Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gretha Wiid gaan skei

Die Christelike skrywer en motiveringspreker Gretha Wiid en haar man, Francois, gaan skei nadat hy glo ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Gretha Wiid: “Ek dank die Here ek het na God en nie na mense geluister nie.” Foto: Theana Calitz

Wiid, wat haarself as ’n huwelikskenner bemark, het aan Rapport erken dat hul paadjies gaan skei weens huweliksprobleme.

“Ek is nie ongeneë om daaroor te praat nie, maar nou is nie vir my ’n goeie tyd nie. Ek is baie besig en ek moet nou fokus op die huweliksverrykingsnaweek wat ek Vrydag aanbied,” het Wiid gesê toe Rapport haar Woensdag genader het om kommentaar.

Sy het die naweek verloofde paartjies by ’n kamp van raad bedien oor die huwelik.

Die tema was “ ’n huwelik wat hou” en kaartjies vir die geleentheid het R3 200 gekos.

Dit is by die La’Wiida-lodge in Centurion gehou waar haar man die adjunkbesturende direkteur is. Hy was nie Vrydag by die lodge nie.

‘Dis ’n mite dat jy nie jou maat kan vertrou ná ’n affair nie.’

Gretha het in 2008 bekendheid verwerf toe sy 7 000 vroue by haar Worthy Women-saamtrek toegespreek het.

Sy het toe gesê sy meen dat die man die hoof is van die huwelik en dat die vrou haar man “as koning moet salf”.

Gretha was ook in 2017 in die nuus toe daar klagte by die menseregtekommissie ingedien is nadat sy in haar boeke vir tieners geskryf het dis hartseer om homoseksueel te wees.

Volgens iemand na aan die paartjie het Francois in September by hul woning uitgetrek. Nie hy óf Gretha wou dit bevestig nie. Gretha het wel op 22 September op Facebook daarop gesinspeel dat verandering noodsaaklik is.

Gretha Wiid en haar man, Francois.

Gretha adverteer op haar webwerf dat dit haar en Francois se “hartsbegeerte” is om paartjies te help wat, soos hulle, “baie dinge – van pornografie en owerspel tot by sekwestrasie en die emosionele seer van ’n byna-egskeiding” deurgemaak het.

Sy het in April in ’n video op YouTube gesê dit is ’n mite dat jy nooit weer jou liefdesmaat kan vertrou nadat hy of sy ’n affair gehad het nie.

“Wanneer jy daai mite glo dat ek nooit weer kan vertrou nie, dan kan jy nie anders as om te sê God doen halwe werk nie.”

Die egpaar het verlede jaar in ’n onderhoud met die tydskrif Intiem vertel dat owerspel nie die einde van ’n huwelik hoef te beteken nie en het vertel hoe hul huwelik floreer het nadat Francois vir Gretha van sy skelmpie vertel het.

‘Die Here het ons huwelik na ’n onbeskryflike vlak gevat.'

“Mense – nogal kinders van die Here – het vir my gesê om hom te los, want hy gaan nie verander nie. Ek dank die Here ek het na God en nie na mense geluister nie. En ja, God het vir my ’n ander man gegee. Dit was toevallig dieselfde mens, maar ’n nuwe man,” het sy toe gesê.

Francois het weer gesê die eerste jaar ná die owerspel was moeilik. “Die Here het toe ons huwelik op ’n vlak gevat wat ek nie vir jou kan beskryf nie.”

Francois het toe gesê hy het vir vriende vertel hoe hy by Gretha oor sy owerspel gebieg en hoe die Here hom vrygemaak het en ook hoe dit hul huwelik sterk gemaak het.

“Ek het daarna weer my ervaring gedeel. Ek het vir een ou gesê ek voel so vry, ek voel so skoon, en het nie geraamtes in die kas nie en hier is niks geheime tussen my en my vrou nie.”

Kaartjies vir die verrykingskamp ’n Huwelik wat hou kos R3 200.

Hulle het toe begin besef deur hul ervaring te deel kan mense met hulle vereenselwig. Naweke met pelle waar hieroor gepraat is, het later huweliksverrykingskampe geword, het hulle gesê.

“Vandaar het dit net gegroei en ons het nie eens daarvoor gevra nie,” het Francois toe gesê.

Gretha se raad op haar webwerf aan vroue is om kreatief in die bed te wees.

Sy skryf: “Min dinge laat jou sekslewe so afgestomp voel soos dieselfde posisie in dieselfde bed.

“Loop kaal onder jou japon rond terwyl jy doelbewus iets doen dat jou man dit moet sien. En as die kinders nog daar rondhang, word jy die spreekwoordelike verbode vrug. Lank laas in die kar gevry? Terwyl julle alleen in die kar ry en jou hand oudergewoonte op jou man se been is, kan jy gerus sy manlikheid streel met ’n ferm, maar sensuele vryf of twee.”

Sy sê verder: “Dis altyd beter om die koning se manwees te beskerm as om dit aan te vat.”

Meer oor:  Gretha Wiid  |  Christene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.