Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot behoefte aan reserviste in Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse regering doen ’n beroep op die nasionale regering om R5 miljoen op te neem om bykomende polisiereserviste te werf.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Malherbe Nienaber

Alan Winde, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê met dié geld kan 195 bykomende reserviste in die hoogseisoen van middel Desember tot middel Januarie ontplooi word.

Die R5 miljoen is deur die provinsiale regering uit sy begroting beskikbaar gestel.

“Ondanks herhaalde versoeke, wag ons op ’n reaksie van die nasionale regering oor die opneem van dié geld,” het Winde Woensdag gesê.

“Daar is geen rede waarom die nasionale regering nie die aanbod sou aanvaar nie. Om dit nie te doen nie, is eintlik ’n misdaad teen die mense van die Wes-Kaap, wat onnodig blootgestel word weens die tekort aan polisiebronne.”

Winde het ’n beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om dringend na die afname in reserviste in die Wes-Kaap te kyk.

“Reserviste is ’n kritieke versterker van die polisiemag en kan ’n belangrike rol speel om die gety van misdaad in ons kwesbare gemeenskappe teen te werk. Daar is veral nou ’n behoefte aan meer polisiëring namate ons die feestyd nader en gewoonlik ’n styging in misdaad ervaar.”

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Malherbe Nienaber

Die reserviste kan talle van die pligte van gewone polisielede uitvoer, sowel as van die administratiewe werk in die polisiekantoor.

Hulle word van verwag om ’n verpligte 16 uur vrywillig te werk en word vir bykomende werk vergoed.

Die Wes-Kaapse polisieombudsman het in ’n ondersoek bevind dat die aantal reserviste met 326 in die afgelope drie boekjare afgeneem het.

Mireille Wenger, DA provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het Woensdag op ’n mediabyeenkoms gesê die ombudsman se bevindings bevestig dat die polisie se nuwe beleid vir reserviste “gebrekkig” is en werwing inperk.

Wenger, voorsitter van die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaapse wetgewer, het in Oktober 2017 versoek dat die ombudsman die afname in reserviste ondersoek. In replieke op haar vrae in die parlement is daar bevestig dat die aantal aktiewe reserviste in die afgelope dekade met 84% gedaal het.

“Dit is dus kommerwekkend dat erge onderbemanning nie net onder die gewone polisielede, maar ook onder die reservistemag voorkom.”

Mireille Wenger, DA woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

In die boekjaar 2015-’16 was daar 1 050 aktiewe reserviste en teen vanjaar het dit op 724 gestaan.

Volgens die verslag van die ombudsman is van die redes vir die lae werwing van reserviste in die Wes-Kaap dat ’n groot aantal nie aan die vereiste kwalifikasie van matriek voldoen nie, veral in landelike gebiede, sowel as dat die meeste aansoekers werkloos is.

Reserviste moet ook jonger as 40 jaar wees, terwyl daar bevind is dat die produktiefste lede naby aan die aftrede of reeds met aftrede is.

Van die aansoekers het goed presteer, maar is van die hand gewys omdat hulle ouer as 40 jaar is.

Wanneer ’n aansoeker die psigometriese toets druip, is daar ’n wagtydperk van ses maande voor hulle heraansoek kan doen. Dit lei glo ook daarna dat mense belangstelling verloor.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Alan Winde  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.