombeni sê Ruby Red sal moet antwoord of die DKD hom op hulle af gedwing het en of die maatskappy voorgegee het om aan al die vereistes te voldoen.

Annanda Calitz, ’n inwoner van die buurt, sê die huis is nie net naby ’n kleuter- en laerskool geleë nie. Die veiligheid van studente, wat Scholtzstraat as toegangsroete na die Universiteit van die Vrystaat gebruik, word ook geraak.

Van der Walt sê regstappe is die enigste manier om die DKD te stuit.

Inwoners het wel nog die geleentheid om beswaar aan te teken met ’n openbare vergadering op 29 Mei om 18:00 by die Dr. Bohmer-skool.

Armand Cloete, woordvoerder van die VF Plus, sê die party sal ook dan amptelik beswaar aanteken om te verseker dat die Universitas-gemeenskap veilig kan voel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.