Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot gespook om jagter te red nadat buffel hom gaffel
F.C. Prinsloo
Estelle Prinsloo (in die wit baadjie) by die helikopter wat haar man, F.C., ‘n beroepsjagter wat deur ‘n buffel gegaffel is, Dinsdag vanaf Musina na Polokwane gevlieg het. Foto: Verskaf

Kollegas het ure lank gesukkel om ’n jagter van Limpopo Dinsdag uit ’n verafgeleë en beboste gebied digby die Krugerwildtuin te red nadat ’n buffelbul hom gegaffel het.

F.C. Prinsloo (43), ‘n beroepsjagter van Limpopo is ernstig beseer toe ‘n buffelbul hom gegaffel het.Foto: Verskaf

F.C. Prinsloo (43) van Modimolle (Nylstroom) is ’n beroepsjagter by die Bushmans Quiver Quality African Safaris en veg om sy lewe in die staatshospitaal in Polokwane.

Een van die verwoede buffelbul se horings het Prinsloo se regterbeen deurboor en die ander horing het deur sy bors gesteek, sê Stephan van der Merwe, eienaar van Bushmans Quiver Quality African Safaris, wat deel was van die groep mense wat Prinsloo gered het.

“Van sy gebreekte ribbe het ’n gat in sy een long gesteek,” sê Van der Merwe.

Die drama het Dinsdag naby die Makuya-wildreservaat, sowat 300 km noordoos van Polokwane, wat aan die Pafuri-gebied van die Krugerwildtuin grens, gebeur.

Van der Merwe en Prinsloo was op ’n jagtog in die gebied en het saam met spoorsnyers langs ’n rivier geloop.

“Ons het nié die buffel gejag nie. As dit nie vir stropers was wat draadstrikke in die veld gestel het nie, het niks gebeur nie.” sê Van der Merwe.

Prinsloo is in die digte bos verras deur die ou buffelbul, wat ’n draadstrik om sy linkervoorbeen gehad het. Die strik is deur stropers in die veld gestel. Die verwoede dier het erge pyn gehad waar die draad deur sy vel gesny het en hy het Prinsloo bestorm voordat hy in die veld verdwyn het.

’n Spoorsnyer het Van der Merwe, wat sowat tien minute weg was, gaan roep.

Van der Merwe en Chris van der Westhuizen van die Makuya-wildreservaat, is saam met die spoorsnyers na die beseerde Prinsloo.

Die handgemaakte draagbaar van takke waarop F.C. Prinsloo, professionele jagter van Limpopo, getel is nadat ‘n buffelbul hom met sy horings deurboor het.Foto: Verskaf

Hulle het ’n draagbaar geprakseer met boomtakke en die materiaal van die geweersakke waarin hul gewere gedra is.

Intussen moes hulle sorg dat Prinsloo, wat in verskriklike pyn was, nie sy bewussyn verloor nie.

“Ek het die hele tyd met hom gepraat om hom wakker te hou,” sê Van der Merwe. Hulle het ook ’n private helikopter ontbied om Prinsloo uit die digte bos te kry.

Die reddingspoging het ook behels dat hulle Prinsloo op die selfgemaakte draagbaar in die bos by ’n koppie afdra tot waar die private helikopter hom kon optel.

Van der Merwe sê dit was so twee en ’n half uur vandat hy by Prinsloo gekom het, totdat die beseerde man in die helikopter gelaai is. Die nooddienste is intussen ontbied en ’n ambulans van die departement van gesondheid in Limpopo het Prinsloo op ’n teerpad in die Masisi-gebied opgelaai.

Vandaar is ’n tog van sowat 120 km na Musina afgelê, waar Prinsloo in die provinsiale hospitaal gestabiliseer is.

Hy is toe per helikopter na die staatshospitaal in Polokwane, sowat 190 km suid van Musina, vervoer.

Sy vrou, Estelle, is langs haar man se sy vandat hy die hospitaal aangekom het. Prinsloo is in die waakeenheid van die hospitaal.

“As dit nie vir die krag van die Heilige Gees was nie, was dit nie moontlik om F.C. te red nie,” sê Van der Merwe.

buffel, gaffel, grafika24,

Prinsloo behoort nie tot ’n mediese fonds nie en die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika se bewarings- en bemagtigingsfonds het begin om geld in te samel sodat hy na ’n private hospitaal in Polokwane oorgeplaas kan word. Klik hier vir meer inligting.

Van der Merwe sê sy mediese onkoste kan honderdduisende rande beloop.

“Gebede stroom van reg oor die wêreld in vir hom. F.C. is ’n yster en ons glo hy gaan volkome herstel.”

Veldwagters by die Makuya-wildreservaat soek na die beseerde buffelbul om hom uit sy lyding te verlos.

Meer oor:  Buffel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.