Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groot Mighty Families-konferensie by Bfn beplan
Die paneel vir die Mighty Families-konferensie wat by Bloemfontein beplan word. Van links is Klaas Els, ondervoorsitter, Nolan van Wyk, wat die bekendstelling in Heidedal sal behartig, dr. Arno van Niekerk, voorsitter, William Porotloane, wat die bekendstelling in Rocklands en Botshabelo sal behartig, en Ollie le Roux, oud-Springbok-rugbyspeler op wie se plaas Wilde Als buite Bloemfontein die byeenkoms gaan plaasvind.Foto: Lientjie Mentz

’n Groot Mighty Families-konferensie word vir Maart volgende jaar op die oud-Springbok Ollie le Roux se plaas Wilde Als by Bloemfontein beplan.

Dit is dieselfde plaas waarop die It’s Time-byeenkoms met Angus Buchan vroeër vanjaar gehou en deur honderdduisende mense bygewoon is.

So het dr. Arno van Niekerk, senior lektor en ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), Maandag op ’n mediakonferensie in die Rosestad gesê. Hy is voorsitter van die paneel wat die Mighty Families-konferensie by die stad reël.

Van Niekerk skrywer van die boek, Genoeg! Hoekom is ons hier?, sê Mighty Families beloof om ’n besondere belewenis in die Here se teenwoordigheid te wees. Gesinne uit verskillende dele van die samelewing sal bedien word.

Die konferensie word vir Vrydag 16 tot Sondag 18 Maart beplan.

Ons land beleef ’n kommerwekkende tyd waarin familiestrukture geleidelik uitmekaarval. Die hartklop van Mighty Families is om genesing in gesinsverband te bring, huwelike op die rand van egskeiding te probeer red, en die harte van kinders en hulle ouers nader aan mekaar te probeer bring.

Kampplek vir 20 000 gesinne sal op die terrein beskikbaar gestel word sodat mense die konferensie in gesinsverband kan bywoon. “Diegene wie se gesin uit een mens bestaan, is ook welkom,” sê Van Niekerk.

“Ons land beleef ’n kommerwekkende tyd waarin familiestrukture geleidelik uitmekaarval. Die hartklop van Mighty Families is om genesing in gesinsverband te bring, huwelike op die rand van egskeiding te probeer red, en die harte van kinders en hulle ouers nader aan mekaar te probeer bring,” sê Van Niekerk.

Dit is soos wat dit in Maleagi 4:6 staan.

“Die klem gaan veral op diversiteit val waar almal welkom is om die geleentheid met goeie Woordbediening, lof en aanbidding mee te maak.

“Die sang sal gelei word deur Heinz Winckler en sy vrou, Aletté.”

Van Niekerk sê verskeie nasionaal erkende sprekers, onder wie mans en vroue van verskillende rassegroepe, sal optree. Name sal later bekend gemaak word.

“Buchan sal weer as spreker genooi word, maar dit is nie te sê dat hy die uitnodiging sal aanvaar nie. Dié byeenkoms val nie onder Shalom Ministeries nie.”

Geleentheid vir berading en gebed sal geskep word.

Van Niekerk sê Mighty Families se visie is om die mense van Suid-Afrika te inspireer om die klem weer op goeie, Bybelse gesinswaardes te lê. “Die land moet met sterk gesinne herbou word.

“Vandaar ons leuse: Strong families, strong nation.”

Hy sê dit gaan ’n gebeurtenis wees waar Jesus sentraal staan.

“Ons vertrou dat die goeie saad wat met die It’s Time-byeenkoms geplant is deur Mighty Families voortgesit sal word om nuwe hoop en visie in Suid-Afrika te bring. “Gelowiges moet ook hierdeur geaktiveer word om ’n positiewe verskil in hul gemeenskappe te maak. Ons hoop ook dat kerke hierby baat sal vind. Mighty Families beklemtoon die belangrikheid van geestelike families en die kritiek belangrike rol wat gemeentes moet speel in ons gemeenskappe se nood, fisiek en moreel.”

Die uiteindelike doel is om ’n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se genesing te lewer – tussen verskillende rassegroepe, in gesinsverband en spesifiek in die huwelik.

“Ons glo Jesus Christus is die redder van Suid-Afrika.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.