Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘G’n halaal-kos vir ons’

Die halaal- en kosjer-sertifiserings van voedselprodukte gaan ondersoek word nadat Christene gekla het hulle word gedwing om dié gelowe te ondersteun.

Die halaal-sertifiseringsmerk.

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) is oorval met klagtes van Christene wat meen dit druis teen hul geloof in om deesdae oorwegend halaal-gesertifiseerde kruideniersware in groot kettingwinkels te koop. Sommige klagtes lui dat hulle nie kos wil eet wat aan “ander gode geoffer” is nie.

’n Geraamde 60% van kosprodukte is halaal-gesertifiseerd. Kosverskaffers betaal tariewe aan sertifiseringsagentskappe om te sertifiseer dat hul produkte voldoen aan die vereistes van die Joodse of Islamitiese geloof.

Vier agentskappe in Suid-Afrika bied halaal-sertifiserings. Nie een van hulle het vrae beantwoord oor hoeveel hulle vra vir die sertifisering van produkte nie.

Thoko Mkhwanazi-Xaluva, kommissaris van die CRL, bevestig die klagtes en dat die CRL ondersoek gaan instel.

Sy sê selfs gebottelde water word deesdae gesertifiseer.

“Suid-Afrikaners moet voedselvervaardigers moeilike vrae begin vra oor hoeveel geld hulle bestee vir halaal- en kosjer-embleme op produkte.

“As ek produkte koop wat kosjer- of halaal-gesertifiseerd is, beteken dit ek subsidieer ’n ander geloof. Ek betaal hulle indirek vir iets wat nie my geloof is nie. Ons het ons bekommernis met die Moslem- Juridiese Raad opgeneem om te bepaal hoeveel geld hulle insamel vir halaal-sertifisering.”

Gode-aanbidding is nie deel van die Moslem-geloof nie . . . Halaal-sertifisering beteken bloot dat bepaalde verbode bestanddele nie in die produksie van die kos gebruik word nie.

Mkhwanazi-Xaluva sê sekere verbruikers voel so sterk dat hulle supermarkte soos Pick n Pay, Checkers en Shop­rite vermy omdat hul eie handelsmerkprodukte as halaal gesertifiseer is.

Die verbruikers dring ook daarop aan dat die sertifiseringsmerk duideliker op produkte moet wees sodat Christene dit kan vermy as hulle wil.

Hulle vereis dieselfde van restaurante en kitskosplekke.

Die klaers meen hul regte word aangetas deur die grootskaalse sertifisering terwyl slegs 2,6% van die bevolking Moslems is teenoor die 43,4 miljoen Christene in die land.

Dokumentasie wat Rapport se susterskoerant, City Press, onder oë gehad het, wys dat sommige klaers selfs meen hulle word gedwing om aan Sjaria-wette te voldoen en ondersteun daardeur indirek die vervolging van Christene in Moslem-lande, die bou van moskees en bied finansiële steun aan terreurgroepe soos Isis en Hamas.

Moslemse instellings het by navraag gesê die bewerings is “onwaar, versinsels en klagtes wat met minagting verwerp behoort te word”.

’n Christen-klaer van Laudium, Pretoria, meen as Christen het sy geen keuse as om halaal-items te koop nie, al is dit ’n “belediging” vir haar geloof. “Vandat ek ’n kind was, het ek Kellogs-ontbytpap geëet. Nou word ek gedwing om halaal-Kellogs te eet, want dit is al wat in my supermark beskikbaar is.”

Hafez Moorad Booley, voorsitter van die Nasionale Onafhanklike Halaal Trust (NIHT), sê die sertifisering behels bloot ’n oorsig van die totale produksieproses van kos en die produkte wat gebruik word om te verseker dit bevat geen vark, insekte, urien, alkohol, dierbyprodukte, bloed, verbode geneties-gemodifiseerde organismes of skadelike aanvullings en kleurstowwe nie.

“Afgesien daarvan moet ons beklemtoon dat geen kos aan enige gode geoffer word, soos beweer word nie.

“Gode-aanbidding is nie deel van die Moslem-geloof nie. Een van die wanopvattings is dat halaal beteken ’n klomp priesters wat in die fabriek prewel en gewone kos in halaal-kos verander.

“Dit is geheel en al onwaar. Halaal-sertifisering beteken bloot dat bepaalde verbode bestanddele nie in die produksie van die kos gebruik word nie.”

Booley sê die koste van die sertifisering is minimaal en word nie deur die verbruiker gedra nie.

Die bewering dat die opbrengs van sodanige produkte gebruik word om terreurorganisasies te finansier, is onsin. “Die NIHT is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag. Ons finansies word jaarliks behoorlik geoudit.

“Ons algehele teenstand en verwerping van enige sogenaamde Islamitiese organisasies soos Isis, Al-Kaïda, Al-Sjabaab en Boko Haram is herhaaldelik al bevestig,” sê Booley.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, NG Kerk-moderator, sê aan Jeanne-Marié Versluis Christene hoef nie skuldig te voel of bang te wees om kos met halaal- en kosjer-sertifiserings te eet nie, want die Christelike geloof “maak ons vry en gee ons ruimte”.

Hy sê die apostel Paulus skryf breedvoerig in 1 Korintiërs oor die vraag of ’n mens vleis wat aan ’n afgod geoffer is, mag eet. Paulus sê: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”

Janse van Rensburg sê dit maak aan ’n Christen geen verskil as dié sulke gesertifiseerde kos eet nie. Sover hy weet het die kerk nog net een navraag ontvang van ’n lidmaat wat bekommerd is oor die kommer­siële gewin wat spruit uit sulke sertifiserings.

’n Woordvoerder van Pick n Pay sê “sertifiseringskoste is minimaal en geen koste word oorgedra aan klante nie”.

“Klante wat nie kos wil koop wat gesertifiseer is vir godsdienstige doeleindes nie, kan alternatiewe in ons winkels kry. Die oorgrote meerderheid van ons klante wat nie Moslems is nie, voel glad nie beledig deur die sertifisering nie.”

Rabbi Dovi Goldstein, hoof van die kosjer-sertifiseringsagentskap, sê dis ook ’n organisasie sonder winsbejag en sertifisering verhoog nie die prys van kos nie.

Meer oor:  Thoko Mkhwanazi-Xaluva  |  Christene  |  Moslems  |  Halaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.