Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Glansfotograaf met Covid-19 op ventilator

’n Voormalige hooffotograaf van die tydskrif Huisgenoot, wat veral bekend is vir die glansfoto’s wat hy van bekendes neem, is op ’n ventilator in die Durbanville Mediclinic met Covid-19.

Jacques Stander (52) se toestand het die afgelope 13 dae wipplank gery sedert hy op 31 Desember begin sleg voel het, sê sy jonger suster, Lise Maloney (47).

Hoewel hy nie tans self asem haal nie, lyk sy suurstofvlakke en bloeddruk goed en hy is in ’n stabiele toestand.

Elsje en Jacques Stander.

“Ons weet nie hoe hy die virus kon opdoen nie. Omdat hy ’n diabeet is, was hy nog die heeltyd superversigtig en het elke protokol gevolg. Hy het selfs ’n spesiale masker met ’n filter,” sê Maloney.

“Ek het hom op Nuwejaarsdag gebel en hy het gesê hy voel baie sleg. Hy het vreeslike lyfseer gehad, kopseer, sy maag was omgekrap en later die dag het hy ook ’n koors ontwikkel.”

Hy is daarna dokter toe en volgens Maloney het die dokter hom een kyk gegee en gesê hy sal opgeneem moet word.

“Dit is eintlik wonderlik, want deesdae moet ’n mens aan tien verskillende kriteria voldoen voordat jy ’n bed kan kry.”

Jacques Stander en sy jonger suster, Lise Maloney.

Stander is verlede Maandag vir twee dae in die waakeenheid opgeneem, waarna hy weer vir twee dae na ’n gewone saal geskuif is.

“Hy het goed gelyk, maar later weer baie ernstige asemnood gehad. Toe is hy weer terug na die waakeenheid. Hier het sy toestand bly verswak, al het hy die meeste suurstof gekry wat hy kon.”

Maloney sê haar broer was bekommerd oor sy vrou, Elsje, en kinders, Zique (16) en Ellebelle (10), en het vir Elsje gebel om oor die stand van sy testament te praat.

“Sy wou net niks daarvan hoor nie. Ons almal glo vas hy gaan gesond word. Maar ek dink dit is normaal vir iemand wat siek is, of selfs in ’n motorongeluk was, om te dink aan goed soos ’n testament.”

Stander het Elsje weer Sondag gebel en gesê die dokters gaan hom nou onder narkose plaas en aan ’n ventilator koppel.

’n Foto van die sangeres Karen Zoid wat deur Stander geneem is vir die voorblad van die tydskrif ‘Huisgenoot’. Foto: Facebook/Jacques Stander

“Dit was vir Elsje en vir die res van die familie ontstellend, maar ons glo hy rus nou en hy toon goeie tekens van herstel,” sê Maloney.

“Al het ek self my man aan die dood afgestaan, kan ek my steeds nie indink hoe dit vir Elsje moet voel nie.”

Sy sê sy was in Julie siek met Covid-19 en het ook in die hospitaal gaan draai.

“My tienerdogters het my daardeur gehelp deur al die werkies in die huis te doen terwyl ek net aanhoudend geslaap het. Dit was my grootste simptoom.”

Maloney sê sy bel elke oggend en aand die hospitaal om te hoor hoe dit met haar broer gaan en hou vriende, familie en kollegas op hoogte van sy toestand deur middel van WhatsApp-groepe.

Meer oor:  Glansfotograaf  |  Jacques Stander  |  Lise Maloney  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.