Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Groot gees’ Elsa Joubert dood aan Covid-19
Elsa Joubert. Foto: Natalie Gabriels

Die legendariese Afrikaanse skrywer Elsa Joubert (97), wat Sondagmiddag in Kaapstad aan Covid-19 dood is, was 'n groot gees. So het Christiaan Olwagen, regisseur van die rolprent Poppie Nongena, wat gegrond is op Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena, Sondagaand gesê. “Sy was ’n ongelooflike mens."

Nico Steytler, haar seun, sê sy ma is omstreeks 15:00 Sondagmiddag in die Mediclinic Kaapstad dood. Hy het bevestig dat sy aan die gevreesde Covid-19-virussiekte dood is.

Joubert was ’n inwoner van die Berghof-aftreeoord in Tuine, Kaapstad. Sy het sedert 1998 daar gewoon nadat haar man, Klaas Steytler, dood is. Steytler was ook 'n skrywer en oudredakteur van Huisgenoot

Netwerk24 het in Mei ’n brief van Joubert gepubliseer waarin sy gevra het dat die streng inperkingsmaatreëls vir bejaardes buigsamer moet wees sodat besoeke toegelaat word.

“Menslik gesproke is ons in die laaste maande en weke van ons lewe. En ons wat in tehuise en inrigtings bly, hoe wonderlik ook al, is totaal van ons familielede afgesny.”

Steytler sê sy ma het op Woensdag, 3 Junie siek geword. Die Covid 19-virussiekte is op Saterdag, 6 Junie by haar gediagnoseer.

Prof. Nico Steytler, regskenner en skrywer, het sy ma se dood bevestig. Foto: Deon Raath

Joubert is die volgende dag in die nabygeleë Mediclinic opgeneem. Sy was in ’n saal waar slegs Covid-19-pasiënte behandel word.

Steytler sê hy kon sy ma besoek die Vrydag voordat sy in die hospitaal opgeneem is en was ook op Sondag, 8 Junie by haar in die hospitaal.

“Ek is nou in selfisolasie omdat ek met haar in aanraking was,” het Steytler gesê. Hy het teen Sondagaand nog geen simptome van Covid-19 getoon nie.

Hy sê sy ma se siekte en dood is ’n groot skok.

“Al was sy baie oud, was sy so vol lewe.”

Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB Uitgewers, het Sondagaand gesê hy is geskok oor Joubert se dood.

Olwagen sê wat Joubert so merkwaardig gemaak het, is dat sy ’n intellektuele reus was, “maar ook ’n gewone vrou. Sy was hierdie groot gees in ’n klein lyfie. Sy was ’n ongelooflike mens. Ek was bevoorreg om haar te kon ontmoet".

Sy was hierdie groot gees in ’n klein lyfie.

Hy sê Joubert se lewe moet gevier word.

Joubert het die brief wat sy in Mei geskryf  het aan haar huisdokter, dr. Hans Woermann, gerig. Hierin het sy gesê hoe belangrik besoeke van kinders aan bejaardes in tehuise is.

Sy het geskryf dat sy kwyn daarsonder. “Telefone en video’s en Skype is nie genoeg nie. Dit is ook nie dieselfde nie.”

Boodskappe van medelye aan Joubert se familie het Sondagaand op sosiale media ingestroom.

Steytler sê die familie moet nog reëlings tref vir ’n roudiens vir Joubert. Sy laat ook twee dogters, Elsabe en Henriëtte, agter.

'Gawe van breed en stip kyk'

Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB-uitgewers, sê toe hy saam met Solette Swanepoel van Tafelberg die publikasie van Spertyd meegemaak het, het hy onder die indruk van Joubert se ruimheid van gees gekom.

"Ook van haar verbysterende intellek en haar groot nederigheid."

Hy sê sy kon die een oomblik in verstommende besonderhede praat oor die gebeure van 80, 90 jaar gelede en dan weer oor aktuele sake van die dag.

"Die gawe van breed en stip kyk, dit was hare. Om werklik aan haar nalatenskap reg te laat geskied, daarvoor ontbreek die woorde helaas."

Die Suid-Afrikaanse skrywer, Marita van der Vyver, wat in Frankryk woon, het Sondagaand op Facebook geskryf; “Spertyd vir Elsa Joubert. Dit word ‘n nare, nare maand vir legendariese Afrikaanse vroue wat skryf.”

Joubert se dood kom kort na die dood van nog ‘n bekende skrywer, Jeanne Goosen.

Van der Vyver skryf Joubert was haar tyd ver vooruit. “Sy was ons almal se voorloper. Ek voel verlore vanaand.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.