Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Grense moet nou open vir alle toerisme’

Die land se grense moet – soos ons buurland Namibië s’n – onmiddellik vir internasionale toeriste oopgestel word, anders staar werkverliese nog honderdduisende in die land in die gesig.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), sê Suid-Afrika loop die gevaar om meer as R300 miljoen per dag aan inkomste te verloor as internasionale toeriste nie gou toegelaat word om na Suid-Afrika te reis nie. Boonop is daar 325 000 werkgeleenthede wat staatmaak op internasionale toerisme wat almal in gedrang is as grense nie betyds vir die somerseisoen oopmaak nie.

Die TBCSA is nie alleen in hul aandrang dat die land se grense weer oopgemaak word nie.

‘Waarvoor is ons bang?’

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies, het Donderdag gesê sy regering sal die komende week ’n voorstel aan die nasionale departement van toerisme stuur om te sê die Wes-Kaap is reg vir internasionale toeriste. Dit is nie bekend wanneer die provinsiale regering die grense wil laat heropen nie, maar die premier, Alan Winde, het al op 20 Augustus gesê internasionale reise moet “so gou as moontlik” hervat.

Tshivhengwa waarsku egter die regering se onvermoë om hom ten minste tot ’n datum te kon verbind oor wanneer die grense wel kan oopmaak, bewys geen gunste aan die toerismesektor wat internasionale besoekers van voor af sal moet oortuig Suid-Afrika is ’n veilige bestemming nie.

Met die verskuiwing na vlak 2 van die inperking op 17 Augustus kon plaaslike toerisme oor provinsiale grense ten volle hervat, maar Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, wou nie verlede week eens ’n tentatiewe antwoord gee toe sy gepols is oor wanneer grense moontlik kan heropen nie.

“Ons het nou nog nie ’n datum nie, en ons probeer daagliks een by die departement kry,” sê Tshivhengwa. “Dit help ons net mooi niks om weer vertroue in te boesem by die internasionale mark nie. Dit lyk asof ons in onsself twyfel.”

Tshivhengwa vrees die oopmaak van plaaslike toerisme ingevolge vlak 2 is in elk geval veels te laat.

“Plaaslike toerisme het baie staatgemaak op regeringsreise en korporatiewe geleenthede. Daardie markte het verkrummel, so dit gaan nie genoeg wees om poste te red nie.”

’n Peiling onder 1 800 sake­eienaars, BeyondCovid, is van  7 Junie tot 22 Augustus gedoen en wys 68% van eienaars in die verblyf- en kossektor moes reeds werknemers weens die inperking aflê.
Verlede week het Statistieke Suid-Afrika (SSA) ’n verslag gepubliseer waarin toerismesyfers met dié van 2019 vergelyk word. Die getal beddens wat in Maart vanjaar deur hotelle, gastehuise en woonwaparke verkoop is, het met 40% op ’n jaargrondslag afgeneem. In April en Mei was die daling 97% in vergeleke met ’n jaar gelede. Totale inkomste was in 2019 sowat R2,2 miljard per maand. In April het dit gedaal tot R55 miljoen en in Mei het dit effens herstel tot R74 miljoen. Gastehuise is die swaarste getref. SSA het bereken gastehuiseienaars se inkomste het met 99% oor ’n kwessie van weke gedaal van R99 miljoen in Januarie tot R500 000 in Mei.
Om hierdie syfers te laat styg meen Tshivhengwa die regering móét twee stappe doen:
¦ ’n Datum moet vasgestel word vir wanneer internasionale reise hervat kan word; en
¦ ’n Aggressiewe bemarkingsveldtog moet begin word om vir internasionale reisigers te wys Suid-Afrika is veilig.
“Ons het klaar so baie Covid-19-gevalle, so wat gaan hier gevaarliker wees as in ander lande? Waarvoor is ons bang?”
Die Vereniging van Suid-Afrikaanse Reisagente (Asata) het ook die afgelope week ’n beroep op die regering gedoen om ’n definitiewe datum te gee oor wanneer internasionale reise kan hervat.
In die regering se eie herstelplan vir die toerismesektor word ook gemaan van Augustus tot November sal besprekings vir internasionale reise na Suid-Afrika ’n hoogtepunt bereik. Modellering wys lande waaraan Suid-Afrika toerisme toewys, soos Portugal, Indië, die VSA, Frankryk en Duitsland, sal eers van November reg wees vir internasionale reise.

Meer oor:  David Maynier  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.