Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
G’n kans vir man om oupa se begrafnis by te woon

’n Man van Mbombela wat na die Oos-Kaap wou ry om sy ma by te staan ná die dood van sy oupa, kon nie slaag met ’n dringende aansoek in die hooggeregshof nie.

Karel van Heerden het Vrydag die dringende aansoek gebring om tussen provinsies te reis en gesê sy ma het hom vroeër die oggend gebel en gesê van sy oupa se dood.

Hy het aansoek gedoen om van Mbombela na Hofmeyr in die Oos-Kaap te reis om sy ma by te staan met die reëlings vir ’n begrafnis in die komende week.

Waarnemende regter Henk Roelofse het in sy bevinding gesê Van Heerden het gevra die hof moet hom tydelik van die verbod ingevolge die regering se noodregulasies vrystel sodat hy Saterdag na Hofmeyr kon ry en weer op 7 April na Mbombela kon terugkeer.

Van Heerden het in ’n beëdigde verklaring ter ondersteuning van sy aansoek gesê hy sal geen risiko inhou vir enigiemand om Covid-19 op te doen nie omdat hy met niemand uit die buiteland kontak gehad het nie en ook geen teken wys van die simptome van die siekte nie.

Van Heerden het ook onderneem om al die ander regulasies na te kom en dat hy die nodige voorsorgmaatreëls sou tref om te verseker dat hy nie met die virus besmet word of enigiemand anders besmet nie.

Roelofse het in sy bevinding uitgewys wat die regulasies van die inperking van mense is en dat mense tot hul huise beperk is tensy hulle betrokke is by die lewer van noodsaaklike dienste soos wat in dié regulasies uiteengesit is.

Alle byeenkomste buiten begrafnisse is verbied. Die beweging van mense tussen provinsies, metropole en ander distrikte is ook verbied.

Enigiemand wat dié regulasie verbreek, is skuldig aan ’n strafregtelike oortreding.

Volgens Roelofse is die omstandighede van Van Heerden se aansoek ontstellend en wys op die harde werklikheid van die regulasies.

Hoewel hy simpatie het met Van Heerden, is daar ’n verbod op dit waarvoor hy aansoek doen, en om dit goed te keur sou beteken dat iemand die hof se toestemming kry om die wet te oortree. Geen hof kan so iets doen nie.

Roelofse het bygevoeg dit maak nie saak hoe versigtig en sorgsaam Van Heerden sou optree nie. Hy sal homself en ander mense blootstel aan onnodige risiko, selfs die dood. Daarom is die dringende aansoek van die hand gewys, het Roelofse gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.