Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grondbesetting in Stellenbosch: Polisie bewaak plaas

Polisiebeamptes hou ’n wakende oog oor ’n plaas in Stellenbosch waarop onwettige besetters hulle tuisgemaak het.

Hulle kan egter nie dié besetters sonder ’n uitsettingsbevel verwyder nie.

Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig die polisie was Saterdagaand op die toneel om te keer dat enige verdere besetting van die privaat grond plaasvind.

Volgens die boer wie se plaas dit is, het die onwettige besetters sy plaas reeds verlede naweek begin beset.

Vir veiligheidsredes wou hy nie sy naam of die naam van die plaas bekend maak nie. Dit is noord van Stellenbosch en grens aan die informele nedersetting Kayamandi.

Die boer het aan Netwerk24 gesê besetters het al sedert verlede Saterdag standplase op sy plaas begin uitmeet. Sommige het reeds plakkershutte opgesit.

Dit is die tweede keer vanjaar dat grond onwettig in dié omgewing beset word.

Van Wyk het aan News24 gesê die eienaar van die plaas het in April reeds ’n hofinterdik bekom nadat mense toe ook op sy grond geplak het.

Hy moet nou egter vir ’n nuwe hofinterdik aansoek doen omdat die vorige interdik verouderd en nie meer geldig is nie.

Dit is die tweede keer vanjaar dat grond onwettig in dié omgewing beset word.

“Die polisie kan net ’n uitsettingsbevel uitvoer wanneer daar ’n geldige een deur die hof uitgereik word,” het Van Wyk verduidelik.

Carl Opperman, die uitvoerende hoof van Agri SA in die Wes-Kaap, het Saterdag gesê daar is ’n dringende hofbevel probeer bekom om die grondbesetters te keer, maar dat dié aansoek eers Maandag aangehoor sal word.

Hy het Saterdag die situasie as benard beskryf. Volgens Opperman neem dit besetters gemiddeld ’n driekwartier om ’n hut op te rig.

“Dinge gebeur vinnig daar. ’n Mens gaan binnekort nie eers meer ’n stukkie groen gras kan sien nie.”

Volgens Grobbelaar monitor die munisipaliteit ook die situasie op die plaas.

Behuisingsprobleme in Stellenbosch

Die behuisingsituasie in Kayamandi is egter al ’n ruk lank ’n tameletjie vir die Stellenbosse stadsraad.

GroundUp het in 2015 berig dat die stadsraad die Kayamandi Behuisingsprojek van stapel gestuur het nadat verskeie mense in 2013 dood is in ’n brand wat ook nagenoeg 1 500 mense dakloos gelaat het.

Die nuwe Hophuise was bestem vir diegene wat ná die brand haweloos gelaat is. Ingevolge die projek sou Sone O van Kayamandi opgegradeer word. Tydelike verblyf sou gegee word aan inwoners totdat die nuwe huise gereed sou wees vir bewoning.

In 2016 het Raymond Willemse van Eikestadnuus berig ’n deel van die projek is afgehandel en sowat 200 huise is aan die nuwe eienaars oorhandig. ’n Woordvoerder van die Stellenbosch Munisipaliteit, Stuart Grobbelaar, het dit Saterdag bevestig.

Dit het egter vinnig duidelik geword dat nog grond deur die munisipaliteit aangekoop sou moes word om genoeg huise te kon bou.

Intussen het inwoners egter ongelukkig geraak en die tydelike huise afgebreek.

Meer oor:  Carl Opperman  |  Stellenbosch  |  Grondbesetting  |  Agrisa  |  Grondgryp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.