Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grondbesetters loop hul vas teen metropolisie

Die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) gaan Woensdag na Lenasia terugkeer om nog onwettige strukture op ’n stuk grond af te breek en te verwyder.

“Daar is nog baie,” sê Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD.

Die metropolisie het Dinsdag begin met optrede teen onwettige grondbesetters in dié omgewing in die suide van Johannesburg.

Die polisie en Johannesburgse metropolisie (JMPD) op die toneel naby Lenasia in die suide van Johannesburg waar besetters Dinsdag oproerig geraak het. Die JMPD het hul strukture op ’n stuk grond verwyder wat hulle sedert Sondag onwettig beset. Foto: Felix Dlangamandla

Netwerk24 het vroeër berig oor minstens 100 000 onwettige strukture wat soos paddastoele in Ennerdale, Lenasia, Unaville, Lawley en Orange Farm opskiet.

Volgens Monica Sampson, ’n inwoner van uitbreiding nege in Ennerdale, is ’n aantal nuwe strukture Sondag in Lenasia opgerig. Dit is dié strukture wat die JMPD tans verwyder.

“Wanneer kom hulle Ennerdale toe? Die afgelope twee maande het die grondbesetters met 70% in Ennerdale en Lawley vermeerder,” sê Sampson.

“Elke dag kom daar mense – dit is ’n frustrasie. Ons is elke tweede dag sonder water en elektrisiteit, want hulle (besetters) steel dit.”

’n Man lê op die grond terwyl lede van die JMPD gereed staan om klipgooiers met rubberkoeëls te begroet. Die metropolisie het Dinsdag begin om onwettige strukture van grondbesetters naby Lenasia in die suide van Johannesburg af te breek. Foto: Felix Dlangamandla

Sampson woon al meer as 30 jaar lank in Ennerdale. Sy het ’n maand gelede goedkeuring gekry vir opknappings in haar huis, maar is nou onseker of sy daarmee moet voortgaan.

“Wat moet ek doen as my huis se waarde daal? Moet ek trek?” vra Sampson.

Mark Anthony, een van die boere wie se grond beset word, sê misdaad in die omgewing het gestyg sedert die besetters daar is.

“Die polisie was Maandagaand daar. Hulle (die besetters) het voetgangers wat van die werk af kom van hul selfone beroof,” sê hy.

Grondbesetters se onwettige strukture word Dinsdag naby Lenasia in die suide van Johannesburg afgebreek.Foto: Felix Dlangamandla

Minnaar sê die JMPD het Dinsdag tussen 40 en 100 van die onwettige strukture verwyder wat Sondag in Lenasia opgerig is. Dit is onduidelik aan wie dié stuk grond behoort.

“Sodra iets nuut is, kan dit getakel word. Ons gaan môre (Woensdag) terug om nog strukture te verwyder,” sê Minnaar.

“Daar is baie onwettige plakkers wat van Johannesburg se noorde tot die suide strek. Die metropolisie kan nie op al die plekke tegelykertyd wees nie.”

Die situasie was egter gespanne met grondbesetters wat die K43, R558 en paaie in Lawley met rotse, klippe en brandende bande versper het.

“Dié paaie was ’n ruk lank gesluit en onmoontlik vir motoriste om te gebruik,” sê Minnaar.

Verskeie paaie naby die onwettige grondbesetting is met klippe versper. Foto: Felix Dlangamandla

Die metropolisie is ook met klippe bestook en het met rubberkoeëls geantwoord. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Thomas Thaga, streeksvoorsitter van die South African National Civic Organisation (Sanco) in Gauteng, sê dit is nou te laat vir die JMPD om in te gryp.

“Dit is heelwat te laat. Hulle het vir die verkiesing gewag,” sê hy.

“Dit gaan oor politiek en nie dienslewering nie en gee voor om vir die mense om te gee.”

Netwerk24 het Nico de Jager, burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuur van die DA se koalisieregering in die Johannesburg-metro, vir kommentaar genader oor waarheen die besetters verskuif gaan word. Hy het navrae na ’n ander burgemeesterskomiteelid verwys wat nie vir kommentaar beskikbaar was nie.

Een van die vermeende besetters naby Lenasia in die suide van Johannesburg loop Dinsdag met sy sinkplate op ’n kruiwa in die pad af.Foto: Felix Dlangamandla
Meer oor:  Lenasia  |  Onwettige Strukture
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.