Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
G’n bewys van Crowd1-produkte

Crowd1, die omstrede netwerkbemarkingskema wat beloof om van honderde mense landwyd kitsmiljoenêrs te maak, verkoop ’n enkele produk: ’n “opvoedkundige” pakket wat jou vertel hoe die skema werk en hoe om dit te bemark.

Collin Campbell (26) van Silver Lakes in Pretoria het ’n maand en ’n half gelede vir hom ’n Jeep Wrangler gekoop met die geld wat hy uit Crowd1 verdien het. Hy het verlede Desember aangesluit by Crowd1 nadat hy sy werk as motorverkoopsman verloor het. Volgens Campbell het hy ook al R200 000 se skuld afbetaal.

Rapport kon die afgelope week geen bewyse kry van enige ander produk wat verkoop word om die enorme winste en kommissies wat die maatskappy betaal, te regverdig nie.

Alhoewel bemarkingsmateriaal van Crowd1 voorgee dat hy bande het met aanlyn dobbel en aanlyn speletjies deur die maatskappye “Affilgo” en “Miggster”, kon die koerant geen bewyse vind dat dié maatskappye enige dobbelbedrywighede of aanlyn speletjies besit, bedryf of kommissies daaruit verdien nie.

Die maatskappy beloof al geruime tyd dat daar Saterdag ’n aankondiging kom oor nuwe produkte wat deur die Crowd1-platform bemark gaan word.

Intussen het Bheki Cele, minister van polisie, Saterdag gesê hy is beslis nié ’n Crowd1-belegger nie. Dit volg nadat ’n Crowd1-belegger, Jabulani Khumalo, ’n foto van Cele op hul Facebook-blad geplaas het met die boodskap “even Bheki Cele is with crowd1 do (you) still think (it) is scam or pyramid scheme”.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het Saterdag gesê daar is “absoluut geen verbintenis” tussen Cele en Crowd1 nie.

Khumalo het aan Rapport gesê die foto is geneem net voor ’n Crowd1-geleentheid in Sandton verlede jaar. Hy sê hy het gehoor “iemand anders” het ’n Crowd1-pakket aan Cele verkoop.

Sedert Rapport se berig verlede week het die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FCSA) Crowd1 aangegee by die Reserwebank se omsigtigheidsowerheid, wat met ’n ondersoek na sy bedrywighede begin het. Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) ondersoek ook klagte teen Crowd1.

Daar is dus nou minstens ses lande wêreldwyd waar regulatoriese owerhede die maatskappy ondersoek of amptelike waarskuwings teen die maatskappye uitgereik het.

Intussen het talle Crowd1-lede die afgelope week gekla dat hul “fear of loss”-bonus nie betaal is nie. Dit is 125 vir nuwe lede wat binne twee weke nóg vier mense oortuig om aan te sluit.

Bestuurders van Crowd-1 het egter die versekering gegee dat dit weens ’n “sagtewarefout” is en reggestel sal word.

Ondanks waarskuwings van talle finansiële adviseurs, sê dissipels van die skema dit is niks anders as ’n netwerkbemarkingskema soos Herbalife nie.

’n Enkelma van Pretoria wat weens ’n hangende egskeiding nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy was platsak voordat sy by Crowd1 aangesluit het.

“Ek kon nie melk en brood koop nie.” Sy is nog altyd in netwerkbemarking, maar niks kom by Crowd1 nie. Ek hoef nie ’n poeiertjie of ’n roompie aan jou te verkoop nie.” Sy kon danksy Crowd1 vir haar dogter ’n tweedehandse Mercedes A-klas koop.

Jonathan Strom, hoof van Crowd1 se Afrika-uitbreiding, hou in ’n e-pos vol dat hulle digitale produkte bemark. Alhoewel daar wel ’n maatskappy Crowd1 South Africa in Suid-Afrika geregistreer is, is Affilgo en Miggster nie hier geregistreer nie.

Luidens Crowd1 se webwerf verdien sy lede geld elke keer as iemand musiek of videospeletjies aflaai deur die aanlyn netwerk Miggster of wanneer mense deur Affilgo dobbel. Volgens Strom sal Miggster in die derde kwartaal bekend gestel word.

Hy sê daar is ’n wanopvatting dat mense in Crowd1 inkoop.

“Daar is geen inskrywingsgeld in Crowd1 nie, en dus geen inkomste uit die aanmeldproses nie. Alle omset in Crowd1 kom uit produkverkope, waar onderwyspakkette een van die produklyne verteenwoordig.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Ponzi-Skema  |  Piramideskema  |  Crowd1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.