Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Giftonge kasty Suid-Afrika se mooiste mans

Die tien finaliste in vanjaar se Mnr. Suid-Afrika-kompetisie loop erg deur onder giftonge wat sê hulle is “lelik” en “vet”.

Danie Doman, een van die tien finaliste in die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.

Kaalbolyf-foto’s van die hubare finaliste is die afgelope week op sosiale media bemark.

Die kompetisie se tema is “#ManEnough”.

Die finaliste het los geknoopte jeans aan sodat hul geborgde onderbroeke koekeloer.

Maar in plaas van prikkel het van die foto’s Twitter-gebruikers laat giggel.

“Jy sal nooit sê daar is enige aantreklike mans in Suid-Afrika as dít is hoe die topfinaliste lyk nie,” het een persoon getwiet.

Verskeie mense het die Mnr. SA-finaliste vergelyk met dié in die Mej. SA-kompetisie. Kritiese Twitter-gebruikers het ook min genade gehad vir die uitdagings van modelle ná maande van Covid-19-inperking.

“Hulle is te lui om te oefen,” was nog ’n Twitter-gebruiker se kritiek.

Die kompetisie is as ’n “nasionale grap” beskryf. “Wie het hierdie ouens gekies? Ek ken ’n goeie oogkundige,” het nog ’n persoon opgemerk.

Die tien finaliste in vanjaar se Mnr. Suid-Afrika-kompetisie. Foto: Facebook

Dit is nie die eerste keer dat Mnr. SA-finaliste op dié manier deurloop nie. Verlede jaar het die organiseerders foto’s van die top-20-finaliste gepubliseer, maar dit later van Twitter verwyder weens kritiek.

JP Robberts, uitvoerende hoof van die Mnr. SA-kompetisie, sê die kritiek pla hom min. “Mnr. Suid-Afrika is nie meer ’n skoonheidskompetisie nie sedert ek dit in 2018 oorgeneem het.

“Deelnemers word beoordeel op hul vermoë om ambassadeurs te wees en om ’n voorbeeld vir jongmense te stel. Hulle hoef nie soos voorbladmodelle te lyk om dit te kan doen nie.”

Hulle is nie professionele modelle nie. Hulle weet nie hoe om voor ’n kamera te poseer nie.

Gevra waarom die finaliste dan met hul broekknope oop en sonder ’n hemp afgeneem word, het Robberts gesê daar is ’n swemklere-afdeling in die kompetisie.

Die vervaardiger van die onderbroeke is een van die kompetisie se borge.

Ook die fotograaf het deurgeloop onder mense wat opgemerk het dit lyk of die foto’s met ’n slimfoon geneem is.

Dionne Jordaan, die fotograaf, sê dié kritiek is ongevraag.

’n Twitter-gebruiker vergelyk die Mej. SA-finaliste met dié in die Mnr. SA-kompetisie.

“Die finaliste is nie professionele modelle nie. Hulle weet nie hoe om voor die kamera te poseer nie. Ek het geen beheer oor hoe hulle voor die kamera poseer nie.”

Ashraf Ismael, ’n medeaandeelhouer in Mnr. Suid-Afrika en ’n voormalige deelnemer, sê hy verkwalik vir Robberts, self ’n voormalige tweede prins in dié kompetisie, vir die kritiek.

“JP is verantwoordelik vir hierdie epiese mislukking – nie die finaliste of die fotograaf nie.

“JP was nie bereid om in die fotosessie te belê nie en die fotograaf moes gratis werk. Goedkoop is duurkoop en dit is die rede waarom die finaliste amateuragtig lyk.”

Roan Kitshoff, nog ’n finalis. Foto: Facebook

Ismael sê vroue se reaksie op Twitter dui daarop dat hulle nie aanklank vind by die kompetisie nie. “Vroue is op soek na ordentlike en aantreklike mans met ’n sterk, manlike voorkoms, maar dit word nie genoegsaam in die kompetisie uitgebeeld nie.

“Vroue se reaksie is daarom negatief.”

Ismael en Rudi Baker, voormalige eienaar van die Mnr. SA-handelsnaam, is in ’n regstryd met Robberts gewikkel.

Baker eis meer as R1 miljoen van Robberts omdat laasgenoemde glo nog net R240 000 van die R1,5 miljoen-koopprys aan hom betaal het.

Robberts sê hy gaan nie op Ismael se bewerings reageer nie.

Meer oor:  Rudi Baker  |  Dionne Jordaan  |  Jp Robberts  |  Ashraf Ismael  |  Mnr. Sa  |  #Manenough
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.