Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grey-gentleman Ruan Joubert veg tot einde
Ruan Joubert voor die ongeluk wat sy brein beseer het. Foto: Verskaf

Hul seun was ’n Grey-gentleman wat tot die einde toe geveg het, sê die ouers van Ruan Joubert (23), wat ná ’n ernstige motorongeluk in 2017 in ’n ná-koma in sy ouerhuis in Kimberley was en Vrydag aan Covid-19 gesterf het.

Liesel, sy ma, sê sy voedingsbuis sou Maandag in Bloemfontein vervang word, maar hulle moes toe hoor hy is positief getoets vir Covid-19. Hy het aanvanklik nie enige simptome getoon nie.

Hy het Woensdag ’n koors ontwikkel. Dit het Donderdag vererger en hy is Vrydag oorlede. Liesel het haar seun die afgelope vier jaar tuis versorg.

Sy het Sondag emosioneel vanuit haar en Rynand, haar man, se huis in Kimberley gesê sy het vrede in haar hart en dat sy dankbaar is dat sy tot op die laaste by hom in die hospitaal kon wees.

Ruan was ’n LLB-student in sy eerste jaar aan die Noordwes-Universiteit toe hy op 7 Julie 2017 in ’n ongeluk was en erge breinbeserings opgedoen het. Hy het vyf maande daarna uit ’n koma ontwaak.

“Ek het gevra, 'Here, gee my kind vir my terug, maak nie saak in watter toestand nie.' ”

Sy sê in Ruan se ná-koma-toestand het hy met sy hande en nie met sy stem gepraat nie.

Maar in sy stilte het hy baie mense se lewe aangeraak met sy deursettingsvermoë en die glimlag op sy gesig.

Adri Markgraaf (26) en haar broer, Ruan Joubert (23), op haar groot dag. Foto: Verskaf

“Hy het vier jaar lank sy alles gegee om dit vir ons so maklik as moontlik te maak.”

Een van haar kosbaarste herinneringe is die tye wanneer sy saam met hom na Andy Grammer se lied “Never Give Up” geluister het.

“Hy het elke keer geglimlag en soveel genot daaruit geput.”

Adri Markgraaf, sy suster, sê Ruan was tot sy dood toe die broer by wie sy kon skuil. “My grootste wens was dat hy my troue kan bywoon, en dit is bewaarheid.”

Niemand mag ooit voor hom die naam van die Here ydellik gebruik het nie. Dit sal haar bybly.

“Ons juig oor sy lewe en gaan hom baie mis.”

Rynand en Liesel Joubert en hul dogter, Adri Markgraaf, en haar man, Frikkie. Dit was Adri se droom dat Ruan haar troue bywoon. Foto: Verskaf

Johan Badenhorst (23), ’n studentevriend van Ruan, sê hy was baie gewild, maar plat op die aarde.

“Toe ek Potch toe is, was dit moeilik om my voete te vind, maar so populêr soos wat Ruan was, het hy altyd mense genader wat hy kon sien ondersteuning nodig het.”

Hulle het soos broers geword.

“Ruan was een van daai mense wat jou werklikheid vir jou makliker gemaak het en jou terselfdertyd dankbaarheid geleer het vir dit wat jy het. Mense kyk so vas in probleme dat hulle nie besef waarvoor hulle dankbaar kan wees nie.”

Hy sê hy weet Ruan sou nou vir hom sê: “Hoekom huil jy man? Jy moet rejoice.”

“Dit is danksy hom dat ek nou balans in my lewe het.”

Die reëlings vir Ruan se roudiens moet nog getref word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Motorfietsongeluk  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.