Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gretha Wiid: ‘My hart is onveranderd’

Gretha Wiid hoop die dreigoproepe, skeltaal en beledigings teen haar en haar gesin sal nou ophou, het sy by monde van haar prokureur, Willie Spies, gesê.

Gretha Wiid besig om die ooreenkoms met die Menseregtekomissie en Gielie Hoffman in Johannesvurg te onderteken. Foto’s: Elizabeth Sejake

Dit nadat sy dié week ’n ooreenkoms met die Menseregtekommissie (MRK) bereik het om onder meer haar voorligtingsboeke vir tieners te wysig. Sy is by die MRK verkla oor haar uitsprake oor homoseksualiteit daarin.

Spies sê Wiid beskou die skikking met die MRK as ’n “wen-wen-oplossing wat reg laat geskied aan haar vryheid van geloof, uitdrukking en gewete”.

Sy het as deel van die skikking onderneem om nie oor homoseksualiteit te praat by haar werksessies vir tieners nie.

Dit volg meer as ’n jaar nadat 77 klagtes teen Wiid by die MRK ingedien is omdat sy in haar boeke Lyfslim vir meisies en Lyfslim vir seuns onder meer gesê het sy glo ’n man raak gay as hy as kind nie genoeg liefde van sy pa kry nie of gemolesteer is. Dié passasies moet herskryf word.

’n Duidelik uitgeputte Wiid het Woensdag die ooreenkoms tussen haar, die MRK en die hoofklaer in die saak, Gielie Hoffman, onderteken by die MRK se kantore in Johannesburg.

Gielie Hoffman en Gretha Wiid onderteken Woensdag by die Menseregtekommissie (MRK) die ooreenkoms tussen hulle en die MRK. Foto’s: Elizabeth Sejake

Volgens Buang Jones, provinsiale bestuurder van die MRK, wat die ondertekeningsessie gelei het, het elke Suid-Afrikaner die reg om sy of haar godsdiens uit te leef. “Ek is self ’n Christen. Maar jou geloof gee jou nie die reg om teen ander te diskrimineer nie,” het hy tydens die ondertekening gesê.

Sanja Bornman, ’n prokureur by Lawyers for Human Rights, sê die ooreenkoms is baie regverdig. “Me. Wiid het steeds die reg om haar geloof en oortuigings in haar persoonlike hoedanigheid uit te leef. Maar sy mag dit nie in ’n openbare hoedanigheid doen nie, veral nie waar sy kinders opvoed nie.”

Hoffman, ’n professionele mentor wat veral met sportlui werk, het voorheen as ’n berader by ’n hoërskool gewerk.

“Een van die onderwyseresse daar het eendag ’n kind na my gebring wat homself natgemaak het tydens pouse. Dit was onduidelik hoekom. Hy wou aanvanklik niks sê nie en ek het hom net laat sit en ontspan in my kantoor terwyl ek aanhou werk het,” het Hoffman aan Rapport vertel.

“Ná 20 minute het hy begin praat en gesê hy is gay en het hom natgemaak omdat hy in vrees lewe al het niemand hom nog gespot of veroordeel nie. Hy het die dag verby ’n groep senior seuns geloop en so bang geraak dat hy net beheer verloor het.

“Dit is alles net weens die stigma wat daar aan gay wees gekoppel word. Hy is ’n ruk later na ’n private skool en het ’n paar jaar gelede weer met my kontak gemaak om te sê hy is baie gelukkig en dankie dat ek hom destyds gehelp het,” sê Hoffman.

Toe hy die aanhalings oor homoseksualiteit uit Wiid se boeke op Facebook sien, het dit hom aan daardie kind laat dink.

“Sulke boeke dra by om ’n klimaat te skep waarin mense wat worstel met hul seksuele oriëntasie totaal vervreemd raak van die samelewing en in angs leef. Ek moes dit stop en het daarom besluit om ’n klag te gaan lê by die MRK,” sê hy.

Wiid het Vrydagaand op haar Facebook-blad geskryf dit was vir haar ’n moeilike jaar. “Met die proses agter my, staan my hart onveranderd. My passie vir kinders, gesonde gesinne en héél mense – ongeag hulle geloofsoortuiging, geslag en geslagtelikheid – is steeds op die plek waar dit was voor die hele debakel.”

* Lees ook hier.

Meer oor:  Gretha Wiid  |  Menseregtekommissie  |  Homofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.