Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gift of the Givers help 10 gesinne in haglike situasie
’n Meisie van die Withoogte-gemeenskap stap Dinsdag huis toe met brood wat sy by Gift of the Givers gekry het. Foto: Lulama Zenzile

Die Gift of the Givers (GOG) het Dinsdag noodleniging verleen aan tien gesinne wat onder haglike omstandige op die Withoogte-plaas buite Uitenhage in die Oos-Kaap woon.

Die gesinne, onder wie tien kinders, woon in bouvallige plaashuise en motorhuise. Hulle het geen toegang tot lopende water, elektrisiteit en werkende sanitasiegeriewe nie.

Weens die gebrek aan water is dit onmoontlik vir lede van die gemeenskap om tydens die Covid-19-pandemie gereeld hul hande te was. Kos is vir inwoners van dié gemeenskap ’n skaars kommoditeit.

Die nasionale inperking maak dit vir baie van hulle onmoontlik om tydelike werkies te gaan doen.

Hulle sê die inperking het die hongersnood erg laat toeneem.

Buiten die bestaande nood aan kos, gaan inwoners swaar gebuk onder maatskaplike probleme weens inwoners wat nie identiteitsdokumente het nie. Daarsonder is dit vir hulle moeilik om maatskaplike hulp, soos Sassa-toelaes, te kry.

Die meeste van die kinders het ook nie geboortesertifikate nie.

Die gemeenskap is in Augustus verlede jaar geruk deur die grusame moord op en verkragting van die vyfjarige Chantelle Makwena. Haar ma, Veronica (23), sê sy bly al van kleins af op Withoogte.

“Ons lewensomstandighede is haglik. Hier is nie water of elektrisiteit nie en almal kry swaar.

“Grootmense en veral die kinders is ondervoed, want kos is baie skaars. ’n Mens weet nooit waar die volgende krummels vandaan gaan kom om jou honger te stil nie.”

Inwoners van Withoogte was dae lank honger voordat Gift of the Givers met die skenkings opgedaag het. Foto: Lulama Zenzile

Inwoners was baie verlig toe GOG Dinsdag met kos en water opdaag.

Kos, 60 liter drinkwater en skryfbehoeftes (vir die kinders) is afgelewer.

Volgens die inwoners is hul gebede verhoor.

“Dit was vir my ’n reuse-, reuse-verligting om kos en water te kon kry Ek wil die weldoeners bedank dat hulle die moeite gedoen het om hierheen te kom. Dit beteken vir my alles,” sê Veronica.

GOG sê die inwoners het ’n dringende tekort aan water.

“Die gesinne kan hulle nie in die pandemie was nie, wat nog te sê gereeld hande was.

“Hulle woon al hul hele lewe lank op die plaas en is nie bereid om na informele nedersettings te trek nie. So ironies soos wat dit is, is die plaas hul enigste veilige hawe,” het GOG ná die besoek gesê.

’n Maatskaplike werker het GOG van die gemeenskap se nood in kennis gestel.

Meer oor:  Uitenhage  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.