Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot dors uiteindelik geles

Géén pynappel-snaps, likeur of iets wat selfs net ’n prentjie van ’n pynappel op het nie, het in Franco Hallatt (18) se drankwinkeltrollie beland.

“Tuisgemaakte pynappelbier proe net nie dieselfde (as regte drank nie) nie, sê hy en laai ’n bottel wodka in sy trollie.

Hallatt was een van 2 000 klante wat Maandagoggend by die Monument Liquor Warehouse in Krugersdorp geduldig gewag het vir hul koopbeurt.

“Mense het al van 02:00 af voor my winkel se deur begin staan,” sê Damian de Canha, eienaar van Monument Liquor Warehouse.

Hy sê binne die eerste uur vandat sy winkel oopgemaak het, is reeds meer as 500 klante gehelp.

“Ons is dankbaar vir die besigheid en dat ons weer mag oop wees,” sê De Canha.

Klante wag by die deurry by die Monument Liquor Warehouse in Monument, Krugersdorp. Foto: Dennis Delport

Sy drankwinkel het volgens vlak 3-regulasies om 09:00 geopen en 17:00 gesluit. Net 30 mense is op ’n slag in die winkel toegelaat.

Om al die klante betyds te kon help het De Canha ook ’n deurry-gerief aangebied.

Pretorianers het ook Maandag vroegdag al begin toustaan vir ’n nattigheidjie teen die droë winterlug.

“ ’n Mens moet maar . . . die tuisgemaakte brousels is sommer gemors, ek kan nie meer nie,” sê Deon Els (45), wat brandewyn by Castlewalk Liquor City in die ooste van Pretoria gekoop het.

Franco Hallatt (18) sê dit is ’n verligting dat hy nie meer tuisgemaakte pynappelbier hoef te drink nie. Foto: Dennis Delport

Hanlie Venter (62) is die enigste een van haar huishouding wat nie by die werk hoef te wees nie, en is aangewys om almal se voorraad te gaan aanvul.

“Dit was ’n lang droogte,” sê Beaulah Zeiler (38) laggend nadat sy uiteindelik kans gekry het om met haar trollie verby die wynrak te skuif.

Soos by ander drankwinkels is net ’n paar klante op ’n slag ingelaat, maar net as hulle gemasker was, hul hande ontsmet het en hul koors gemeet is.

Hanlie Venter (62) het Maandag by Liquor City in die Castle Walk-sentrum in Pretoria haar drankinkopies gaan doen. Foto: Deaan Vivier

In Limpopo het mense selfs by die werk uitgeglip om die dors te gaan les ná bykans tien weke van inperking.

Twee mans van Bendor, wat anoniem wou bly omdat hulle by hul werk weggesluip het om die drankwinkel te besoek, het gesê al wat hulle wil hê, is bier en brandewyn.

“Ek het my eie mampoer gestook tydens die inperkings. Dit het heel lekker uitgekom, maar ek kan nie wag om weer ’n bier en ’n glas brandewyn te drink nie,” het een van die mans gesê.

Aaron Maloba, ’n inwoner van Polokwane, Limpopo, het bier die meeste gemis tydens die nasionale staat van inperking toe drank nie te koop was nie.

Deon Els (45) meen ook tuisgemaakte brousels is vir nou iets van die verlede. Hy het Maandagoggend dié brousels eenkant toe geskuif en die ware jakob gaan koop by Liquor City in die Castle Walk-sentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Hy het Maandagoggend in ’n kort ry by die Pick n Pay-drankwinkel in die Cycad-winkelsentrum in Bendor sy beurt afgewag om bier te koop.

“Ek het besluit om nie my eie bier te brou nie, ek sien dus uit na my twee kratte Hansa-bier wat ek gaan koop.”

Maloba het nie kans gesien om in die ellelange tou by die Makro-drankwinkel in Polokwane te staan nie.

’n Gemoedelike atmosfeer het in die Pick n Pay-drankwinkel in die Cycad-winkelsentrum geheers.

Dit was ’n lang droogte! Beaulah Zeiler (38) kan uiteindelik weer haar wynvoorrade aanvul nadat alkohol weer verkoop mag word onder vlak 3 van die nasionale inperking. Foto: Deaan Vivier

Yolanda Bleeker, bestuurder van die drankwinkel, het klante in twee rye weerskante van die ingang laat staan. Twee veiligheidswagte het ontsmetmiddel op mense se hande gespuit en elkeen het ’n kaartjie met ’n nommer op gekry voordat hulle by die winkel kon ingaan.

Sy het gesê sy is al 15 jaar bestuurder van die drankwinkel en klante “is gewoonlik geduldig en wag hul beurt af”.

Die Gautengse Drankforum (GLF) het in ’n verklaring die verkope van alkohol onder vlak 3 van die inperking verwelkom. “Ons respekteer die regering se besluit dat alkohol nie op persele gebruik mag word nie, en lede sal by die reëls hou,” lui die verklaring.

Die GLF verteenwoordig verskeie drankwinkels, sjebeens en taverne.

Meer oor:  Verbod  |  Dors  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.