Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gewilde rubriekskrywer sterf op 72 in sy slaap
Lappe Laubscher was ’n bekende oudsportjoernalis en rubriekskrywer.Foto: Facebook

Familie en vriende van die bekende oudsportjoernalis en rubriekskrywer Lappe Laubscher het Sondag met skok op sy dood in die ouderdom van 72 reageer.

Laubscher (Pappa Lap vir sy vriende) is Sondag as ’n ware vriend, koerantman, storieverteller en een van die werklik wandelende ensiklopedieë beskryf. Hy is Saterdagaand in sy slaap oorlede toe hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het.

“Ek dink my pa sal veral vir sy liefde vir sy kleinkinders, sy liefde vir boeke en die geskiedenis en sy versameling modelmotortjies en posseëls onthou word,” sê sy seun, Joe (44).

“My pa was ’n longkankerlyer, maar is nou sewe jaar in remissie. Dit was ’n groot skok vir ons almal en ons het dit glad nie verwag nie,” sê Joe.

“Die hele familie, insluitend die kleinkinders, was nog Saterdagaand hier en hy het saam met ons gebraai. My pa het gesê hy is ’n bietjie moeg en het vroeg gaan slaap. Ons het eers vanoggend besef iets is fout toe hy nie afkom nie.

“My pa was omring deur sy kinders en kleinkinders toe hy gesterf het en die hele familie is nou hier by die huis bymekaar om my ma te ondersteun.

“Ons sit almal en stories vertel en probeer mekaar maar na die beste van ons vermoë ondersteun. My pa was ’n baie familievaste man en ons het elke naweek gesinstyd saam bestee.”

Ons het verlede week nog saam gekuier en hy het piekfyn gelyk.
Gert Potgieter

Gert Potgieter (80), die oud-Springbokhekkiesatleet en Laubscher se vriend van meer as twee dekades, sê die hele sportwêreld gaan Laubscher beslis verskriklik baie mis. “Dit kom so skielik en onverwags.”

Potgieter en Laubscher se vrou is die medestigters van Altus Sport, ’n nieregeringsorganisasie wat op jeugontwikkeling deur sport gefokus is, en hulle deel nog ’n kantoor. “Ek het Sondagoggend ’n SMS van Liana gekry om te sê Lappe is oorlede en kan dit steeds nie werklik glo nie,” sê Potgieter.

“Ons het verlede week nog saam gekuier en hy het piekfyn gelyk.

“Hy (Laubscher) was baie uitgesproke as ’n joernalis, maar was ook ’n baie vriendelike en joviale persoon en ek het baie by hom geleer. Die man was ’n lopende ensiklopedie en bron van kennis en inligting wat baie in die studie van die verlede belang gestel het.

“Hy het baie jare lank ’n gewilde geskiedenisrubriek vir Tshwane-Beeld (nou Metro-Noord) geskryf wat geweldig interessant was en ek het altyd verskriklik daarna uitgesien om dit Woensdae te lees.”

Volgens Potgieter was Laubscher veral geïnteresseerd in die geskiedenis van die antieke Olimpiese Spele met al sy vertakkinge. “Hy het selfs die geskiedkundige agtergrond van atlete geken wat so vroeg soos 3 000 v.C. deelgeneem het, maar hy het ook rekord gehou van Suid-Afrikaners wat sedert 1904 aan die Olimpiese Spele deelgeneem het.”

Laubscher word deur sy vrou, Liana (66), seun, Joe (44), dogter, Bea Fletcher (42), en sy vier kleinkinders – Nina (12), Cristi (10), Hayley (6) en Connor (2) – oorleef.

Meer oor:  Lappies Laubscher  |  Rubriekskrywer  |  Huldeblyke  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.