Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Goue oomblikke in Vrystaat-rugby

“Dit was skuins ná 17:30 op Saterdag 25 September 1976. Trane het in die Vrystaat-kleedkamer gerol. Daar was ’n stomme ongeloof oor dit wat daar tussen hulle gestaan het: Die gesogte Goue Beker, dié Curriebeker, was húl eiendom vir ’n jaar!

Een van die grootste oomblikke in Vrystaat-rugby se geskiedenis. Wouter Hugo, haker en kaptein van die Vrystaat, staan hier met die Curriebeker wat die span vir die heel eerste keer in 1976 gewen het. Die Vrystaat het die WP op 25 September 1976 met 33-16 geklop. Hier staan Sakkie van Zyl en Nelie Smith, afrigters, by Hugo. Die Vrystaat het die jaar ook met die All Blacks 15-10 afgereken. Foto: Wessel Oosthuizen / www.saspa.photoshelter.com

Daar het hulle in ’n kringetjie om die Goue Beker in hul kleedkamer gestaan.”

Dié woorde oor die Vrystaat se eerste oorwinning van die Curriebeker 43 jaar gelede eggo steeds in die gange van die hoofkwartier van Vrystaat Rugby onder die paviljoen van die Toyota-stadion in Bloemfontein.

Vandag gaan die Vrystaat probeer om die Goue Beker vir slegs die sesde keer te wen as hulle teen die Goue Leeus in hul tuisstadion uitdraf.

Een daarvan is gedeel, toe die Vrystaat in 2006 met 28-28 teen die Blou Bulle die louere gedeel het.

In dié jare was daar ikoniese oomblikke. Naas Wouter Hugo wat die Curriebeker die eerste keer in 1976 omhoog gehou het, was daar Ollie le Roux wat ’n sigaar aangesteek het langs die veld toe die Vrystaters die magtige Bulle in 2005 op Loftus Vers­feld verras het.

Die Vrystaat met Rassie Erasmus as afrigter het vyf stutte in die wedstryd ingespan en die wedstryd met 29-25 beklink.

Die Vrystaat-Cheetahs van 2019 speel vanjaar die soort hardlooprugby wat die span van Francois Venter van 2016 so gewild gemaak het. Die stadion was propvol oranje vlae en die vloer is behoorlik met die Blou Bulle gevee. Die wentelling was 36-16.

Die Vrystaat het vanjaar in ses wedstryde 236 punte aangeteken en 162 afgestaan (’n wentelling van 39-27), het 34 drieë gedruk en 21 afgestaan.

Triomfantlik. Die foto van Ollie le Roux wat die Curriebeker vashou en ’n sigaar rook, is een van die ikoniese foto’s nadat die span die Goue Beker vir slegs die tweede keer nog in 2005 gewen het. Rassie Erasmus, die Vrystaat-Cheetahs se afrigter wat ook vanjaar die Springbokke brei vir die Wêreldbeker, het verras deur vyf stutte vir die eindstryd teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld te kies. “Hulle het dit gesluk soos ou babers,” het Le Roux die volgende dag op die lughawe in Bloemfontein van die Bulle gesê. Die Vrystaat-Cheetahs het die wedstryd met 29-25 gewen. Foto: Halden Krog

Die Leeus het 173 punte aangeteken en 174 afgestaan (’n verloor-telling van 28-29), 24 drieë gedruk en 21 afgestaan.

Dit is die Vrystaters se yslike tellings in die twee helftes in die laaste twee wedstryde wat die span laat uitstaan. Die Vrystaat het die WP met 38-33 gewen nadat hulle 19-0 agter was.

Halftyd in die halfeindstryd teen die Haaie was hulle steeds 20-11 agter, maar wen 51-30. Hulle het die tweede helfte dus met 40-10 gewen.

Dit is ook ’n emosionele wedstryd met Franco Smith wat die laaste wedstryd aan die stuur van die Wit Tornado was.

Hy gaan Italië voortaan afrig met Hawies Fourie wat die leisels gaan oorneem.

Die span begin nou die vrugte pluk van die totale rugby wat hy hier ingedril het.

Soek die vyf stutte op die foto en kry die wenresep vir die Vrystaat-Cheetahs se verowering van die Curriebeker in 2005. Rassie Erasmus se plan met vyf stutte het soos ’n bom gewerk, hoewel die oorwinning oor die monsterspan van die Blou Bulle op Loftus Versfeld steeds ’n groot verrassing was. Die Vrystaat het 29-25 gewen. Foto: Argief
Die Vrystaat-Cheetahs het die Leeus op 27 Oktober 2007 in ’n naelbytstryd geklop om die Curriebeker vir die derde keer te wen. Dit was die span wat die oudkaptein Naka Drotské afgerig het. Generaal Willem de Waal was die losskakel wat die laaste vervyfskop van die kantlyn oorgeklits het vir die sege van 20-18. Die Vrystaat het ondanks drie geelkaarte die wedstryd gewen. Kaptein Hendro Scholtz het in sy 100ste wedstryd in die wit trui gespeel. Foto: Gallo Images
Trotse oomblik. Francois Venter, senter en kaptein van die Vrystaat-Cheetahs, hou die Curriebeker omhoog na die span se briljante oorwinning oor die Blou Bulle op die Vrystaatstadion in 2016. Dit was die laaste keer wat die Wit Tornado die beker kon verower. Venter was een van die Vrystaat se goue seuns wat sy span met onderskeiding gelei het. Die Vrystaat het die Blou Bulle 36-16 gewen. Foto: Mlungisi Louw
Curriebeker-wenners van 2016. Die Vrystaat-Cheetahs pronk hier ná die eindstryd teen die Blou Bulle in die Vrystaatstadion met die gesogte Curriebeker. Die span het die Blou Bulle met 36-16 gewen. Die losskakel van die Bulle, Tian Schoeman, is vandag die Vrystaat-Cheetahs se losskakel in die eindstryd teen die Leeus in Bloemfontein. Vandag is Franco Smith se laaste wedstryd aan die stuur van die Cheetahs.Foto: mLUNGISI LOUW

Meer oor:  Curriebeker  |  Rassie Erasmus  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.