Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Gewone mense word helde’ in dramatiese redding
Die jetski, polisieboot en Condor waar dit Maandagnag in vloedwaters vasgevang is. Teen Dinsdag was dit asof die voertuie op droë grond lê. Foto: Deaan Vivier

’n Aand wat gewone mense helde geword het.

So sê die oorlewendes van ’n drie uur lange reddingspoging Maandag in die donkernag in vloedwater noord van Pretoria.

Dit het begin met ’n “onskuldige watermodderplas”. Toe maak die water ’n eie pad oor die grasveld en bome – net meters van waar die Pienaarsrivier naby Wallmannstal eintlik loop.

Twee voertuie en nege mense is saamgesleur en toe hulp opdaag, ook een van die helpers, ’n jetski én ’n polisieboot.

Neels Evenwel (59) het 2½ uur lank aan ’n doringtak geklou voordat Bekker du Plessis hom met ’n jetski kon uittrek.

Hy het omstreeks 16:40 met sy Isuzu-bakkie agter ’n vrouekollega gery.

Sy het die Toyota Condor met sewe werkers in bestuur.

“Die voertuie het effens gegly en daar was ’n effense dam water op die pad waar daar nooit water is nie. Ons was ’n ent van die brug af. Daar waar ons was, loop nie water nie; dit is veld.

Die bos bome waar Neels Evenwel ’n tak kon vasgryp en 2 ½ ure geklou het. Foto: Lukas Hattingh
Insittendes van die Condor sit op die kant van die omgeslaande voertuig. Foto: Lukas Hattingh

“Ek het uitgeklim en gesê ek sal haar sleep. Ons vermoed daar het iewers ’n damwal gebreek, want toe kom ’n stroom water van die kant af. My bakkie het begin gly terwyl ek nog op pad terug was soontoe. Die volgende oomblik kom ’n vloed water en rol die Condor en gryp my bakkie en my sommer ook,” sê Evenwel.

Daar was net een ding in sy kop: Oorleef.

“Toe gryp ek die doringboom se tak en klou letterlik vir lewe en dood.”

Die Condor het tot teen ’n boom gerol. Van die mense kon bo-op klim, maar die vrou en ’n ander insittende was vasgekeer.

Lukas Hattingh, ’n paramedikus, sê die vrou in die Condor het iemand om hulp gebel.

Dié persoon het ’n noodroep op ’n bystandgroep geplaas.

Hy het soontoe gejaag, maar kon nie by die motor uitkom nie. Hattingh het die polisieduikers gebel.

“Toe sien ek die ou in die boom – net sy kop. En die bakkie wat tussen die bome deur rol,” beduie hy. Ses polisieduikers het opgedaag.

’n Ankertou is aan ’n brandweerwa en nog ’n voertuig gebind, met ’n ander tou van daar af na die boot. Die boot was amper by die Condor, toe tref die stroom die agterkant.

Water het ingestroom, die boot het getol – en teen die voertuig en die boom vasgeslaan.

Dit was gestrand, maar die duikers het nie moed opgegee nie. Hulle het uit die boot reddingsbaadjies aangegee en die mense een vir een afgehelp in die boot in, dan met ’n menseketting van polisie- en brandweerlede gemeenskapslede gedra tot by die ambulanse.

Dit was die naaste wat ’n brandweervoertuig aan die vasgekeerdes in die Condor kon kom.

Intussen het Du Plessis op sy woonbuurt se noodgroep ’n boodskap gesien dat ’n jetski of bootjie benodig word om ’n man wat aan ’n tak hang, te red.

Hy het sy jetski opgelaai en gejaag.

“Toe ek by hier aankom, was die polisieboot in die water. En toe onder die water en toe vat die stroom dit. Die water oor die pad was net te vlak vir die jetski, so ons moes in die stroom in om te kan ry.

“Dit was donker en ek kon nie die ou aan die tak sien nie . . . toe hoor ek iemand roep: ‘Hier’s ek! Hier’s ek!’ ”

Die water was te onstuimig dat Evenwel op die jetski kon klim. Hy moes die handvatsel agteraan die jetski gryp.

Du Plessis het hom uitgetrek, maar die pad was so weggespoel dat ’n maalkolk gevorm het.

Die jetski het teen ’n sandbank gebots. Evenwel is uitgehelp.

“Toe gooi die water my en die jetski om en Roan Booysen gryp ons vas. Ek kon weer met die jetski weggetrek kry, toe gooi die stroom dit teen die boot – en toe gryp die water vir Roan . . .”

Booysen het weggespoel totdat sy voet aan ’n doringdraadheining vasgehaak het.

Hattingh het ’n tou gegryp en die water ingestorm.

“Die ander mense het ’n ketting gevorm tussen vaste grond en my. Ek het die tou se punt na Roan gegooi en ons kon hom uittrek. Die Here het daardie mense gered. Ons was net die instrumente,” sê Du Plessis.

Teen 21:00 was almal veilig.

Die Condor, boot en jetski is Dinsdagoggend uit die water getrek.

Evenwel se bakkie is laaste gekry, sleutel nog in die aansluiter.

Brandweerlede, polisieduikers en die gemeenskap vorm ’n menslike tou langs die ankertou af. Hulle het só die insittendes van die Condor na veiligheid gedra.
Roan Booysen se been waar dit Maandagaand aan ’n doringdraadheining onder water vasgehaak het. Foto: Hanti Otto
Die vloedwater het tot visse saamgesleur. Foto: Deaan Vivier
Die jetski, polisieboot en Condor waar dit Maandagnag in vloedwaters vasgevang is. Teen Dinsdag was dit asof die voertuie op droë grond lê.Foto: Deaan Vivier
Die gestrande tuie is Dinsdag herwin. Foto: Deaan Vivier
Neels Evenwel se bakkie word uit die water getrek. Daar waar dit gesink het, is normaalweg veld. Foto: Deaan Vivier
Die Isuzu-bakkie verrys uit die watergraf. Foto: Deaan Vivier
Neels Evenwel sou nié oorleef het as hy in die bakkie was toe die stroom dit gegryp het nie. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Kitsvloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.