Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gewonde Clarence (8) in familielid se arms dood

Vir Tracy Lee Solomons van Elsiesrivier was haar seun, Clarence Solomons (8), haar besige kind. Die een wat altyd aan die hardloop was, altyd buite besig met iets.

Solomons het Woensdag gesê dat sy Clarence Maandag gaan haal het waar hy buite gespeel het toe sy hoor dat daar in die omgewing geskiet word.

Clarence Solomons
Clarence Solomons (8) van Elsiesrivier is Maandag dood nadat hy raakgeskiet is. Foto: Verskaf

Dit was nie lank nie toe is Clarence weer buite – en tussen die skare mense wat saamgedrom het toe wetstoepassingsbeamptes strukture afgebreek het wat op ’n perseel in The Range, Elsiesrivier, opgerig is.

Sy het weer skote hoor klap. Oomblikke later het Roseline Volmer, ’n familielid, vir haar kom sê dat Clarence dood is. Clarence het in Volmer se arms gesterf.

Clarence is in sy bors gewond.

Volmer sê sy was besig in die huis met haar baba toe mense vir haar kom roep het en gesê het dat Clarence raakgeskiet is. Niemand kan egter sê wie hom geskiet het nie.

Sy sê hy het in mense se huis ingehardloop toe hy besef het dat hy gewond is. Toe sy by hom kom, het hy nog gelewe. “Hy het gereageer op my stem en het probeer iets sê. Met die tweede probeerslag het hy egter sy laaste asem uitgeblaas.”

Solomons sê die polisie het met hulle kom praat, maar kan nie sê wie haar kind geskiet het nie.

“Hy was my kind wat klip gegooi het, maar hy was ook goed in sy skoolwerk en in sport, veral atletiek.”

Clarence was in gr. 2 by die Elsbury Primêre Skool in Elsiesrivier. Hy word volgende Saterdag begrawe.

Intussen herstel Tamia Beukes (12) goed. Sy is Maandag in dieselfde skietery gewond.

Haar ouma, Elizabeth Mouton, sê Tamia is van agter in haar linkerboud raakgeskiet. Die koeël het haar ruggraat rakelings gemis en in haar regterboud vasgesit. Dit is Maandag in ’n operasie verwyder.

Tamia was van die winkel op pad huis toe sy gewond is. Ook sy kan nie sê wie haar geskiet het nie.

Dit blyk nou egter asof die metro nie ’n hofbevel gehad het om die strukture af te breek nie.

’n Chaos het Maandagmiddag in die strate van Elsiesrivier uitgebreek toe beamptes van die Kaapstad-metroraad onwettige strukture in The Range afgebreek het.

’n Man het blykbaar vanuit ’n skare mense op die beamptes geskiet. Daar word beweer dat die twee kinders toe raakgeskiet is.

Dit blyk nou egter asof die metro nie ’n hofbevel gehad het om die strukture af te breek nie.

Die metroraad het nie op navrae gereageer nie.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n klagte van moord en poging tot moord ondersoek word en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Mense met inligting kan lt.kol. Mtshali, die ondersoekbeampte, by 082 522 3029 of Stop Misdaad by 0860 010 111 bel.

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Doodgeskiet  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.