Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot dorp? Ag nee wat, Orania wil klein stad wees
Clyde Marais, ’n vetplant-kenner in Orania, is gekant teen uitbreidings in dié dorp, want hy is bang bouery verniel die plantegroei.
Yolandi en Sarel Roets, eienaars van die Stokkiesdraai-winkelsentrum op Orania, sien uit dat dié dorp eendag ‘n stad gaan word.
Carel Boshoff, president van die Orania-beweging, is vas oortuig hulle gaan nog van dié Noord-Kaapse dorpie ’n stad maak. Foto’s: Jaco Nel

Die Afrikaner-enklawe Orania, wat aspirasies het om eendag stad te word, is dalk nóú klein, maar sy geldsake word so goed bestuur dat hy geen skuld het nie en omliggende dorpe soms met hul bedenklike finansiële bestuur help.

Dit is ’n gegewe dié wat Carel Boshoff (52), president van die Orania-beweging, soos ’n stout seun laat glimlag, breed en sonder inhibisie, in ’n onderhoud op die dorp met Rapport.

Die stadsvaders hoop hul administratiewe vaardighede kataliseer die groeiproses van Orania se huidige 1 300 siele tot heelwat meer, selfs 10 000, op hierdie eens dorre stuk aarde aan die oewer van die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

Hulle mik hoog: Eendag sal hierdie plek ’n mekka vir Afrikanerkultuur wees.

Boshoff sit met ’n koppie koffie in die Pienk Zebra-koffiewinkel. Oor die luidspreker het pas ’n Theuns Jordaan-treffer gespeel. Nou weerklink die byderwetse klanke van die Kaapse rockgroep Foto na Dans. Die derde snit is ’n Engelse countrytreffer deur Steve Hofmeyr.

“Dit was immers ons plan van die begin af,” se Boshoff terwyl sy gesigsuitdrukking amper vir jou wil sê: “Hou dié spasie dop.”

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van Orania se dorpsraad, het twee jaar gelede die boekie Orania – van dorp tot stad: ’n Nuwe strategie geskryf. Dit is beskikbaar in die dorp en in hierdie 82 bladsye word die teikens van meer inwoners en ewig groter selfbeskikking ondubbelsinnig verwoord.

“Selfwerksaamheid” is die gonswoord, terwyl al die syfers toon gemeenskappe om Orania word al hoe méér afhanklik van die steierende staat.

In 1991 het Boshoff se familie 350 ha grond gekoop om dié dorp te stig. In dieselfde jaar het hulle nog 3 000 ha bygekoop, besproeiingsregte gekry en dit in hoewes verdeel. Teen 2011 het hulle nog 280 ha ryker geword; talle boere in die omgewing het ook al húl plase informeel geïnkorporeer.

Tans groei Orania met meer as 200 inwoners ’n jaar, maar omdat meer erwe binnekort beskikbaar gemaak gaan word, is Boshoff buitengewoon optimisties oor ’n sterk toename.

“Die grond is daar, en die geld is daar,” sê hy. Hul begroting vir die volgende vyf jaar staan op meer as R148 miljoen, ’n lopende begroting wat ’n paar private eienaars se stewige beursies uitsluit.

Omdat Orania glad nie skuld het nie, kon hy al aan munisipaliteite soos Strydenburg en Hopetown finansiële advies bied, iets wat nodig blyk te wees: die Thembelihle-munisipaliteit, waarin Orania val, het sedert 2010 nog nie ’n enkele skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal gekry nie. (Die 2014-’15-verslag het gewys die groter munisipaliteit het ongemagtigde uitgawes van R14,9 miljoen aangegaan en R7,4 miljoen is on­reëlmatig bestee. Nog R2,2 miljoen is óf vrugteloos bestee óf vermors.)

“Vroeër jare was daar ander ouens wat in hul leunstoele voor die kaggel bly sit het terwyl hulle filosofeer oor ’n volkstaat,” sê Boshoff. “Hulle het een ding vergeet. Om so iets op die been te bring is amper soos ’n turksvy: lekker om te eet, maar jy gaan hom self moet skil.”

Vandag beskou Boshoff en kie die woord “volkstaat” as ’n woord met “vieslike bagasie”.

“Ons verkies om te praat van ’n Afrikanerstad,” sê hy. “Kyk, as jy nou praat van Londen, Hongkong of New York, klink dit beslis verspot. Maar dan moet jy onthou, ’n stad is ’n sentrum vir ’n middelpunt. ’n Ruimte vir spesialisering. Ons het gemik om teen die jaar 2000 2 000 mense hier te kry, maar op die harde manier geleer jy beheer nie self die veranderlikes nie. Ons is geduldig.”

Hy duld ook g’n suggestie dat dié ’n mekka vir rassiste is. “Ons het ’n baie streng beleid,” sê Boshoff, “veral teen rassistiese uitsprake in die openbaar.”

Onlangs is ’n inwoner amper uit die dorp verban. “Dié oom het rassistiese dinge kwytgeraak. Ons duld nie haat­spraak nie. Ons het ’n tugverhoor gereël waar hy moes om verskoning vra, anders moes hy Orania verlaat.”

Orania is ook onlangs getrakteer op ’n besoek deur die EFF se Hopetown-tak. ’n “Vriendelike inval,” het die media dit genoem. Dié party is vas oortuig hulle gaan Hopetown se munisipaliteit ná die komende verkiesing wen, en dan sal hulle nie meer ’n “staat” soos Orania duld nie. Danny Jonas, onafhanklike burgemeester van Hopetown, het intussen na die EFF oorgeloop. Boshoff se “kommentaar” staan op sy gesig geskryf: water; eend; rug. “Orania is alles private grond en ons het ’n geldige regsraamwerk wat ons beskerm,” sê hy.

Volgens art. 235 van die Grondwet word selfbeskikking in Suid-Afrika nie belet nie. Enige gemeenskap wat ’n kultuur en taalerfenis deel, is binne ’n territoriale entiteit geregtig hierop.

“Ons is egter nie so naïef om te dink die reg is sterker as politiek nie,” sê Boshoff. “Daarom het ons juis ’n veiligheids- en ’n politieke strategie. Ons politieke strategie behels een woord: engage. Wat maak jy met ’n groep mense wie se harte vol revolusie is? Jy kyk hulle in die oë en beïnvloed die politieke denke ter sprake op een manier: engage.

“Dit sluit sterk aan by ons stadsidee. Jy kan net sterk staan as jy standvastig is. Jy kan dit nie doen wanneer jy soos ’n voël op ’n tak sit nie.”

  • “Ek verwelkom dié stadsidee,” sê Sarel Roets (34), ’n sakeman wat die Stokkiesdraai-winkelkompleks saam met sy vrou, Yolandi (34), besit. Daar is ’n brouery, kuierplek, koffiewinkel, juwelier, mediese sentrum en raamwinkel. “Hoe meer mense hier is, hoe beter gaan dit finansieel vir ons almal wees,” sê Roets. “Ek mik tans meestal op toeriste, maar met meer plaaslike inwoners sal dinge heelwat standvastiger wees.”

“ ’n Klein stad is beter as ’n groot dorp,” sê Willem van As, ’n onderwyser en toergids. “Omdat Orania so klein is, is dinge moeilik. As jy op ’n Sondag dringend by ’n apteek wil wees, kan jy nie.”

“Ek stel nou weer glad nie belang in sulke uitbreidings nie,” sê Clyde Marais (58), ’n vetplantkenner wat by die Skilderhoek-kwekery en -kunsgalery werk. “Ek is hier vir die natuur, die plantegroei en die rivier. Dit is verstommend wat ’n mens alles hier kan sien, en ’n gebouery gaan dit belemmer.”

Meer oor:  Orania
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.