Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Grootste veiling nóg van ou motors in SA in Johannesburg

Versamelaars van sover as die Midde-Ooste, Duitsland en Dubai het vandeesweek na Suid-Afrika gekom vir een van die grootste veilings van veteraan-motors tot nog toe.

Altesame 140 van Louis Coetzer van Bloemfontein se versameling van 350 skaars en gesogte veteraanmotors sal na verwagting miljoene rand op die veiling in Johannesburg haal.

Coetzer en sy vrou, Hermien, is in Januarie saam dood toe hul viertrekvoertuig van ’n krans in die Naudésnek-pas tussen Rhodes en Barkly-Oos-In die Noordoos-Kaap gestort het.

Joff van Reenen, uitvoerende hoof van High Street Auctions in Johannesburg, sê die vertoonlokale wat van Maandag tot Vrydag oop was vir besoekers om na die motors te kom kyk, was heel week oorvol.

“Ons het omtrent nie stilgesit nie. Daar was honderde mense wat kom kyk het hoe die motors lyk,” sê Van Reenen.

“Daar is ’n hele paar skatte in die versameling. Motors wat mense nie eens geweet het bestaan nie,” sê hy met spesifieke verwysing na ’n 1957 Mercedes Benz Ponton-stasiewa.

'n Groot foto van Louis Coetzer en sy vrou, Hermien, hang in die vertoonlokaal van The High Street Auction Co waar 140 van sy versameling van 350 veteraanmotors Saterdag opgeveil word. Die egpaar is in Januarie dood toe hul viertrekbakkie van 'n krans in die Naudésnek-pas tussen Rhodes en Barkly-Oos afgestort het. Foto: Linkie Bessinger

Van Reenen sê dis veral ’n Mercedes Benz Coupé en ’n Pontiac Parisienne uit die 1960’s waarop veteraanmotor-versamelaars hul hande gaan probeer kry.

“Die hele versameling en elke motor wat daarvan deel vorm is besonders.”

Heinrich Janse van Vuuren (21) het saam met sy pa vir Coetzer gewerk en gehelp met die restourasie van die motors.

“As die motors kon praat, sou hulle boeke vol stories vertel.”

Hy sê as hy enige motor vir homself kon hou, sou dit ’n kanariegeel Chevrolet Corvette C4 wees.

‘n 1973 Chevrolet Ranger met ’n unieke wapen van die springbok op is deel van die versameling van Louis Coetzer van Bloemfontein wat Saterdag in Johannesburg opgeveil word. Hierdie motors is in die land gemaak. Foto: Linkie Bessinger

Jayden Meyer (9) het saam met sy pa met groot bewondering na al die motors kom kyk. Hy sê sy grootste droom is om eendag in enige van die klassieke Mercedes Benz-motors in die stad rond te rits.

Slegs 100 uitgenooide versamelaars sal Saterdag die veiling by die Creative Rides-vertoonlokaal in Johannesburg kan bywoon.

“Ander belangstellendes sal op ’n virtuele veiling kan kyk en hul botte maak,” sê Van Reenen.

Volgens hom is die Louis Coetzer-versamelingsveiling die grootste veiling wat Suid-Afrika en selfs die wêreld al gesien het.

Van Reenen en sy span by High Street Auctions en Creative Rides beplan al van Maart vanjaar aan die veiling.

“Dit was ’n enorme taak om die motors tot in Johannesburg te kry.”

“Daar het ses weke lank elke dag twee vragmotors vol spogmotors by ons aangekom soos ons die versameling van Bloemfontein hierheen moes vervoer.”

Van Reenen sê hulle kan nie glo die dag het uiteindelik aangebreek waarop hulle ander motorliefhebbers kan help om hul versameling uit te brei én lewe te blaas in die Louis Coetzer-legende nie.

Jayden Meyer (9) van Johannesburg het met groot bewondering kom kyk na die motors wat Saterdag in Johannesburg onder die hamer kom. Hier staan hy langs ‘n 1959 Chevrolet Kingswood-stasiewa. Dit sal na verwagting Saterdag een van die gewildste motors op die veiling wees. Foto: Linkie Bessinger
Groot belangstelling van oor die wêreld heers in die Louis Coetzer-versameling veteraanmotors wat Saterdag in Johannesburg opgeveil word. Motors soos hierdie rare 1959 Chevrolet Kingswood-stasiewa lok groot belangstelling onder versamelaars. Foto: Linkie Bessinger
'n Deel van die gesogte veteraanmotorversameling van Louis Coetzer van Bloemfontein wat Saterdag by The High Street Auction Co in Johannesburg opgeveil word. Sowat 140 baie skaars ou motors gaan na verwagting tot miljoene rand elk haal. Foto: Linkie Bessinger

Meer oor:  Louis Coetzer  |  Veteraanmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.