Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gr. 9-seun bel pa voordat hy inmekaarsak en sterf

’n Gr. 9-leerling aan die Hoërskool Ellisras in Lephalale in Limpopo is ses dae voor sy 16de verjaardag dood nadat hy vroeg Dinsdagoggend by die skool inmekaargesak het.

Jandre Stanz (15) het Dinsdagoggend ná 07:00 op die sportveld by die skool inmekaargesak. Leerlinge kom elke oggend op die sportveld bymekaar.

Jandre het oudergewoonte met sy fiets by die skool opgedaag.

Jandre Stanz (15), ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Ellisras in Lephalale, is Dinsdag by die skool dood. Foto: Facebook/Hoërskool Ellisras

A.L. Joubert, skoolhoof, sê Jandre het so drie rondtes op die skoolterrein met sy fiets gery en toe op die paviljoen gaan sit.

“Hy het sy pa gebel en gesê hy voel gedehidreer. Sy pa het vir hom gesê hy moet vir die onderwysers vra om hom te help. Hy het opgestaan en net daar inmekaargesak.”

Sy vriende en leerlinge wat gesien het wat gebeur, het onmiddellik die onderwysers geroep. Die nooddienste en sy ouers is ontbied, maar hulle kon niks vir hom doen nie. Twee plaaslike dokters het ook vir sowat 40 minute gespook om hom by te bring.

Jandre Stanz (15) was ’n kranige motorfietsryer. Foto: Verskaf

Sy ouers, Elmarie en Henk Stanz, het by die skool opgedaag en hulle na hul seun gehaas. Elmarie het by hom gesit en haar hand op sy bors neergesit.

“Sy het met hom gepraat asof hy nog lewe. Sy het gesê hy mag nie dood wees nie,” het ’n ingeligte wat op die toneel was, aan Netwerk24 gesê.

Henk en Elmarie is ontroosbaar en kan nie glo hul kind is dood nie.

Joubert sê die skool was nie bewus van enige onderliggende siektetoestande wat hy gehad het nie.

’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Elmarie se boodskap op haar WhatsApp-profiel lui: “Vir altyd en altyd in my hart . . . Rus sag by Jesus.”

Hy het sy pa gebel en gesê hy voel gedehidreer. Sy pa het vir hom gesê hy moet vir die onderwysers vra om hom te help. Hy het opgestaan en net daar inmekaargesak.

Jandre sou op 30 November sy 16de verjaardag gevier het.

Joubert sê leerlinge en onderwysers is erg geskok oor wat gebeur het. “Dit is ’n groot trauma. Hy was ’n sprankelende kind. Dit is net nie normaal dat ouers ’n kind moet begrawe nie.”

Dinsdag se tweede sessie eksamenvraestelle is gekanselleer. Die leerlinge is reeds ingelig wanneer die vraestelle geskryf sal word.

Joubert het die beraders en predikante van verskeie kerke bedank wat hulle Dinsdag na die skool gehaas het om die leerlinge en onderwysers by te staan.

“Dit is in tye soos dié wat ’n mens die inherente goedheid van mense waardeer,” het Joubert gesê.

Jandre Stanz by sy pa, Henk, ma, Elmarie, en suster, Ansoné. Foto: Facebook/Jandre Stanz

Jandre was baie lief om fiets, sowel as motorfiets, te ry en daar is talle foto’s van hom op sy motorfiets op Facebook.

Hy word op Facebook deur sy vriende en familie as vriendelik en “ ’n kind met ’n hart van goud” beskryf.

Lizette Perrier skryf: “Jou lag was aansteeklik en ek weet jou pad is geteer hemel toe. Jou pêlle gaan jou mis.”

Lauren Hart skryf op Facebook sy sal altyd Jandre se “groot glimlag, lekker lag en hoe jy die klein dinge in die lewe geniet het, onthou”.

Nadat die Hoërskool Ellisras die nuus oor Jandre se dood vroeg Dinsdagaand op sy Facebook-blad gedeel het, het medelye van ander skole in Limpopo, soos die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane en die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, ingestroom.

Jandre word ook deur ’n ouer suster, Ansoné, oorleef.

’n Roudiens word Saterdag om 10:00 uit die Nederduits Hervormde kerk in Onverwacht in Lephalale vir Jandre gehou.

Meer oor:  Hoërskool Ellisras  |  Limpopo  |  Sterf  |  Seun
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.