Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘G’n kwade gevoelens’ ná seun pelvis by skool breek
’n Skermgreep van die video waarin Tryston Jansen van Vuuren mense vir hul ondersteuning bedank. Foto: Skermgreep

Die ouers van ’n gr. 9-leerling van die Oos-Rand het gesê hulle het “geen kwade gevoelens” nadat hy sy pelvis in ’n fratsongeluk by die skool gebreek het nie.

’n Massiewe trekkerband het Maandag by die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg op Tryston Jansen van Vuuren (14) geval toe hy en sy maats besig was om daarmee te speel.

Sy maats het hulp gaan soek en ’n sportafrigter het hom na die seun gehaas, luidens ’n verklaring van Netcare 911, wat na die toneel ontbied is.

Paramedici was net ná 12:00 op die toneel en luidens die verklaring het Tryston ernstige interne beserings opgedoen.

Leon de Beer, die skoolhoof, het Dinsdag in ’n video op die skool se Facebook-blad gesê Tryston is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer.

Volgens De Beer het hy Maandagaand ’n operasie ondergaan.

Hy het gesê “onder omstandighede” gaan dit goed met Tryston. Hy het gepleit dat die ouers en die skoolgemeenskap die seun en sy familie in hul gebede moet opdra.

“Ek glo Tryston gaan nog lank in die hospitaal wees, maar ons hoop om hom weer vinnig by die skool te sien,” het hy gesê.

Michelle Jansen van Vuuren, Tryston se ma, het Dinsdag aan Netwerk24 bevestig dat haar seun sy pelvis gebreek het, maar wou nie oor sy beserings uitwei nie.

“Hy is in ’n stabiele toestand. Hy vaar baie goed,” het sy gesê.

Ek glo Tryston gaan nog lank in die hospitaal wees, maar ons hoop om hom weer vinnig by die skool te sien.

Volgens haar het sy en Tryston se pa reeds met die skoolhoof oor die voorval vergader.

“Ons koester geen kwade gevoelens nie. Dit was ’n fratsongeluk en dit kon met enigiemand gebeur het. Dit was seuns wat besig was om seuns te wees.”

Tryston Jansen van Vuuren is tans ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg. Foto: Verskaf

Sy het ook gevra dat die gemeenskap vir Tryston se beterskap sal bid en het diegene bedank wat die gesin bystaan.

’n Video van Tryston wat met die toestemming van sy ouers gebruik is, wys hoe die seun vanuit die hospitaal mense vir hul ondersteuning bedank.

“Baie, baie dankie vir al die gebede en bystand en goed. Ek wil net baie dankie sê vir die hoof en vir al die kinders en ma’s en pa’s wat my bystaan. Ek waardeer dit regtig baie,” sê Tryston in die video.

Op die video kan ’n plastiekstut om sy nek gesien word en dat hy suurstof ontvang.

Deon Swart, ’n lid van die skool se beheerliggaam, het Maandag aan Werner Beukes gesê die kinders was in ’n deel van die skoolterrein waar leerlinge nie toegelaat word nie.

“ ’n Interne ondersoek is begin om uit te vind wat presies gebeur het,” het Swart gesê.

Die Gautengse departement van onderwys het die voorval bevestig en verteenwoordigers het die skool Dinsdag besoek.

Steve Mabona, woordvoerder van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, het gesê hulle is deurgaans in gesprek met Tryston se ouers.

Hy het gesê die nodige sielkundige ondersteuning word gebied aan die ouers en almal wat deur die voorval geraak is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.