Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geweldsmisdaad: ‘SA diep in die moeilikheid’

Wat ernstige geweldsmisdaad betref, is Suid-Afrika diep in die moeilikheid.

Só sê dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) oor die toename in onder meer gewapende roof, wat transitorooftogte, huisroof en motorkapings insluit.

Burger sê dit is duidelik rowers is nie meer regtig bang dat hulle gevang of dat hulle suksesvol vervolg sal word nie. “Hiervoor is daar verskeie redes, soos die feit dat misdadigers daarvan oortuig is dat hulle polisielede kan omkoop net wanneer hulle wil.”

Dr. Johan Burger. Foto: Liza Hnatowicz

Burger meen die skade wat aan die polisiediens aangerig is in Riah Phiyega se termyn as nasionale polisiekommissaris, is onmeetbaar.

“Die situasie is vererger omdat sy versuim het om dissiplinêr op te tree teen lt.gen. Richard Mdluli, geskorste hoof van misdaadintelligensie, en lt.gen. Berning Ntlemeza, voormalige hoof van die Valke.

Mdluli, wat noue bande met oudpres. Jacob Zuma het, is geskors nadat hy onder meer van intimidasie, bedrog, ontvoering, korrupsie, moord en poging tot moord beskuldig is. Hy het die laaste sewe jaar R8,3 miljoen ontvang om by die huis te sit.

Ntlemeza het die verslag opgestel wat Mdluli kwansuis kwytskeld op aanklagte dat hy Oupa Ramogibe, die man van Mdluli se eksmeisie, vermoor het.

Shadrack Sibiya, voormalige hoof van die Valke in Gauteng, het met sy skorsing in die hof geargumenteer Ntlemeza het hom geteiken omdat hy besig was om Mdluli te ondersoek.

“Daar is eers met die aanstelling van die vorige polisieminister, Fikile Mbalula, van hierdie mense ontslae geraak. Dan het Jackie Selebi boonop in 2016 ook byna die laaste van die polisie se spesialis-ondersoekeenhede ontbind,” sê Burger.

“Dit is dus geen wonder dat die polisie sukkel om misdaadgroepe suksesvol te identifiseer en te neutraliseer nie. En die groepe weet dit en buit dit uit.”

Burger sê Bheki Cele, minister van polisie, het geen ander keuse as om ’n nuwe, tydelike spesialiseenheid te ontplooi om die toenemende vlaag gewapende misdaad en politieke geweld te bekamp nie.

Cele het Dinsdag in sy begrotingsrede aangekondig toegewyde spesialiseenhede van die polisie gaan landwyd in misdaadgeteisterde gebiede ontplooi word om ernstige misdade doeltreffend te beveg.

“Dit opsigself is nie die oplossing nie, maar kan help om die situasie te stabiliseer, sodat die tyd en ruimte geskep word om meer permanente oplossings te vind.

“Met hierdie eenhede kan van die betrokke misdadigers geïdentifiseer en gearresteer word en kan hulle voor die howe gebring word met saakdossiere wat behoorlik ondersoek is. So kan hulle groter sukses in die howe bereik en hierdie mense agter tralies kry.”

Burger sê die polisie kan stabiliteit verseker in gebiede waar bendegeweld hoogty vier, deur onder meer groter sigbaarheid te handhaaf en beslag te lê op onwettige vuurwapens.

“Die stabiliteit wat hierdie optrede behoort mee te bring, moet gebruik word om vas te stel wat die oorsake van die voortslepende geweld is en hoe en deur wie dit gehanteer moet word.”

Hy beklemtoon egter goeie misdaadintelligensie is van uiterste belang vir bogenoemde optrede.

“In hierdie verband moet die polisie natuurlik nog ’n lang pad stap om die skade wat deur Mdluli en sy span aangerig is, ongedaan te maak.

“Die onlangse aanstelling van lt.gen. Peter Jacobs (as hoof van misdaadintelligensie) was maar die begin van die ommekeer en baie meer sal gedoen moet word voordat misdaadintelligensie weer op ’n gesonde vlak funksioneer.”

Sonder misdaadintelligensie sal die polisie nooit suksesvol teen misdaad kan optree nie, sê Burger.

“Misdaadintelligensie is soos die flits wat jy voor jou in die donkerte skyn as jy wil sien waar jy loop en waar die gevaar lê.

“Benewens goeie en tydige inligting oor wie en waar die misdadigers is, is hulle ook verantwoordelik vir die identifisering van misdaadsindikate en hul lede, en vir die infiltrasie van sulke groepe.”

* Ses rowers het Dinsdag op ’n transitovoertuig op Ontdekkersweg in Roodepoort aan die Wes-Rand toegeslaan. Die mans het op die transitovoertuig losgebrand om dit tot stilstand te dwing en dit uiteindelik met ’n ploftoestel oopgeblaas. Die wagte is in die aanval beseer. In ’n ander voorval is ’n motoris en sy passasier Dinsdag deur vier rowers met semi-outomatiese gewere in Barry Hertzog-rylaan in Emmarentia, Johannesburg, beroof. Niemand is nog in verband met hierdie voorvalle in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.