Dit was omtrent ’n gedoente toe die bekendste inwoner van die Johannesburgse Dieretuin Saterdagoggend per helikopter Pretoria toe gevat is vir ’n mediese ondersoek.

Makoko, ’n 34-jarige gorilla van die Johannesburgse Dieretuin, word Saterdag met ’n helikopter na Onderstepoort geneem vir ’n CT-skandering. Hy het groeisels in sy neus wat pla.
Makoko, die dieretuin se 34-jarige westelike laaglandgorilla, moes ’n CT-skandering ondergaan by die Onderstepoort- veeartsenykundige akademiese hospitaal (OVAH).
Hy sukkel al geruime tyd met chroniese inflammasie van die slymvlies in sy neus en sedert Mei wil sy medisyne nie help nie. Die dieretuin se veeartse het toe ontdek hy het groeisels in sy neuskanaal wat sy asemhaling kan belemmer. ’n Operasie kan gedoen word, maar eers moes hulle Makoko se neus behoorlik skandeer.
Die dieretuin het nie die regte toerusting daarvoor nie en al uitweg was dat Makoko Pretoria toe gaan.
Maar ’n gorilla wat ’n stewige 210 kg weeg, laat hom nie sommer net dokter toe vat nie. MCC Aviation het ’n helikopter geborg vir die uitstappie.
Makoko is vroegoggend verdoof en ingelaai. By die OVAH het agt veeartse gewag – elkeen ’n spesialis in sy of haar veld, van tandheel- tot oogkunde. Teen middagete was Makoko weer terug by die huis.
Die gorilla het in 2004 sy intrek by die dieretuin geneem om Liza geselskap te hou nadat haar maat, die legendariese Max, dood is. Max was wêreldberoemd sedert ’n inbreker hom in 1997 geskiet het nadat hy in sy hok gespring het terwyl hy van die polisie gevlug het. Liza is twee jaar later dood en Makoko bly sedertdien alleen.
Gorillas leef gewoonlik tot omtrent 40 jaar.