Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot dag saam met Bokke vir dapper vegtertjie
Peet Pretorius en die Springbokstut, Beast Mtawarira, se twee kinders, Talumba en Wangu, het saam met Beast en Siya Kolisi op die veld gestaan toe die volksliedere voor die rugbytoets teen Engeland gesing is.Foto’s: Mlungisi Louw

Die seuntjie wat Saterdag saam met een van sy groot helde, Siya Kolisi, op die veld gedra is voor die Springbokke se toets teen Engeland, is die sewejarige Peet Pretorius.

Dié klein vegtertjie van Odendaalsrus is in April 2017 met leukemie gediagnoseer en dit was eintlik ’n risiko om hom rugby toe te neem weens sy lae immuniteit.

“Peet was verskriklik opgewonde want hy is baie lief vir rugby. Hy was in ekstase,” sê sy ma, Maryke.

Saru het Reik na ’n droom genader om te hoor of daar iemand is wat graag Saterdag saam met die Springbokke op die veld sou wou wees.

Hulle het van Peet geweet en gereël dat hy die toets bywoon.

Kolisi het Peet op die veld gedra en nadat die Bokke opgedraf het, het Peet en die Springbokstut, Beast Mtawarira, se twee kinders, Talumba en Wangu, by die Bokke gestaan toe die volkslied gesing is.

Peet was verskriklik opgewonde want hy is baie lief vir rugby. Hy was in ekstase.

Peet was vroeër saam met die Bokke op die oefenveld en hou ook baie van Faf de Klerk en Schalk Brits, sê Maryke.

Peet het nege maande lank met verskriklike pyn in sy bene geloop voordat ’n dokter hom uiteindelik met leukemie kon diagnoseer. Die leukemie was so erg dat dokters dieselfde dag met chemoterapie begin het.

In Augustus 2017 het Peet ’n beenmurgoorplanting van sy suster, Chané (11), gekry. Peet en Chané se beenmurg was 100% versoenbaar, sê Maryke.

Sedertdien is Peet kankervry maar dit bly ’n lang pad na herstel. Hy is op die oomblik op baie swaar kortisoonbehandeling omdat die gevaar bestaan dat sy liggaam die nuwe beenmurg kan verwerp.

Die kortisoonbehandeling is so erg dat Peet se gewig binne ’n maand van 21 kg tot 33 kg toegeneem het. Sy gesig is ook baie geswel.

Peet Pretorius staan langs die veld toe die Bokkaptein Siya Kolisi die span op die veld lei. Kolisi het Peet gaan haal sodat hy saam met Beast Mtawarira se kinders na die volksliedere kon luister.Foto: Mlungisi Louw

Sy immuniteitstelsel word onderdruk en hy mag nie eintlik met mense in aanraking kom nie.

“Ons het Saterdag ’n kans gevat om toe te laat dat hy die rugbytoets bywoon,” sê sy.

Wanneer ek en Peet se pa, ook Peet, teen die grond is, dra klein Peet se dapperheid ons, vertel Maryke.

Omdat Peet so moedig is, het hulle ’n Facebookblad met die naam Dapper vegtertjie Peet Pretorius geskep.

Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig.

Maryke is heeltyds by die huis om Peet te versorg omdat hy nie kan skoolgaan nie. Haar man is ’n plaasbestuurder.

Die egpaar, wat nog ’n seun, Anton, het, sukkel om kop bo water te hou en betaal steeds af aan die koste van die beenmurgoorplanting wat in die Groote Schuur-hospitaal gedoen is.

Peet moet ook weekliks bloedtoetse en ander toetse in Bloemfontein ondergaan wat die gesin baie geld uit die sak jaag.

Mense wat belang stel om by te dra vir die koste, kan die prokureursfirma Neumann en Van Rooyen in Welkom bel.

Interdaf, ’n vragmotormaatskappy in Welkom, het gereël dat vragmotorbestuurders Peet Vrydag in Odendaalsrus besoek. Peet is baie lief vir vragmotors en is baie opgewonde oor dié spesiale dag wat vir hom gereël is, sê Maryke.

Meer oor:  Siya Kolisi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.