Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geweld: NGK wil onder meer hand in eie boesem steek

Die NG Kerk (NGK) wil die “dringende toename in geweld en misdaad”, spesifiek ook geweld teen vroue, help beveg.

Dit beteken dat daar onder meer binne die kerk nagedink moet word oor of die kerk se eie kerklike praktyke “patriargie genoegsaam teenstaan”.

Die NGK sê in ’n verklaring geweld druis in teen mense se menswaardigheid en hul menseregte soos dit in die Grondwet neerslag vind. Volgens die kerk bedreig dit die demokrasie en bring dit uiteindelik die boodskap van die Evangelie in gedrang.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NGK se algemene sinode, het by navraag gesê dis geen geheim nie dat daar dikwels onder Christene ’n idee van ’n hiërargie in die samelewing bestaan, waarin mans ’n “meerdere posisie” beklee.

“Maar wanneer ons sit in ’n samelewing waar daar soveel geweld en spesifiek geweld teen vroue is, moet ons gaan dink wat die onbedoelde gevolge van ’n teologie van manlike meerderwaardigheid is,” sê hy.

“Hoe versterk die kerklike praktyke wat hieruit volg dalk die idee dat mans regte het wat vroue nie het nie, of in ’n posisie is waar hulle namens vroue kan besluit wat vir hulle goed is, of die laaste sê het, net omdat hulle manlik is?

“Hierdie soort aannames kan beslis, hoewel meestal onbedoeld, bydra tot die toedrag van sake wat ons tans in gesinne en gemeenskappe beleef,” sê Janse van Rensburg.

In die verklaring noem die NGK spesifiek gesins- en huishoudelike geweld, “grootskaalse geweld teen vroue en kinders”, misdrywe soos die ontvoering van Amy’Leigh de Jager, “passasiers wat op treine beroof en afgegooi word”, moord op polisiebeamptes, wrede plaasaanvalle, vragmotors wat brand, asook die moord op Uyinene Mrwetyana, die Kaapse student wat verkrag en vermoor is toe sy ’n pakkie by die poskantoor gaan haal het.

“As NGK wil ons onsself daartoe verbind om saam met ander kerke en instellings te werk aan die vorming van ’n samelewing met duidelike en sterk morele en gemeenskapswaardes,” lui die verklaring deur dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NGK.

“Terwyl ons waardering het vir wat gedoen word en begrip het vir die dilemmas waarmee die owerheid en wetstoepassers soms sit, hoor en sien ons nie ’n sterk genoeg ‘nee’ vir misdaad en geweld nie,” sê Claassen.

Die NGK wil ook met die nasionale en provinsiale owerhede in gesprek tree, wat die minister van veiligheid en sekuriteit insluit.

Volgens Claassen sal die NGK met ander kerkgroepe saamwerk, maar die inisiatief en leiding neem.

Volgens die verklaring word “gemeentes op plaaslike vlak gevra om te besin oor strategieë om die uitdagings van misdaad daar die hoof te bied”.

Claassen verduidelik die NGK sal ’n beradingsrol speel, soos ingryp met hulp en bystand aan getraumatiseerde slagoffers van byvoorbeeld ’n verkragting.

In ’n ander verklaring veroordeel die NGK xenofobie.

“Die NGK is in solidariteit met al die individue en hul gesinne wat geraak word, en doen ’n beroep op hul beskerming, restitusie en die strafregtelike aanspreeklikheid van diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle op hulle. Die NGK is in solidariteit met ander Suid-Afrikaanse kerke, en die oorgrote meerderheid van die mense van Suid-Afrika, wat hul verontwaardiging oor die gebeure in die openbaar uitgespreek het. Die NGK ondersteun oproepe aan die regering om die toenemende gety van rassisme, etnosentrisme en vreemdelingehaat in Suid-Afrika te konfronteer en vir Suid-Afrikaners om ‘ander’ te erken, om vreemdelinge te verwelkom, en om versoening te soek.”

Meer oor:  Ng Kerk  |  Nelis Janse Van Rensburg  |  Geweld Teen Vroue  |  Geweld  |  Xenofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.