Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ghoemas-vrou kry haatpos ná toespraak
Shihaam Domingo
Shihaam Domingo

Haar Facebook-blad loop oor van haatpos wat haar van rassisme en politieke agendas beskuldig, maar “ek het nog nooit eens vir die ANC of EFF gestem nie!” sê Shihaam Domingo, wie se toespraak op die Ghoemas-toekenningsaand deur een van die sanger Steve Hofmeyr se seuns onderbreek is.

Domingo het Maandag by navraag haar liefde vir Afrikaans benadruk, en selfs geïnsinueer dat sy nie saamstem met haar Afrikaanssprekende ouers se besluit om haar in Engels groot te maak nie.

’n Herrie het verlede week losgebars ná die Ghoemas-organiseerders se besluit om die benoeming vir die musiekvideo “Die land” terug te trek.

Dit was nadat MultiChoice, wat die Ghoemas borg, gedreig het om hom te onttrek indien die benoeming vir “Die land” nie teruggetrek word nie. Dit is omdat Hofmeyr, een van die kunstenaars in die video, se politieke standpunte glo nie met dié van die maatskappy ooreenstem nie.

Talle kunstenaars het ná die terugtrekking van die benoeming toe ook dié prestigeryke toekenningsaand in die Sun Arena by Times Square in Pretoria geboikot.

Domingo sê sy was besig met haar toespraak vir die inleiding van die hip-hop-kategorie, toe ’n manstem uit die gehoor roep: “Julle wil Afrikaans afbreek!”

Sy sê sy het gepraat oor Afrikaans se bestaansreg en gesê “ons stry oor Afrikaans, maar ons stry ook ín Afrikaans”.

LEES OOK: Einde van die Ghoemas

Devon Hofmeyr en sy vriend Francois van der Merwe, wat in die gehoor was, het oënskynlik nie met haar sentiment saamgestem nie.

“Ek het nie geweet of hy met my – die ‘julle’ – as ’n bruin vrou of as ’n trustee van die Ghoemas praat nie,” het Domingo by navraag gesê.

Sy sê sy het nie op Devon-hulle se uitbarsting gereageer nie, “want die mense wat geld betaal het om daar te wees was daar om uitmuntendheid in musiek te vier en dit was my bedoeling om te praat oor wat vir Afrikaans deur daardie uitmuntendheid moontlik is”.

Devon Hofmeyr se Facebook-inskrywing.Foto: Facebook-skermgreep

Devon het later op Facebook gereageer op ‘n Facebook-inskrywing van Domingo.

Sy het haar uitgespreek oor “Die land” en gesê die lied en die musiekvideo laat haar, ‘n bruin vrou, siek in haar maag voel sedert die eerste maal wat sy dit gesien het. “Om te sien hoe ‘n groep wit mans sê hulle gee hierdie grond terug vir hul kinders…” Sy vra dan ook waarom daar geen persoon van kleur in die lied is nie – “waarom iemand soos Steve wat beweer swart mense is die argitekte van die verlede?”

Hofmeyr was ‘n paar jaar gelede in die sop oor 'n twiet wat sê dat swart mense die argitekte van apartheid was.

“Ons het nooit opgestaan om jou stil te maak nie. Ons het nooit opgestaan en gesê dat JY as Shihaam leuens praat nie, maar dat die Ghoemas ons taal onderdruk...” het Devon geskryf.

Devon het by navraag gesê dit was net " 'n perfekte geleentheid"  om sy sê te sê en was nooit op Domingo as ‘n bruin persoon gemik nie.

Domingo het op haar beurt ontken dat sy enige agenda dryf.

Sy het verduidelik dat haar ouers met haar, omdat sy ’n ligter vel as haar drie broers het, Engels gepraat het, terwyl haar drie broers Afrikaans grootgeword het.

Shihaam Domingo se reaksie op Devon Hofmeyr se Facebook-inskrywing. Foto: Facebook-skermgreep

“Ek dink my ouers het in daardie tyd net gedoen wat hulle gedink het die beste was en nooit besef hoe dit my van my broers sou skei nie.”

Sy skryf ook dat sy graag saam met Devon ’n lied sou wou skep “wat alle Suid-Afrikaners insluit wat Afrikaans praat” sodat hulle die taal kan “sterk hou”.

Steve het op sy beurt Sondag op Facebook geskryf die hele herrie opper net een vraag: “Mag ’n benoeming onttrek word op grond van politieke inmenging, of nie? Eenvoudige keuse. Mag sensuur afgedwing word soos in die ou dae toe eerbewyse weerhou is op grond van politiek, seks en kerk? Ja of nee.”

Domingo is ’n lid van die Ghoemas se raad van trustees.

Rapport het Sondag berig dat die trustees in twee geskeur is oor die besluit oor “Die land” en sê dat die hele kompetisie se voortbestaan daardeur bedreig word.

Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas en ook ’n trustee, is vir kommentaar genader. Haar kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Shihaam Domingo  |  Ghoemas-Vrou  |  Hofmeyr-Toespraak  |  Haatpos  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.