Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gorilla gaan op wandeling deur dieretuin in Pta

Die flaminke was so móói en die res van die omgewing so interessant, dat Binga, die gorilla, skynbaar, soos menige besoeker aan die Nasionale Dieretuin in Pretoria, half in verwondering die paadjie tussen die dierekampe afgedrentel het.

Binga met sy verjaardag in Desember.Foto: Deaan Vivier

Mense wat hom gesien het, sê daar was Vrydagoggend geen haas of aggressie by dié gorilla te bespeur terwyl hy vlugtig die omgewing buite sy eie kamp gaan verken het nie.

“Hy was baie ontspanne en het hom soos ’n besoeker gedra wat die uitsig geniet,” sê Thompson Mutshinyalo, waarnemende uitvoerende direkteur van die dieretuin.

Hy verduidelik egter gou: Dié 17-jarige gorillamannetjie ís van nature die effens meer skugter, rustige een van die vier hoogs bedreigde primate wat ’n kamp deel.

“Dit is hoekom dit so vreemd is dat hy uit sy hok gekom het. Ons vermoed ’n oorhangende tak van ’n palmboom buite die gorillakamp het ’n rol gespeel,” sê Mutshinyalo.

Dit blyk dat die tak oor die muur van byna 5 m hoog gehang het. Die gorilla van byna 180 kg het glo die tak beetgekry en aan die ander kant van die kamp beland.

“Ons personeellede doen gereeld inspeksie en een het gesien Binga is aan die verkeerde kant van sy kamp. Ons het ’n reaksiestrategie en spesifieke protokol in plek vir sulke gebeure en ons personeel is opgelei vir sulke situasies. Die dieretuin het ook kennisgewingborde wat noodprosedures aan besoekers verduidelik,” sê Mutshinyalo.

“Toe die personeellid sien Binga het ontsnap, het ’n alarm wat dié soort noodgeval aandui, dadelik afgegaan. Dit was gelukkig voor 10:00 en, omdat dit winter is, is daar nie baie besoekers daardie tyd in die dieretuin nie.”

Binne minute was die besoekers uit die pad en die veearts op die skurwe hakke van Binga, wat in daardie stadium die flaminkkamp bekyk het.

Die gorilla, Binga, wat Vrydag buite sy kamp “gaan wandel” het. Foto: Deaan Vivier

Die fris gorilla is met ’n verdowingspyl geskiet voordat hy verder kon verken.

“Dit het sowat ses mense gekos om hom op ’n draagbaar te tel en in die (diere-)ambulans te kry. Die veearts het toe eers vir Binga ondersoek voordat hy terug na sy kamp geneem is. Hy was ’n rukkie later weer wakker en het geëet asof niks gebeur het nie,” sê Mutshinyalo.

Hy beklemtoon dat geen mens of ander dier in gevaar was nie.

“Ons sal vasstel hoe Binga uitgekom het en regstellende maatreëls instel om te keer dat dit weer gebeur.”

Bedreigde spesie

Binga en sy drie huismaats, Louis, Bosenga en Asali, is deel van die hoogs bedreigde Westelike laaglandgorillas in Sentraal-Afrika, waar kanse op oorlewing skraal is weens habitatvernietiging en stroping vir “bosvleis”.

Hulle is deel van die Europese program vir bedreigde spesies. Binga het in 2010 in Pretoria uit ’n dieretuin in Switserland, waar hy gebore is, aangekom.


Meer oor:  Dieretuin  |  Pretoria  |  Flaminke  |  Gorilla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.