Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gifverslag aangevra ná tienermeisie se dood

’n Toksikologiese verslag is aangevra nadat die oorsaak van ’n tienermeisie in Port Elizabeth se dood nie deur ’n lykskouing bepaal kon word nie.

Tammy Ingram (12) is verlede Sondagoggend onder raaiselagtige omstandighede in die hospitaal dood nadat sy ’n dag vroeër saam met haar broer, Matthew (16), en hul ouers, Stenton en Selina, hospitaal toe gehaas is toe hulle ernstig siek geword en begin braak het.

Die begrafnisbrief van Tammy Ingram, wat die afgelope naweek begrawe is. Foto: Facebook

Volgens ’n familielid het toetsuitslae by die hospitaal aangedui dat tekens van ’n giftige gas in Tammy se liggaam gevind is.

Monsters van Tammy se bloed, asook haar en Matthew se klere en die forensiese bewyse wat binne hul huis in ’n woonkompleks in Kabegapark gevind is, word na ’n laboratorium in Pretoria vir ontleding gestuur.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die toksikologiese verslag, wat moontlik meer lig sal werp op wat in Tammy se bloed was, word egter nie gou verwag nie.

Vroeër is berig dat ’n buurman van die Ingram-gesin blykbaar beweer het dat een van die huise in die woonkompleks, naby die Ingram-gesin se huis, gefumigeer is die dag voordat hulle siek geword het.

’n Groep mense het die afgelope naweek voor die Greenacres-hospitaal in Port Elizabeth ontmoet, waar hulle saam vir die herstel van Matthew Ingram gebid het, wat tans in die waakeenheid is. Foto: Facebook

Inwoners van die duplekswooneenhede waar die gesin woon, is blykbaar gewaarsku om die wooneenheid Vrydagaand te ontruim, maar die Ingram-gesin was glo nie hieroor ingelig nie.

Die polisie het reeds ’n verklaring van die betrokke plaagbeheermaatskappy bekom, maar Naidu wou nie oor die besonderhede uitwei nie. ’n Geregtelike doodsondersoek word steeds gedoen.

Andrew Chetty, Selina se broer, wat namens die familie praat, het Maandag aan Netwerk24 gesê die familie probeer sterk staan, maar die Ingram-egpaar sukkel nog om Tammy se dood te verwerk, veral terwyl hul seun steeds om sy lewe in die hospitaal veg.

Tammy se roudiens is Saterdag regstreeks aanlyn uitgesaai.

Stenton het gesê só hartseer soos wat hy is, gaan hy sy dogter se dood gebruik om die woord van God te versprei, deur ’n waarskuwing te rig.

“Ons was nie gewaarsku nie. Op die dag van die fumigasie was ons veronderstel om gewaarsku of ingelig te word. As ons net gewaarsku was, sou dinge baie anders gewees het.

“Die waarskuwing vandag is, maak jou saak reg met God, laat ons tot bekering kom en ons lewens oorgee aan Hom, want die oordeelsdag kom. Die hoop is op ’n ewige lewe saam met God en ons moet gereed wees – dit is die waarskuwing,” het Stenton gesê.

Matthew Ingram en sy suster, Tammy. Foto: Facebook

Intussen kom mense saans om 18:00 bymekaar voor die Greenacres-hospitaal, waar Matthew in die waakeenheid is, om vir sy herstel te bid.

Volgens Chetty is hy steeds in ’n geïnduseerde koma. Matthew se liggaam het oënskynlik ook goed gereageer op nuwe behandeling wat oor die naweek begin is.

Chetty het ook sy dankbaarheid uitgespreek aan elkeen wat getrou vir Matthew en hul familie bid, asook vir die finansiële ondersteuning.

Die Ingram-egpaar, wat albei vir hulself werk, het hul lidmaatskap aan ’n mediese fonds vroeër vanjaar gekanselleer as gevolg van die finansiële druk wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is en ontvang nou ondersteuning deur aanlyn fondsinsamelings.

“Die ondersteuning is ongelooflik groot. Selfs mense wat nie die familie ken nie, help. Ons weet die hospitaal se rekening gaan ’n riller wees. Daarom is ons opreg dankbaar vir elkeen se hulp. Die grootste hulp op die oomblik sal steeds elkeen se gebed vir Matthew se herstel wees,” het Chetty gesê.

Meer oor:  Tammy Ingram  |  Port-Elizabeth  |  Woonkompleks  |  Verslag  |  Gif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.