Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verslag vertel van minute voor heli val

Die helikopterongeluk waarin Essie Esterhuysen (69) en sy suster, Dané Esterhuysen (68), asook die sakeman se twee beagle-honde verlede maand dood is, was “nie oorleefbaar nie”.

Tog, luidens ’n voorlopige verslag van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), is Esterhuysen vermoedelik nie dadelik dood nie, maar kon hy sy veiligheidsgordel losknip en uit die Robinson R44-helikopterwrak ontsnap.

“Dit word ondersteun deur die feit dat die vlieënier se lyk onder die water buite die helikopter gevind is,” lui die verslag.

helikopter-ongeluk

Dané is vermoedelik op slag dood, nadat sy, volgens die ondersoek, uit die helikopter geslinger is toe dit die Vaaldam se water tref. Dit blyk dat sy op daardie oomblik nie haar veiligheidsgordel aangehad het nie.

Die voorlopige bevinding is dat die vlieënier van die blou viersitplek-helikopter wat meer as 900 uur vliegtyd gehad en sy helikopter getrou laat versien het, ’n verlies van diepte-persepsie ondervind het.

“Die glasagtige water kon die illusie geskep het dat hulle hoër (bo die water) was as wat hulle eintlik was, wat daartoe kon lei dat die vlieënier hoogte verminder en die helikopter die water geraak het,” lui die verslag.

Die BLO se voorlopige verslag verwys ook na ’n veiligheidskennisgewing wat die Robinson-helikoptermaatskappy vroeër uitgereik het rakende die gevare van oor water vlieg, juis omdat vlieëniers se diepte-persepsie deur die wateroppervlak – veral gladde water – beïnvloed word.

Skermgrepe van die video wys die helikopter en insittendes se laaste oomblikke. Foto: BLO

Voorlopige bevindings

Die BLO-verslag begin met ’n opsomming van die laaste paar minute van die tragedie.

Esterhuysen, sy suster en die twee honde wat op die agtersitplekke was, het op 14 Mei om 15:30 vanaf die Rand-lughawe naby Germiston na Esterhuysen se Damhuis by die Vaaldam vertrek.

Dané het vanaf die Wes-Kaap by haar broer en sy gesin kom kuier en hulle sou die naweek saam met vriende by die huis in die Burgundy Bay- private kompleks, Vaal Marina, deurbring.

“Die helikopter het vanaf ’n noordwestelike rigting op ’n lae hoogte bo die water aangekom, voordat dit oor die water gedraai het om na die landingstrook op ’n stuk gras tussen die dam en die huise te vlieg,” lui die verslag.

Polisieduikers het kort ná die ongeluk die laaste wrakstukke in die water voor Burgundy Bay, waar Essie Esterhuysen se Damhuis was, gekry. Foto: Deaan Vivier

Ongeveer drie minute voor die laaste deel oor die water het Esterhuysen een van die gaste by die Damhuis gebel en gevra hulle moet die kollig, wat bo-op die hoogste punt van die huis is, aansit.

Dié lig het na die baai en die aankomsrigting geskyn.

“Soos die vlieënier versoek het, is die lig aangesit en die ooggetuie (die een huisgas) het ’n video-opname van die laaste aankoms begin neem.”

Die video, wat die BLO as deel van sy ondersoek besigtig het, bevestig daar was niks abnormaal aan die enjin of die helikopter self te bespeur nie. Die water was stil en so glasagtig dit het spieëlbeelde van die onmiddellike omgewing weerkaats.

“Op die video kom die helikopter nader op ’n normale vlugroete, soos die vlieënier in die verlede gedoen het.

“Die helikopter daal dan vinnig en baie laag na die watervlak terwyl dit draai na die landingsplek. Dit tref die watervlak, gevolg deur ’n helder flits en ’n harde slag.

Personeel van die BLO ondersoek die wrak nadat dit uit die Vaaldam gehaal is.

“Die slag, wat hoorbaar is op die video, was toe die rotor (bo-op die helikopter) die stertrotor getref en dit afgekap het. Dit het ongeveer ’n sekonde voordat die helikopter gesink het, afgeskeur.

“Die helikopter het op sy regterkant gelê voordat dit heeltemal gesink het.”

Dit was 16:10.

Die video van Esterhuysen-hulle se aankoms duur net 21 sekondes voordat dit eindig waar die helikopter sink.

Dané se lyk het kort daarna na bo gedryf, waarop ’n jong hengelaar dit uitgehaal het.

Esterhuysen se lyk is later die aand deur polisieduikers gevind. Die helikopter, wat regop op die bodem geland het, was 9,13 m onder die water.

Dit was ’n skrale 200 m van die oewer.

Essie Esterhuysen en sy suster, Dané Esterhuysen.

Van die skade

Die BLO voeg by dat die helikopter nie ’n kajuit-stemopnemer of ’n vlugdata-opnemer gehad het nie, en dit ook nie vir dié soort vaartuig vereis word nie.

Die ondersoek kon wel bevind dat die helikopter nog enjinkrag gehad het toe dit met die regterkant van die neus die watervlak getref het.

Die venster is gebreek, in ooreenstemming met impakskade tydens die ongeluk.

Die hoofrotors was agtertoe gebuig. Een van die lemme het die stertdeel naby die navigasielig afgekap.

“Die videobeeldmateriaal wys ’n hoëspanning- (elektriese) vonk wat vermoedelik veroorsaak is toe die hoofrotorlem die stroboskoop-lig op die stertdeel afgekap het.”

Die verslag noem ook dat die vlieënier geen vorige vliegongeluk-rekord gehad het nie, gelisensieerd en gekwalifiseerd was en bekend was met die omgewing waar hy sou land.

Hoewel die formele ondersoek nog nie afgehandel is nie, stel die BLO se voorlopige verslag voor dat die direkteur van burgerlike lugvaart ’n bevel maak dat helikopters wat oor water vlieg, selfs al is dit net tydens die opstyg of landing, nou met noodvlottoestelle (wat die vaartuig kan help dryf) toegerus word. 

Die families

“Ons besef dit was regtig net ’n ongeluk en dat dit my ma en oom Essie se tyd was om na die liewe Vader te gaan. Ons staan saam as ’n familie deur hierdie moeilike tyd,” het Géla le Roux, Dané se dogter, in reaksie op die verslag gesê.

Elsa van Zyl, Esterhuysen se skoonsuster, sê sy het juis Saterdag weer lank met haar suster, Mariana (Esterhuysen se vrou), gepraat.

“Dit bly vir sy gesin en vir ons almal baie onwerklik en hartseer. Ons kan dit nog nie verwerk en glo nie, hoewel ons besef die lewe moet aangaan,” het sy bygevoeg.

• Esterhuysen was die eienaar en besturende direkteur van die Esgro-groep, ’n kos-en drank-onderneming wat franchises soos onder meer die Wimpy, Steers en Woolworths Food by vulstasies begin het.

Dané het sy gastehuis in Wildernis in die Wes-Kaap bestuur.

Wat is dieptepersepsie-verlies?


Vliegkundiges het vroeër verduidelik die kombinasie van swak lig, ’n gladde wateroppervlak en ’n sameloop van omstandighede kon moontlik daartoe bygedra het dat Esterhuysen daardie Vrydag nie besef het presies hoe naby sy helikopter aan die water was nie.

Lugvaartkenners noem dit kontraslose lig (flat light) of witsig, wanneer skielike helder lig jou verblind.

Dit word beskryf as ’n optiese illusie wat veroorsaak dat vlieëniers hul diepteveld en kontras in visie verloor. In so ’n geval kan die lig die kenmerke van ’n terrein “versteek”.

Dit lei tot ’n onvermoë om afstand en diepte te bereken, asook die spoed waarteen die terrein of voorwerp genader word.

Hierdie soort misleidende lig kom gewoonlik voor in sneeubedekte areas, stof, woestyne of oor water.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.