Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gewonde taxidrywer ry oor vrou (19)

’n Sterwende taxibestuurder met ’n skietwond het Dinsdagmiddag met sy motor bo-oor ’n 19-jarige vrou en deur ’n palissade van ’n huis in Claremont aan die Wes-Rand van Johannesburg gejaag.

Die bestuurder van ’n aanlyn taxi-diens, in sy 50’s, is op die toneel in Princess-rylaan dood terwyl die vrou in ’n kritieke toestand in die Helen Joseph-hospitaal verkeer.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die polisie ondersoek ’n klag van moord nadat ’n taxibestuurder in Claremont geskiet is. Twee verdagtes het die taxibestuurder bestel om hulle na ’n spesifieke bestemming te neem. Toe die bestuurder stilhou, het hulle hom genader en hom geskiet. Die verdagtes het per voet gevlug,” het hy gesê.

Die toneel Dinsdagmiddag waar ’n sterwende man met ’n skietwond bo-oor ’n vrou en deur ’n palissade-heining van ’n huis in Princess-rylaan in Claremont aan die Wes-Rand gejaag het. Foto: Verskaf

Netwerk24 het Woensdag op voorwaarde van anonimiteit met die beseerde vrou se vriend gesels.

“Dit was ’n rooftog wat skeefgeloop het. Die man in die motor het stilgehou om iemand op te laai toe minstens twee rowers op hom toegesak het. ’n Skoot het afgegaan,” het die vriend gesê.

“Die volgende oomblik kom die motor op ons afgejaag, bo-oor my meisie en deur die palissade. Sy het onder die kar vasgesit,” het hy gesê.

Volgens hom is sy Woensdagmiddag geopereer vir ’n gebreekte pelvis en nog ’n ernstige wond aan haar been.

Stukke van die oorledene se motor het Woensdag nog op die sypaadjie gelê voor die huis waar dit in die tuin beland het. Foto: Melinda Stuurman
Die veld waarheen die rowers glo vlug nadat hulle toegeslaan het. Foto: Melinda Stuurman

“Die dokter sê sy sal darem oorleef.”

Volgens die vriend het hy en die vrou met die eienaar van die huis in wie se tuin die motor beland het, gestaan en gesels toe die voorval plaasgevind het.

’n Inwoner, wat ook anoniem wil bly, sê die betrokke hoek is ’n misdaadbrandpunt. “Hieragter is ’n veld waar die rowers net kan inhardloop en niemand kan hulle kry nie. Hier was seker nou al tien rooftogte waarin hierdie taxi-bestuurders aangeval word.

“Die rowers bespreek die taxi aanlyn en slaan toe sodra die taxi hier stop. Hierdie keer het iemand egter sy lewe verloor en vir wat? ’n Paar honderd rand en ’n selfoon. ’n Mens is nêrens meer veilig nie,” sê die ooggetuie.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, was die paramedici omstreeks 13:50 op die toneel. Hulle het die gewonde man in sy motor aangetref maar hy was reeds dood.

Hy sê in sy verklaring dat die vrou op die toneel gevorderde lewensondersteunende hulp ontvang het voordat sy na die hospitaal geneem is.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Taxi  |  Taxibestuurder  |  Wes-Rand  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.