Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grondvergrype ‘van meet af aan kwaadwillig’

Grondrowers maak die lewe bitter moeilik vir munisipaliteite soos die Midvaal- plaaslike regering wat ’n stryd voer om die behuisingsagterstand in Gauteng op te los.

Bongani Baloyi, burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit, het sy frustrasie hieroor by ’n konferensie oor uitsettings in Gauteng gedeel. Die konferensie is deur die Menseregtekommissie (MRK) in Johannesburg aangebied.

Baloyi sê die munisipaliteit sit met die gebakte pere om grondbesetters wettig te verwyder wanneer munisipale grond onwettig verkoop word.

Die Johannesburgse metropolisie het Dinsdag begin om onwettige besetters se strukture naby Lenasia, suid van die stad, af te breek. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit is van meet af aan kwaadwillig. Mense verkoop grond wat nié aan hulle behoort nie aan mense van buite die munisipaliteit,” sê hy.

“Skielik is daar dan 600 mense op die grond en nou moet ons met hulle praat en sê julle is nie geregtig op die grond nie, want die verkoper besit dit nie.”

Baloyi se opmerkings kom teen die agtergrond van oproer in Lenasia, suid van Johannesburg, waar grondbesetters se strukture Dinsdag én Woensdag deur die metropolisie afgeslaan is. Die Johannesburg-metro sê hy vermoed dat sindikate agter die grondvergrype sit.

Johannesburg beleef ’n chroniese agterstand van meer as 300 000 huise.

Baloyi sê onwettige grondbesetting is sleg vir munisipale beplanning en ontwikkeling.

“Die finansiële impak is ook groot, want ons kan nie ’n agterstand hê met gedienste informele nedersettings aan die een kant terwyl daar aan die ander kant onwettighede plaasvind nie,” sê Baloyi.

“So gou as wat jy die klagte afhandel, wil mense dienste hê en dit is dikwels in gebiede waar die munisipaliteit nie beplan het om dienste te voorsien nie. Dit vererger die probleem,” sê Baloyi.

Hy het ook benadruk dat munisipaliteite die wetsvoorskrifte moet volg wanneer hulle onwettige besetters wil uitsit.

Die proses moet strook met die beginsels van Afdeling 26 (3) van die Grondwet. Daarvolgens mag niemand uit hul huise gesit of hulle huise afgebreek word sonder ’n hofbevel wat uitgereik is nadat al die toepaslike omstandighede in ag geneem is nie.

“Ons volg ’n proses wat verseker dat voordat ons enigiets doen wat tot ’n uitsetting kan lei, daar ’n hofbevel in plek is en ons die uitsetting vir ’n bepaalde datum beplan,” sê Baloyi.

Edward Molopi, navorser van die instituut vir sosio-ekonomiese regte, (SERI) het oor die Grondwetlike maatreëls gepraat vir die regverdige uitsetting van onwettige besetters.

“Die Grondwet en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Wet 19 van 1998) verleen wel beskerming aan onwettige besetters. Een beginsel wat na vore kom, is dat daar ’n sinvolle gesprek moet plaasvind wat dikwels geïgnoreer word,” sê Molopi.

“En volgens dié beginsel moet ons, voordat ons selfs die howe nader en probeer om mense uit te sit, sinvolle gesprekke tussen diegene wat mense wil uitsit en die besetters gevoer word. Dit beteken dat die partye om ’n tafel bymekaar moet kom en oor die kwessie praat. Dit kan ’n manier wees om uitsettings heeltemal te voorkom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.