Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gewilde onderwyser (63) dood aan hartaanval by skool

’n Gewilde onderwyser en sportafrigter van die Hoërskool Klerksdorp is Saterdag skielik dood aan ’n hartaanval by die skool.

Ollie Ollewagen (63), wat die afgelope tyd lewensoriëntering aangebied het, was die oggend vroeg by die skool voordat die skool se rugby- en hokkiespanne sou vertrek na Vereeniging.

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, sê toe Ollewagen omstreeks 05:30 by die skool stilhou, het hy glo ’n ernstige hartaanval gekry en geval net toe hy uit sy motor klim.

Ander onderwysers het gesien toe hy val en hom gaan help.

“Hulle het die ambulans en sy familie gebel. Nooddienste het kort daarna opgedaag, maar hy was reeds dood.”

Ollie Ollewagen (63), ’n gewilde onderwyser van die Hoërskool Klerksdorp, wat Saterdag by die skool dood is ná ’n massiewe hartaanval. Foto: Facebook / KHS Klerksdorp

Die leerlinge was in daardie stadium reeds in die busse en het volgens Matsemela niks gesien nie.

Jappie van Rooyen, waarnemende hoof, het sy skok oor die dood van sy jarelange kollega uitgespreek.

“Ollewagen was hoofafrigter van rugby en hokkie. Hy hou al langer as 40 jaar skool. Ons is geweldig geskok,” het Van Rooyen gesê.

Intussen het boodskappe van skok en medelye veral van oudleerlinge op sosiale media ingestroom nadat die skool se Facebook-groep, KHS Klersdorp, die nuus oor sy dood gedeel het.

“Vir KHS sal hy altyd onthou word vir sy rustigheid, sagmoedigheid en sy grappies. Sy fyn sin vir humor sal ons altyd mis. Dit was vir ons ’n voorreg om hom te ken en sy heengaan laat ’n enorme leemte,” lui die plasing.

Thapelo Tlhankane, het daarop geantwoord sy hart is seer.

“Hy was een van die beste onderwysers tydens my matriekjaar. Rus sag, mnr. Ollie.”

Matsemela het haar innige meegevoel met sy familie en die skool uitgespreek.

“Om ’n onderwyser te verloor is soos om ’n lig in die gemeenskap te verloor. Om so ’n hardwerkende en toegewyde onderwyser te verloor breek regtig my hart, want verlede jaar het hy 126 onderskeidings in sy vak verskaf.”

Matsemela sê berading sal Maandag by die skool aan die onderwysers, leerlinge en familie van Ollewagen beskikbaar gestel word.

Meer oor:  Hartaanval  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.