Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Groote Kerk gee slagoffers van apartheid kans om stories te deel
Die stampvol saal van die Groote Kerk in Kaapstad tydens ’n diens. Foto: Luigi Bennett

Die Groote Kerk in Kaapstad gaan aanstaande maand ’n geleentheid aanbied vir mense om “hulself in die skoene te kom plaas” van mense wat slagoffers van apartheid was en vir dié mense ’n kans gee om hul ervarings te deel.

Dié NG gemeente in Kaapstad se middestad het Woensdag uitnodigings gestuur vir ’n spesiale byeenkoms op Menseregtedag van 09:00 tot 17:00.


Ds. Riaan de Villiers van die Groote Kerk in Kaapstad.Foto: grootekerk.org.za

“Ons nooi in besonder diegene wat op geen manier negatief geraak is tydens apartheid nie om vir ’n oomblik hulself in die skoene te kom plaas van hul medemense wie se vryheid, waardigheid en lewe wel gewelddadig deur dié bose stelsel van hulle af weggeruk is,” lui die uitnodiging op die gemeente se Facebook-blad.

“Op die byeenkoms sal ons die stories vertel van hulle wat verneder, ontheem, gemartel, en vermoor is deur ’n stelsel en ideologie wat sommige vandag nog probeer regverdig en verdedig.”

Ds. Riaan de Villiers van die Groote Kerk het Donderdag by navraag gesê die kerkraad beskou die byeenkoms op 21 Maart as ’n baie belangrike geleentheid “wat sterk ondersteuning in die kerkraad en gemeente geniet”.

“Veral in die lig van die onlangse uitlating en woede oor of apartheid as misdaad teen die mensdom beskou behoort te word of nie, het ons besef dit is tyd vir minder praat en meer luister. Dit moes eintlik al vroeër en op meer plekke in ons land gebeur het.”

De Villiers sê die kerk wil “ons broers en susters wat onder apartheid gely het in die oë kyk en vergifnis vra vir die pyn, lyding en vernedering wat hulle verduur het”.

“Ons wil mense se stories hoor en saam met hulle treur en vra hoe is dit moontlik dat selfs die Bybel in die stryd gewerp is om legitimiteit te verskaf aan ’n apartheidstelsel waaronder daar so baie menseregtevergrype plaasgevind het.”

Volgens De Villiers is daar reeds reaksie van mense wat die geleentheid wil bywoon en mense wat bereid is om hul stories te deel.

Daar is ook verskeie NG Kerk-predikante wat aangedui het dat hulle gaan deelneem.

“Ons hoop dat daar meer sulke inisiatiewe in ons dorpe en stede sal plaasvind in die jare wat kom, waar mense bereid sal wees om te luister en te verstaan wat die invloed van die apartheidstelsel was en dat dit ons samelewing en die samehorigheid in ons land groot skade berokken het en ’n lang tyd gaan neem om te herstel.”

Op die kerk se Facebook-profiel word die uitnodiging gerig aan enigiemand wat meen dat “apartheid sleg was, maar nie as ’n misdaad teen die mensdom beskryf behoort te word nie”.

Die NG Groote Kerk in Adderleystraat, Kaapstad.Foto: Liza van Deventer

“Dit doen ons binne die vier mure van die oudste NG Kerk gemeente in Suid Afrika – dieselfde vier mure waarbinne die apartheidstaat sy presidente ingehuldig het; waar die stelsel deur gebed en prediking geheilig en bevorder is; waarbinne daar téén vryheid en die evangelie gekies is.”

Luidens die verklaring is die gemeente diep bewus van sy eie geskiedenis en wil hy probeer om sover moontlik “verantwoordelikheid te neem vir ons eie aandeel in die onreg wat deur die bose stelsel van apartheid in ons land gepleeg is”.

Die kerk bied ’n “ongekwalifiseerde verskoning” aan en spreek sy berou uit “vir die leed, verlies en geweld wat ook in ons naam en onder ons toesig aan ons medemense gedoen is”.

Verder sê die kerk hy is dankbaar teenoor die lidmate, predikante en sinodes wat besluit het om apartheid tot sonde te verklaar en daaroor belydenis gedoen het.

“Maar ons betreur die feit dat die kerk nog nie ’n gestruktureerde proses in werking gestel het om haar lidmate te help om die skade en invloed van apartheid te verwerk en reg te stel nie.”

De Villiers en die Groote Kerk het verlede jaar onder kritiek deurgeloop oor ’n intergeloofsbyeenkoms in Maart waar daar vir slagoffers van terreuraanvalle in Nieu-Seeland gebid is.

Hy is toe van dwaalleer beskuldig nadat De Villiers na Moslems as “broers en susters” verwys het en gesê het dat Jesus ook oor die dood van Moslems sou huil.

Die Groote Kerk sal op Sondag 22 Maart ook ’n spesiale erediens met vader Michael Lapsley aanbied, wat in 1990 die slagoffer van ’n briefbom van die apartheidstaat was.

NG-predikante wat wil deelneem om die verhale van apartheidslagoffers te lees of slagoffers wat hul ervarings self wil deel, kan De Villiers by riaandev@gmail.com kontak om die geleentheid by te woon.

Meer oor:  Stories  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.