Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gidshond ook beste vriendin

Dale is haar oë, vertroueling en beste vriendin.

Dale die gidshond word aan David en Otillia Wigley se pasgebore baba voorgestel.

Daarom was dié vierjarige labrador selfs by Otillia Wigley vir die geboorte van haar baba.

Die gesiggestremde Otillia sê die Life Hilton-hospitaal in KwaZulu­Natal was van die begin af baie tegemoetkomend en het toegelaat dat haar gidshond by kon wees deur die hele kraamproses.

Otillia het aan Rapport gesê sy het sonder enige pynmedikasie op 20 September geboorte aan haar dogtertjie geskenk. “Daar was baie gekreun en gesteun en asemhaling en snaakse goed wat Dale nog nie uit my mond uit beleef het nie.”

Dale het net aandagtig en ietwat dronkgeslaan na Otillia gekyk.

En toe die baba eers daar is, het haar pa, David, die hond op sy skoot getel om haar aan Elodie Amoranda Wigley voor te stel.

Otillia en haar hond het twee nagte in die hospitaal se kraamsaal deurgebring. Dale het op haar eie bed op die vloer geslaap, met haar sagte speelding by haar.

David het die hond buitentoe geneem sodat sy haar draaie kon loop.

Otillia sê sommige ginekoloë laat nie gidshonde in hul spreekkamers toe nie. Maar haar ginekoloog, dr. CF van Heyningen, en haar doula (iemand wat ’n vrou deur die kraamproses help), Ginny Oosthuizen, is mal oor Dale.

Dale en Otillia toe sy swanger was.
Otillia en David met Dale op hul troue verlede jaar.

“Hulle het Dale by alles betrek.”

Toe die gesin die hospitaal verlaat het, het die kraamsaalpersoneel hulle by die motor kom afsien. Dale het ’n “vet vryf” by hulle gekry.

Op agt maande swangerskap het Otillia ’n noue ontkoming gehad toe sy en Dale vir oefening gaan stap het. “Ek is gemug, letterlik ’n blok van my huis af.”

Sy het haar teen die aanvaller verset, maar hy het met haar foon weggekom.

Sy is daarna hospitaal toe net om seker te maak die baba het nie iets oorgekom nie. “Alles was fine. Ek was baie gelukkig.”

Sy sê as sy en Dale gaan stap, moet sy haar foon gebruik om huis toe te navigeer. “Veral as jy jou roetes verander, want dan weet jou gidshond nie watter roete jy nou volg nie. Dit raak ’n bietjie verveligom elke dag dieselfde roete te stap.”

Otillia was ses jaar oud in 1994 toe haar onderwyser agterkom sy kan nie duidelik op die skryfbord sien nie.

Ná vele besoeke aan ’n spesialis is Stargardt se siekte by haar gediagnoseer. Die siekte veroorsaak progressiewe skade aan die makula, die klein gedeelte in die middel van die retina wat verantwoordelik is vir skerp visie reguit van voor.

Otillia het in 2006 matriek aan die Prinshof-skool in Pretoria behaal.

Toe sy en David in April laas jaar getroud is, het Dale die ringe aangedra. Otillia sê Dale het elke gas op die troue se hart vermurwe toe sy met blomme aan haar harnas in die paadjie afgedraf het om die ringe te bring. Die hond was uit haar vel en het later op die dansbaan rondgehop.

Meer oor:  Geboorte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.