Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Groot geld’ glo by Eugene de Kock gesteel
Eugene de Kock, voormalige Vlakplaas-bevelvoerder. Foto: Argief

’n Klag is vandeesweek by die polisie ingedien nadat ’n persoon bekend aan Eugene de Kock, voormalige Vlakplaas-bevelvoerder onder apartheid, glo “groot geld” uit sy bankrekening gesteel het.

Dit volg nadat die trust wat De Kock bystaan, bewerings voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping laat ondersoek het dat hy betalings gekry het van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA).

Dié ondersoek het bevind dat die bewerings nie gestaaf kan word nie, maar in die proses het dit geblyk dat daar sonder De Kock se toestemming geld uit sy bankrekening onttrek is.

De Kock, wat in 2015 op parool vrygelaat is, lewe glo die afgelope ruk van aalmoese, hoewel die SVA betaal vir sy verblyf, skoonmaak- en beskermingsdienste.

Ingevolge sy paroolvoorwaardes mag hy glo nie met die media praat nie.

Hennie Heymans, sekretaris van die Nongqai-trust, wat De Kock van onder meer sielkundige berading voorsien, sê hulle is onkant betrap deur die beweerde diefstal.

“Ons is tot in ons fondamente geskok dat iemand ’n persoon wat aan erge depressie en post-traumatiese stres ly se geld gesteel het,” sê hy.

De Kock was hoof van ’n geheime eenheid wat anti-apartheidsaktiviste in die 1980’s tot in die vroeë 1990’s ontvoer, gemartel en vermoor het.

Die trust het besluit om die ondersoek te gelas nadat ene mev. K verlede jaar voor die Zondo-kommissie getuig het dat die SVA tussen R100 000 en R200 000 per maand vir De Kock se onderhoud opgedok het, wat ’n salaris van R40 000 per maand ingesluit het.

Mev. K het voorts getuig dat sy nie eerstehandse kennis hiervan dra nie, maar dat sy ’n geskrewe verslag daaroor van een van haar kollegas onder oë gehad het.

Ons is tot in ons fondamente geskok dat iemand ’n persoon wat aan erge depressie en post-traumatiese stres ly se geld gesteel het.

Haar getuienis het die beëdigde verklaring van ene Mnr. Y gestaaf, wat by die kommissie ingedien is.

Johan Botha van Botha-rekenmeesters, wat die ondersoek gedoen het, sê De Kock was gewillig om sy samewerking te gee en dat hy sy bankstate verskaf het.

Omdat Botha se dienste duur is, het hy slegs De Kock se geldsake vanaf 2019 ondersoek. Volgens hom is dit wel moontlik dat die SVA meer as R100 000 vir beskerming- en skoonmaakdienste vir De Kock betaal.

“Ek kon egter nie vasstel dat die bedrae van R40 000 in De Kock se bankrekening inbetaal is nie, maar ek het agtergekom dat geld uit die rekening geneem is waarvan hy nie bewus was nie,” sê Botha.

Hy het bygelas: “Ons praat van groot geld.”

Volgens Botha het hy die vermeende dief, wie se identiteit hy nie bekend wil maak nie, hieroor gekonfronteer, waarna hy vir De Kock na die kommersiële tak van die polisie in Visagiestraat, Pretoria, vergesel het.

Ek kon egter nie vasstel dat die bedrae van R40 000 in De Kock se bankrekening inbetaal is nie, maar ek het agtergekom dat geld uit die rekening geneem is waarvan hy nie bewus was nie.

’n Klag is ingedien, het Botha, wat ’n saaknommer verskaf het, sowel as Heymans, bevestig.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke in Gauteng, het nie Vrydag op navrae gereageer nie.

Volgens Heymans woon De Kock se vrou en kinders tans in die buiteland. “Ons gee vir hom om, want indien ons nie na hom omsien nie, wie gaan?”

Die Nongqai-trust

Volgens Heymans is die Nongqai-trust, ’n niewinsgewende organisasie, gestig om behoeftige mense, wat betrokke was in die bekamping van misdaad, by te staan wat sorg betref, asook om sielkundige behandeling te gee indien die persoon weens hul werk aan posttraumatiese stresversteuring ly.

Die trust is deur De Kock vir hulp genader, en sy aansoek is deur die trust goedgekeur.
Heymans sê hulle het die ondersoek weens die bewerings voor die Zondo-kommissie gelas omdat hulle nie De Kock wou bystaan indien hy ’n salaris van R40 000 per maand verdien het nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.