Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grond: ‘Tyd vir kerk om betrokke te raak’

Dis ’n gepaste tyd vir die kerk om betrokke te raak by die grondhervormingsproses, meen Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk.

Hy was Woensdag een van die sprekers op ’n gesprek oor alternatiewe vorme van grondeienaarskap wat deur die Catholic Parliamentary Liaison Office aangebied is.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode. Foto: Nelius Rademan

“Die kerke moet veilige ruimtes skep vir die gesprekke wat nodig is oor grondhervorming,” het hy gesê.

Hy het ná sy toespraak verduidelik dat buitestanders dikwels geloofwaardigheid het in baie situasies tussen die staat en mense wat aansprake het.

“Ons het dit in 2012 gesien met die krisis oor die landbou-situasie in die Boland waar die kerke uiteindelik die fasiliteerders was en die situasie ontlont het. Die kerke het baie vinnig nadat hulle daar ingekom het, ’n veilige ruimte geskep. Dit is waarvoor ek pleit – vir veilige ruimtes waar mense voel almal se belange word gehoor en die sterkste rolspeler is nie in die posisie waar hy eenvoudig almal geringskat nie – want dit is wat mag kan doen.”

Carmen Louw van Women on Farms, wat in die gehoor was, het dié stap verwelkom.

’n Enkele oplossing vir die komplekse probleem van grondhervorming sal volgens Janse van Rensburg nie deug nie. ’n Benadering met vele fasette is nodig. Mentorskap en opleiding van die begunstigdes van grondhervorming is baie belangrik. “Dit is so want jy moet ’n markontleder wees, jy moet ’n plantkenner wees; ’n kenner wees van diere én arbeidsverhoudinge kan dryf.

“Die ander groot probleem is toegang tot finansiering. In ons bankstelsel kan jy nie toegang tot finansiering kry sonder sekuriteit nie. Dit is waaroor die hele kwessie van verblyfsekuriteit gaan, daarom wil ons graag beding vir titelaktes,” het hy gesê.

Boyce Tom, navorser by die Trust for Community Outreach and Education, het vier alternatiewe modelle voorgestel waarvolgens grond verdeel kan word. Dit sluit in kostuine vir individuele boere (1 ha), vee- en gewasseproduksie deur families en koöperasies (2 ha tot 5 ha), klein en middelslag- intensiewe boerderye vir families en koöperasies (15 ha tot 20 ha) en kommersiële plase vir hoëwaardesektore (20 ha en meer).

Jacques Pfeiffer van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het grondpryse in die Wes-Kaap as ’n “reusestruikelblok” bestempel en gesê ’n wynplaas in die Bolandstreek kos tot R1 miljoen per hektaar. Bykomende geld is ook nodig om dit te bedryf. Hy het in reaksie op ’n vraag uit die gehoor gesê dat die “gebruik dit of verloor dit”-beginsel ten opsigte van grond toenemend na vore kom. “Selfs met ons huurooreenkomste is daar ’n klousule hieroor met die huurder.”

Meer oor:  Ng Kerk  |  Nelis Janse Van Rensburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.