Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gort is gaar oor hond in motor
Die hondjie sit in die voertuig van Rawson-eiendomme. Foto: Facebook/Zelda Swanepoel

’n Storm het losgebars om die kop van ’n eiendomsagent van Rawson-eiendomme in die Paarl nadat iemand haar hond alleen in die motor op ’n parkeerterrein gesien het.

“Hoe kry ’n mens dit oor jou hart om ’n hondjie in dié warmte in ’n motor te los?” vra Zelda Swanepoel op Facebook en deel foto’s van die agent se motor en die nommerplaat.

Op die foto’s kan gesien word hoe ’n klein hondjie, Sacci, aan die bestuurderskant sit met die venster wat op ’n skreef oop is. Die hond is glo ongedeerd.

Hoe kry ’n mens dit oor jou hart om ’n hondjie in dié warmte in ’n kar te los?

Swanepoel sê: “Al is dit net vir 10 min dis dodelik warm. Die vraag is, sou jy jou kind in die kar gelos het?”

Die plasing het wydverspreide ontsteltenis ontlok en is honderde kere,  ook deur die TV-aanbieder en kosskrywer Herman Lensing, gedeel.

Hy skryf by die plasing: “Dis ’n onvergeeflike daad om jou hond in ’n warm kar te los! Sies! Wie is die mens van Rawson Properties Paarl?! Sies!”

Die hond, Sacci, is glo ongedeerd. Foto: Verskaf

Die eiendomsagent, Liani Joubert, sê op Facebook: “Ek wil net opreg om verskoning vra dat ek gekies het om die hondjie in die kar te los eerder as saam te vat of ’n ander plan te maak.

“Het in die oomblik gedink dit sal oukei wees vir so klein rukkie, maar besef nou dit was vir seker die verkeerde besluit!

“Ek is lief vir diere en het deurgaans die hondjie se beste belange op die hart gehad, maar sal nooit weer so besluit neem nie. Al wat my te doen staan, is om om verskoning te vra! Om my opregte spyt te bewys, beloof ek om ’n donasie aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te maak ten bate van hul missie om diertjies soos hierdie te help.”

Liani is uitgekryt as ’n dieremishandelaar, ’n leuenaar en roekeloos in die kommentare en sommige eis selfs dat sy afgedank word. Sy sê Maandagaand op Facebook: “Die trane stort van my wang weens die toksiese gedrag van mense wat vergeet dat hulle ook mens is”.

Dis ’n onvergeeflike daad om jou hond in ’n warm kar te los! Sies! Wie is die mens van Rawson Properties Paarl?! Sies!

Lizette Joubert, eienaar van Rawson-eiendomme in die Paarl, het aan Netwerk24 gesê Liani, haar dogter, is “vreesbevange” en word aanlyn geboelie, en omdat haar nommerplaat op Facebook gedeel is, is sy verskeie keer gedreig.

“Sy en haar kêrel het die hondjie opgetel in Desember. Hulle het alles probeer om sy eienaar te vind, maar was onsuksesvol.

“Sy neem die hondjie toe in haar eie sorg en het hom veearts toe geneem om seker te maak hy is gesond. Sy het onlangs besluit om ’n oppasser vir die hond te kry, want die verhuurder van haar huis was nie tevrede met ’n dier op die perseel nie.

“Sy was Maandag op pad om die hond by die oppasser te gaan aflaai, maar sy moes by die winkel stop om gif te koop vir perdebye, aangesien daar ’n gevaar was dat die hond gesteek sou word by die oppasser se woning,” sê Lizette.

“Sy het die karwag gevra om te kyk dat die hondjie nie uitspring by die venster nie en het vinnig vir die perdebygif by die winkel ingehardloop.”

Dit is toe dat Swanepoel die foto geneem en op Facebook gelaai het.

Het in die oomblik gedink dit sal oukei wees vir so klein rukkie, maar besef nou dit was verseker die verkeerde besluit!

Lizette sê: “Die agent het ’n fout begaan. Ons keur dit nie goed om ’n hond in ’n motor te los nie. Maar sy het in die openbaar en onomwonde verskoning gevra en sy het restitusie by die DBV gedoen.”

Sy sê hoewel Liani haar dogter is, het sy die situasie hanteer soos sy enige ander situasie met personeel sou hanteer, “met regverdigheid teenoor alle partye”.

Volgens haar het iemand reeds voor die voorval onderneem om Sacci aan te neem.

Meer oor:  Dbv  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.