Die Hoërskool Ellisras in Lephalale in Limpopo is in rou gedompel ná die skielike dood van ’n gr. 9-leerling Dinsdagoggend by die skool.
Jandre Stanz (15) het inmekaargesak kort nadat hy Dinsdagoggend met sy fiets by die skool opgedaag het.
Sy vriende het dadelik onderwysers geroep en die nooddienste is ontbied. Hy is by die skool dood verklaar.
Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.
Luidens ’n verklaring van die Hoërskool Ellisras is die tweede sessie van die jaareindeksamens Dinsdag by die skool opgeskort weens die traumatiese gebeurtenis.
Leerlinge sal die vraestelle later skryf.
A.L. Joubert, skoolhoof, het sy diep medelye met Jandre se ouers en vriende uitgespreek. “Ons bid dat God hulle in die moeilike tyd sal dra.”
Boodskappe van skok en ongeloof oor Jandre se dood stroom in op sosiale media.
Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.

Jandre Stanz (15), ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Ellisras in Lephalale, is Dinsdag by die skool dood. Foto: Facebook/Hoërskool Ellisras