Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘G’n ondersoek teen my,’ sê omstrede MRK-man

Buang Jones, omstrede nasionale hoof van regsdienste by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), sê daar is geen formele ondersoek teen hom oor sy uitlatings oor die Springbokslot Eben Etzebeth nie.

Jones het dit Dinsdagoggend aan LP’s by die parlement in sy onderhoud vir die pos van adjunk- openbare beskermer (OB) aangevoer. Hy is een van agt kandidate met wie LP’s onderhoude voer om adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, se adjunk te word.

Met die aanvang van sy onderhoud is Jones gevra om te verklaar of hy tans aan enige tugverhoor of interne ondersoek onderwerp word.

Buang Jones

“Ek wil dit op rekord stel dat daar tans geen formele tugverhoor of -ondersoek deur die MRK teen my is nie. Daar was wel ’n versoek van die Afrikanerbond dat die MRK die gepastheid van my opmerkings (in die Etzebeth-sage) moet ondersoek,” het Jones gesê.

“Die MRK het intussen twee regsmenings ingewin waarin ek in albei vrygespreek is. Ek hoop daarom dat die MRK se feiteondersoek daaroor binnekort afgehandel sal word. Ons uitvoerende hoof is verantwoordelik vir die tugprosesse in die MRK en tot op hede het ek nog geen formele kennisgewing ontvang dat daar ’n ondersoek of tugverhoor aan die gang is nie.”

Die parlement het vroeër gehoor dat die MRK besluit het om Jones te ondersoek weens sy beweerde “problematiese uitlatings” in die Etzebeth-aangeleentheid.

Die MRK het vroeër namens vier klaers van Langebaan ’n saak van haatspraak teen die Springbokslot aanhangig gemaak.

Jones het kort daarna op ’n gemeenskapsvergadering op dié Weskus-dorpie gesê dat Etzebeth voorheen “met moord weggekom het” en dat die MRK “ ’n voorbeeld van hom wil maak”.

Dit volg nadat Etzebeth daarvan beskuldig is dat hy en ’n groep ander mans in Augustus na bewering twee mans in Langebaan aangerand en die h-woord teenoor hulle gebruik het.

Etzebeth, wat terug in die land is ná die Springbokke se oorwinning in die Rugbywêreldbekertoernooi in Japan, ontken die beweringe teen hom te sterkste.

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Buang Jones  |  Eben Etzebeth  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.